Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
‘Aussiekaners’ laat Afrikaans gedy in Australië
’n Klomp Aussiekaners saam op een van die Afrikaanse Klub se kuierkampe. Afrikaans is groot in Australië en word deur dié klub bevorder. Foto: Verskaf

Suid-Afrikaners wat in Australië woon, het ’n familie weg van hul familie gevind.

Jannie Bloem en sy vrou, Fransie, en hul twee kinders, Charel en Devon Blignaut, se huis in Brisbane is altyd oop vir ander Suid-Afrikaners wat huis toe verlang.

Gaste is altyd welkom om die swembad te gebruik en word nooit weggestuur sonder ’n koppie boeretroos nie.

Dié voormalige Pretorianers het 21 jaar gelede geëmigreer.

Tog was die verlange erg in die vreemde land. Soveel so dat Jannie, ’n tuisbly-pa in daardie stadium, die Afrikaanse Klub op die been gebring het.

Die grootste behoefte – naas braai natuurlik – was die samesyn met mede-Suid-Afrikaners.

Die grootste behoefte – naas braai natuurlik – was die samesyn met mede-Suid-Afrikaners.
Jannie Bloem (regs) saam met sy vrou, Fransie, en hul twee seuns, Charel en Devon Blignaut. Jannie het die Afrikaanse Klub in Australië begin, en gou het die hele familie ingespring. Foto: Verskaf

Die klub bestaan al 19 jaar en het van vier gesinne gegroei tot duisende lede wat lidmaatskap betaal.

“Afrikaans is groot in Australië,” sê Jannie.

Jaarliks word daar drie kuierkampe gereël deur streeksverteenwoordigers oor Australië heen. Deur die klub word daar ook jaarliks ’n Paas- en Geloftediens aangebied.

In die feestyd is daar ’n spesiale kamp gereël met ’n Kersvader wat vir die kinders geskenke uitgedeel het.

Jannie en Fransie sê dit is gewoonlik die moeilikste tyd vir Suid-Afrikaners, want dan raak die verlange terug huis toe éérs erg.

“ ’n Mens wil mos graag by jou mense wees met Kersfees, so nou kuier ons maar almal saam in dié tyd. Dit is vir my die lekkerste om te sien hoe maak die kinders die geskenke oop,” sê Fransie.

Op die jeugkampe word daar ook boeresport gehou. Foto: Verskaf

’n Afrikaanse gemeente is ook op die been gebring.

Ander Afrikaanse gewoontes wat die klub bevorder, is musiek. Hulle nooi elke jaar ’n kunstenaar om by een van die kuierkampe op te tree.

Vir die kinders is daar ook ’n kamp, waar daar onder meer potjiekos-kompetisies en boeresport is om aan deel te neem.

Met verloop van tyd het Charel en Devon ook betrokke geraak by die klub. Hulle het sommer op skool al vir die Australiërs geleer hoe ’n boereworsrol verskil van ’n “sausage sizzler”.

Baie van die egpaar se Australiese vriende verkies nou ’n boereworsrol.

Baie van die egpaar se Australiese vriende verkies nou ’n boereworsrol.

Die Afrikaanse Klub het ook heelwat Australiese lede wat oor die jare heen aangesluit het.

Jannie verduidelik dat die klub nie net daar is vir die beywering en voortbestaan van Afrikaans nie, maar ook om nuwe “Aussiekaners” te help totdat hulle hul voete gevind het.

“Afrikaans is ons grondslag, maar tog wil ’n mens ook mense help. Al wat ek vra, is dat die persoon wat nou hulp ontvang, later weer iemand anders sal help as dié in die knyp is,” sê Jannie.

Klein goedjies, soos om jou rybewys te kry, werk heelwat anders in Australië as in Suid-Afrika. Buiten vir ’n streng toets, moet ’n leerlingbestuurder boekhou van die ure wat hy al bestuur het, sê Charel. Leerlingbestuurders mag nie alleen ry nie en ook nie ná ’n sekere tyd in die aand bestuur nie.

Dan is dit lekker om te weet jy kan by jou familie-weg-van-jou-familie gaan aanklop vir raad; en dat jy met ope arms verwelkom sal word.

* Die Bloems was vir die Kersvakansie in Suid-Afrika, waar hulle ook met Pretoria FM gepraat het met die oog daarop om ’n weeklikse inset te lewer met Suid-Afrikaanse nuus van Australië.

Meer oor:  Australië  |  Suid-Afrikaners  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.