Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: Artritis, kanker, swak sig ... Ouma hekel vir weesbabas

’n Ouma van Pretoria hekel ’n hond uit ’n bos aan babakombersies vir ’n goeie doel – en dít ten spyte van swak sig, artritis en kanker.

Marie Tromp (88) van die Kingswood Village-aftreeoord het agt jaar gelede begin om babakombersies vir familie en vriende te hekel. Verskillende kleure wol word saamgeflans om telkens ’n pragstuk te maak.

Marie Tromp het al meer as 500 babakombersies gehekel vir weggooibabas. Foto: Melinda Stuurman

Die waardering wat hulle daarvoor gehad het, het haar gemotiveer om daarmee aan te hou. Sy het een dag egter besef dat sy hope en hope kombersies het, maar nie weet wat om daarmee te doen nie.

Tromp is nou by die East View-Metodistekerk se uitreikprogram deur kinderwelsyn aan Dove’s Nest en Tshwane Home of Hope betrokke. Dié twee fasiliteite sien na weesbabas om. Tromp het dit goedgedink om haar gehekelde kombersies vir dié kindertjies te gee.

Marie Tromp se hart borrel wanneer sy ’n gehekelde kombersie vir iemand gee wat dit nodig het of graag wil hê. Foto: Melinda Stuurman

Tromp het sedertdien al meer as 500 kombersies vir weggooibabas gehekel. Elke kombersie is uniek met verskillende kleure en patrone, maar dit is met dieselfde hoeveelheid liefde gedoen.

“Dit lê my baie na aan die hart dat ek vir klein babas wat weggegooi is, iets kan doen. Iewers is daar ’n baba wat ’n kombersie het wat ek gemaak het,” sê Tromp.

“Vir my is dit ook ’n riem onder die hart, want ek sit nie net en voel miserabel nie. En dit is iets om my besig te hou, so dit hou my uit die kwaad uit.”

Om te gee, skep ook ’n gevoel van warmte in haar hart.

Marie Tromp van ’n aftreeoord in Pretoria hekel graag kombersies vir weesbabas. Foto: Melinda Stuurman

“Die oomblik as ek aan jou gesig kan sien dat jy hiervan hou en dit waardeer, dan gee ek dit só graag vir jou, want dit maak my gelukkig. Dit gee my ’n boost,” sê sy. “En partykeer as ek enetjie gemaak het, dan dink ek, oe, ek hou van hom! – en ek is seker iemand anders gaan ook daarvan hou. Dit is so ’n lekker gevoel.”

Tromp was net agt jaar oud toe haar ma haar leer hekel het.

Voorheen het dit haar ongeveer drie dae geneem om ’n kombersie te voltooi, maar deesdae maak sy ’n kombersie in so nege dae. Pankreaskanker in fase 4 is in November by haar gediagnoseer en sy het baie pyn. Die kanker het ook al na haar lewer versprei.

Marie Tromp (88) laat nie toe dat artritis haar keer om spesiale babakombersies vir weesbabas te hekel nie. Sy maak elke kombersie na die beste van haar vermoë. Foto: Melinda Stuurman

Haar sig is ook baie swak as gevolg van makulêre degenerasie. Dit is in haar 50’s by haar gediagnoseer, maar dit het sedert haar middel 70’s baie vererger.

Boonop het sy artritis, sy is ’n diabeet en sy hoor nie meer so goed nie.

“Ek geniet dit (om kombersies te hekel) en ek hou maar aan en kyk hoe gaan dit. Ek kan regtig nie kla nie en ek voel party dae regtig goed, maar daar is dae waar ek nie altyd so lekker voel nie.”

Volgens Wilma Cloete, ’n niggie wat na Tromp se belange omsien, het Tromp altyd ’n positiewe ingesteldheid en niks kry haar onder nie.

Verskillende kleure wol word saamgeflans om ’n pragtige gehekelde kombersie te maak. Elke kombersie is uniek met sy eie kleure en patrone. Foto: Melinda Stuurman

Hoewel die babakombersies Tromp se eie handewerk is, sal Cloete en ’n vriendin, Marianne van Gelder, net ’n handjie bysit om die los stukkies in te werk.

“Ek probeer dit maak na die beste van my vermoë, want ek hekel nie meer baie goed nie – ons hoop maar net niemand kom dit agter nie,” skerts sy.

“Elke kombersie, hoop ek, bring die liefde oor wat ek in my hart voel vir babas.”

Benewens hekel doen sy onder meer mosaïek en sy speel woordspeletjies op haar tablet. Tromp verf en brei verder graag, terwyl sy vroeër jare ook borduurwerk en pottebakkery gedoen het. Sy is ook lief vir reis.

“Sy kan nie stilsit nie, sy is altyd besig met ietsie,” sê Cloete.

Tromp het twee kinders, twee kleinkinders en een agterkleinkind wat oorsee woon.

Meer oor:  Babas  |  Ouma  |  Liefdadigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.