Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
As ouers nou onnies word

Al meer ouers lei formele tuisonderrig vir hul kinders.
Weens die Covid-19-pandemie moet ouers skielik tuis instaan as onderwysers. Maar wat presies behels formele tuisonderrig? Terésa Coetzee vind uit.

Met die aanvang van die inperking was ouers van kinders wat tuisonderrig ontvang, in ’n beter posisie as dié met kinders in staat- of private skole.

Laasgenoemde moes skielik rondskarrel om te leer hoe dit werk as klasse aanlyn gestroom word, en data in baie huishoudings het ’n groot nagmerrie geword. Hoe gemaak as jy een rekenaar en drie kinders het?

Coleen Cronje, die uitvoerende hoof van Breinlyn-tuisonderrig, sê wat ouers nou doen en formele tuisonderrig is glad nie vergelykbaar nie.

“Dis soos om ’n kind met een been langs ’n kind met twee te laat hardloop. Wanneer jy deur ’n geregistreerde kurrikulum-verskaffer tuisonderrig doen, kry jy byvoorbeeld die hele kurrikulum vir die jaar, regstreekse webinare word aangebied, en assessering word verskaf.”

Dis ook duidelik dat ál meer ouers nou oorweeg om hul kinders tuis te onderrig eerder as om hulle midde-in die pandemie terug te stuur skool toe.

Dis ook duidelik dat ál meer ouers nou oorweeg om hul kinders tuis te onderrig eerder as om hulle midde-in die pandemie terug te stuur skool toe.

Volgens Louise Schoonwinkel, die besturende direkteur van Optimi Home (die maatskappy wat Impaq bestuur), het hulle die afgelope tyd geweldig baie navrae van ouers gekry wat tuisonderrig vir die res van die jaar wil doen.

Die algemeenste vraag wat Louise kry, is of jy nou nog kan inskryf en of kinders hul skoolwerk sal kan inhaal waarmee hulle agtergeraak het.

Sy sê die antwoord is ’n onomwonde “ja” en ouers het tyd tot Augustus om vir 2020 se akademiese skooljaar in te skryf.

Wat is die voordele?

Coleen en Louise sê daar is baie voordele. Die grootste daarvan is waarskynlik die individuele aandag wat jou kind gaan kry.

Baie ouers wat tuisonderrig doen sê die rustige, huislike omgewing laat hul kinders minder gespanne voel.

Baie ouers wat tuisonderrig doen sê die rustige, huislike omgewing laat hul kinders minder gespanne voel.

Ouers kan makliker probleme identifiseer, agterkom wat hul kind se sterk punte is en wat meer aandag moet kry.

Jul tyd is meer buigsaam. Party kinders funksioneer nie so goed vroegoggend of laatmiddag nie en jy kan die leertye daarvolgens inrig. Jy is nie gebonde aan skoolvakansies nie en daar is selfs ouers wat besluit om ’n jaar te reis terwyl hulle hul kinders self onderrig.

Kinders wat tuisonderrig ontvang, leer van ’n jong ouderdom om selfstandiger te werk en selfgerigte leer word aangemoedig.

Die nadele van tuisonderrig

Kinders is uniek en jy moet self bepaal of jou kind liewer in groot groepe floreer.

Kinders is uniek en jy moet self bepaal of jou kind liewer in groot groepe floreer.

Natuurlik is daar die sosiale aspek van skole wat ’n rol speel, belangrike lesse word tydens pouses op die speelgrond geleer en baie skole het lekker tradisies waarvan kinders deel voel.

Hoekom tuisonderrig?

Op die oomblik is die vrees vir Covid-19 die grootste rede waarom ouers tuisonderrig oorweeg. Onder normale omstandighede is daar verskeie redes.

Daar is kinders met spesiale behoeftes, leerprobleme, angsversteurings of aandagafleibaarheid. Soms is die afstand na die skool ’n kwessie en ander kere is dit kinders wat uitblink op ’n sekere gebied, soos sport of musiek, wat meer tyd nodig het om daarvoor te oefen.

Louise vertel daar is selfs jong entrepreneurs met hul eie ondernemings wat tuisonderrig verkies.

Partykeer is dit doodgewone kinders wie se ouers eenvoudig glo dis ’n beter opsie.

Die regte verskaffer en pakket

Louise sê dis een van die moeilikste dele van tuisonderrig, omdat soveel verskillende instansies opsies bied. “Doen eers jou huiswerk. Hoe lank is hulle al in die bedryf? Maak seker jou kind kan wel ’n matriekkwalifikasie kry en dat dit ook deur universiteite en ander tersiêre instansies erken word. Sommige instansies bied oorsese kurrikulums aan wat nie noodwendig beter is nie.

“Vind vooraf uit wat jy alles deur die verskaffer kry en presies waarvoor jy betaal. By Impaq kry jy byvoorbeeld aanlyn video’s en -lesse en jy kan alles wat jy nodig het op die webwerf aflaai.”

“ ’n Goeie verskaffer sal vir jou toegang gee tot al die studiemateriaal en ’n aanlyn leerplatform waar jy al die inligting ontvang wat jy nodig het,” sê Coleen.

“Dit sal assessering insluit, sodat jy weet jou kind is op standaard.”

Wat as dit nie werk nie?

Louise en Coleen stem saam dat wanneer kinders ’n goeie tuisonderrigpakket gevolg het, dit nie vir hulle moeilik sal wees om terug te keer na ’n gewone skool toe nie.

As jy besluit om vir die res van die jaar tuisonderrig te doen – of selfs volgende jaar ook – sal jou kind wel kan terugkeer skool toe in 2021, mits hy die slaagvereistes gehaal het vir die toepaslike graad.

As jy besluit om vir die res van die jaar tuisonderrig te doen – of selfs volgende jaar ook – sal jou kind wel kan terugkeer skool toe in 2021, mits hy die slaagvereistes gehaal het vir die toepaslike graad.

Moet ek werklik onnie wees?

Nee. Jy moet bloot ’n ouer wees wat lief is vir jou kind en in sy belang wil optree. En jy moet hou by jou besluit.

“Die besluit om tuisonderrig te doen, is soos om ’n vegetariër te word,” sê Coleen. Jy moet kies, mooi beplan hoe jy dit gaan doen en dan daarby hou.

“Jy (kan) nie oor ’n week of maand van plan verander nie. Hou daarby en aanvaar verantwoordelikheid vir die akademiese vordering van jou kind,” sê sy. “Daar gaan moeilike dae wees, maar daardie dae kry jy ook in ’n gewone skool.”

Die mites oor tuisonderrig

Ouers is onder die indruk dat ’n skool die plek is waar kinders sosialiseer, maar dit beteken nie dat kinders wat tuisonderrig ontvang nooit sosialiseer nie. Hulle is steeds betrokke in die gemeenskap, hetsy by die kerk, met sport of buitemuurse aktiwiteite.

Hoeveel kos dit?

Dit wissel.

By Impaq kos dit R2 408 per jaar vir ’n gr. 1-leerling, leermateriaal ingesluit. Vir ’n gr. 8-leerling betaal jy R11 973 per jaar en vir ’n matriekleerling R23 000, wat die nasionale matriekeksamen insluit.

Breinlyn se tariewe is beskikbaar op brainline.com. Dit wissel van R3 800 vir graad R tot R28 000 vir matriek met ‘n IEB-eindeksamen. Hulle gee op die oomblik 35% af.

Kyle Long van Fourways in Johannesburg se ouers, Shaun en Anita, het in Januarie 2016, toe hy met gr. 1 moes begin, besluit om hom tuis te onderrig. Aan die begin van 2020 is hy na ’n private skool en hy het glad nie gesukkel om aan te pas nie.

Hy het vier keer vinniger deur sy werk gekom as by ’n gewone skool. Ons kon ook dadelik probleme identifiseer en daaraan aandag gee.

“Vir ons was die voordeel die een-tot-een tyd wat ons met Kyle kon deurbring,” vertel Shaun. “Hy het vier keer vinniger deur sy werk gekom as by ’n gewone skool. Ons kon ook dadelik probleme identifiseer en daaraan aandag gee.

“Die nadeel was dat daar geen onderskeiding tussen skool en huis was nie. Daarom hou skoolwerk nooit op nie en gebeur dit aan die etenstafel en in die kar.”

Die Longs het glad nie van ’n verskaffer gebruik gemaak nie, en net die kurrikulums op die departement van onderwys se webwerf afgelaai. By Cambridge kan jy byvoorbeeld al hul voorgeskrewe werk gratis aflaai.

“My raad aan voornemende tuisonderrig-ouers is om nie sommer onmiddellik ’n verskaffer te gebruik nie en eers die kat uit die boom te kyk. Al die skoolboeke kan ook gratis op die departement van onderwys se webwerf afgelaai word,” sê Anita.

Webinaar oor tuisonderrig

Skakel in om te hoor wat die kenners oor tuisonderrig sê en vra oor enigiets wat jou kwel.

Wanneer: Dinsdag 23 Junie, 10:00

Dis gratis! Bespreek jou plek by www.quicket.co.za.

Stuur enige vrae wat jy het

na 34581. Begin die SMS met die woord TUISONDERRIG, gevolg deur jou naam en vraag.

SMS’e kos R1,50.

Meer oor:  Louise Schoonwinkel  |  Coleen Cronje  |  Tuisonderrig  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.