Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Amerikaners vereer Vrystaatse boorling wat man se lewe red

“As jy iets het om vir jou geliefdes te sê, doen dit dadelik, want môre kan dalk te laat wees.”

Dít was die les wat Marius van Eeden (38), ’n mariene ingenieur van Fort Lauderdale in Amerika, geleer het toe hy in November verlede jaar ’n bejaarde man van ’n gewisse dood gered het.

Van Eeden, ’n boorling van Bethlehem in die Vrystaat, is op 17 Januarie deur die brand-en-reddingsafdeling van Pembroke Pines, ’n nabygeleë stad, met die Phoenix-prys vereer nadat hy kardiopulmonêre resussitasie (KPR) op die bejaarde man, wie se naam nie bekend gemaak is nie, toegepas het.

Die Phoenix-prys is die hoogste eerbewys wat dié brand-en-reddingsafdeling aan ’n burgerlike gee en dit is die eerste keer in sowat 11 jaar dat dit toegeken word.

Marius van Eeden Foto: Facebook / Marius van Eeden

Van Eeden kon ná die reddingspoging nie slaap nie en het dadelik aan sy ouers, Sarel en Marietjie van Eeden van Bethlehem, ’n boodskap gestuur waarin hy hulle bedank dat hulle “die beste ouers in die wêreld” is.

’n Trotse Marietjie sê dit is ’n groot eer wat hul seun te beurt val.

Volgens Marietjie het haar seun en ’n kollega op 27 November verlede jaar ’n potjie gholf in Palm Beach gaan speel toe ’n man skielik uit sy gholfkarretjie geval het.

“Hy (Van Eeden) het hom na die man gehaas, geen polsslag gevoel nie en dadelik KPR gedoen. Ná die eerste probeerslag het hy ’n polsslag gekry, maar dit weer verloor.”

Die nooddienste is intussen na die gholfbaan ontbied.

Marietjie sê Van Eeden het met die derde probeerslag weer ’n polsslag gekry.

Toe die nooddienste opdaag, is die man na ’n hospitaal geneem, waar bevind is dat een van sy are 100% verstop en nog ’n aar 50% verstop was.

“As dit nie vir Marius was nie, was hy nie meer hier nie.”

Marietjie sê kort ná die voorval het die man Van Eeden gebel om hom te bedank en te benadruk dat dit aan hom te danke is dat hy nog leef.

“Om te sê ons is trots, stel dit nie sterk genoeg nie. Dit is ’n groot eer en ons is verskriklik trots op hom.”

Marius Van Eeden, vyfde van links, kort nadat hy deur Pembroke Pines se brand-en-reddingsafdeling met die Phoenix-prys vereer is. Foto: Facebook / Pembroke Pines Fire Rescue Department

Meer oor:  Vrystaat  |  Bethlehem  |  Held  |  Heldedaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.