Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Avonturier pak roeitog van Kaapstad na Rio alleen aan

’n Suid-Afrikaanse avonturier wat alleen van Kaapstad na Rio de Janeiro wil roei om mense bewus te maak van die voordele van hernubare energie, sê dit gaan nie ’n maklike taak wees nie, maar hy weet wat vir hom voorlê.

Zirk Botha (59) is ’n voormalige vegoffisier in die Suid-Afrikaanse Vloot en ’n bestuurder gemoeid met ekonomiese ontwikkeling by die maatskappy Juwi Renewable Energies in Kaapstad, wat die vaart ondersteun.

Botha beoog om op 1 Desember in Kaapstad met die vaart te begin. “Maar afhangende van die weer kan dit ook die 2de of 3de wees,” sê hy by navraag.

Greg Austin, besturende direkteur van Juwi Renewable Energies, en Zirk Botha op sy boot, Ratel. Foto: Juwi Renewable Energies

Volgens inligting op die maatskappy se webtuiste wil Botha die vaart van sowat 7 000 km gebruik om mense bewus te maak van die nadele van die gebruik van fossielbrandstowwe en die verbruikerskultuur se negatiewe impak op die aarde. Hy sê hernubare energie is noodsaaklik vir ’n volhoubare toekoms en die toekomstige geslagte.

Tydens die vaart sal Botha heeltemal afhanklik wees van die son om batterye te herlaai vir sy ontsouter en veiligheid- en satellietkommunikasietoerusting.

Botha het sy boot, wat Ratel gedoop is, feitlik eiehandig gehou. Dit is geskoei op ’n ontwerp van Phil Morrison, ’n bekende vloot-argitek.

Hy beoog om daagliks sowat 14 uur lank te roei. Die vaart sal na verwagting 100 dae of langer neem om te voltooi. Hy verwag ook om daagliks sowat tien liter ontsoute water te drink en 8 000 kalorieë in te neem.

Daar is geen ander boot wat bystand verleen nie en hy is onstuimige seetoestande te wagte.

Botha sê soos met elke groot doelwit wat ’n mens vir jouself stel, is jy tegelykertyd bang en opgewonde. Hy sê hy lei ’n baie avontuurlustige lewe en het al baie oor die suidelike deel van Atlantiese Oseaan gevaar. “Ek weet wat voorlê en dat dit nie maklik gaan wees nie.”

Hy het ook al in die Himalajas gaan stap en regop met ’n roeiski-plank in die Okavango Delta geroei.

Meer oor:  Zirk Botha  |  Rio De Janeiro  |  Boot  |  Roeitog  |  Avonturier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.