Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Astrante visvanger besorg eer aan fotograaf van Kby

Die begeerte om sy aftrede in Kimberley en omgewing met ’n kamera in sy hand en ’n liefde vir voëls opwindend te maak, is beloon toe Brian Culver ’n fotografiese eerbewys gewen het.

Sy foto van ’n astrante bontvisvanger wat doodluiters op ’n bergskilpad by ’n watergat sit en die wêreld bespied, het aan Culver die Best of Africa-Facebook-blad se prys vir die beste foto van die jaar (2020) in die reptiel-afdeling besorg.

Die blad het sowat 60 000 volgelinge.

Byna was sy wenfoto verlore nadat die data op sy rekenaar onklaar geraak en die betrokke RAW-foto verlore gegaan het.

Die foto van ’n bontvisvanger wat doodluiters op ’n bergskilpad se rug sit en oor die water uitkyk, dalk op soek na ’n vis, het ’n eerbewys aan die fotograaf Brian Culver van Kimberley besorg. Foto: Brian Culver

“Gelukkig het ek die foto in sy RAW-formaat reeds in ’n jpeg-formaat op ’n ander hardeskyf geberg, anders was dit heeltemal verlore.”

Die neem van die foto was ook ’n gelukskoot.

“Ek en ’n vriend was vroegoggend by ’n dam in die Rooifontein-wildreservaat buite Kimberley om foto’s te neem. Dit is toe dat die bontvisvanger verbyvlieg en in ’n boom gaan sit.

“Die skilpad, ’n ou bekende, kom toe ook by die gat aan om water te drink. Die visvanger het afgevlieg en doodluiters op Skillie se rug gaan sit. Ek was blitsig met die vinger op die sluiter.”

Hy skryf nie gereeld foto’s vir kompetisies in nie, maar dié een was ’n wenner. Hy het twee jaar vantevore ook heelwat gunstige kommentaar op ’n foto gekry van ’n gariepglasogie wat aan ’n tak oor die water hang met sy spieëlbeeld in die water. Van sy foto’s is al deur die kunstenaar Corinne Erasmus in skilderye omskep.

“Dit was lekker om die eerbewys te kry, al kry ’n mens geen prysgeld nie,” sê die oudwerknemer van De Beers.

Hy was tot 16 jaar gelede ’n mensehulpbron-superintendent by die maatskappy.

“Ek het eers ná my aftrede ywerig begin foto’s neem, veral toe dit met digitale tegnologie goedkoper geraak het.”

Nadat hy die kamera gekoop het, het hy besef hy wil voëls in die natuur afneem. Hy was betrokke by die stigting van die Gariep-voëlklub in Kimberley, ook sodat hy sy kennis van voëlspesies kon opskerp.

Meer oor:  Kimberley  |  Foto  |  Bontvisvanger  |  Fotokompetisie  |  Fotograaf  |  Voëls
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.