Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Basterhond steel harte op hondeskou

Forest, ’n basterhondjie van KwaZulu-Natal wat al drie keer deur ’n motor raak gery is, was een van die skattige honde wat almal bekoor het op die 12de jaarlikse Kusa- (Kennel Unie van Suid-Afrika) nasionale kampioenskappe.

Nadine van der Linde met Sha-Sha wat aan die hondespringafdeling op die Kusa-nasionale hondekampioenskappe in Bloemfontein deelgeneem het. Foto: Verskaf

Die kampioenskappe is van Donderdag tot Sondag in Bloemfontein gehou.

Forest het aan die waentjiesleepafdeling deelgeneem waar hy ’n waentjie deur ’n kronkelpaadjie met toue aan die kante moes sleep.

Op bevel van Renate Haussmann van Port Shepstone, sy hanteerder, moes hy ook die waentjie agteruit laat loop op die kronkelpaadjie sonder om aan die toue aan die kant te raak.

Frikkie Mostert, voorsitter van die Free State Agility and Dog Training Club in Bloemfontein, sê dit was strawwe mededinging toe 60 hanteerders met 120 honde van regoor die land en van Zimbabwe sake op die kampioenskappe kom uitspook het.

Die kampioenskappe is op die rugbyveld van die Laerskool Sand du Plessis in Hospitaalpark, Bloemfontein, gehou.

“Een ding was duidelik, hond en baas het dit ewe veel geniet, en al het die windjie soms koud oor die skoolterrein gesny, sou niks en niemand kon keer dat dié gewilde hondekampioenskappe voortgaan nie.

“Eienaars en honde het honderde kilometers afgelê om te kom deelneem en in sommige gevalle selfs meer as duisend kilometer ver gery,” sê hy.

In die waentjiesleepafdeling (carting) Saterdagmiddag was daar 15 deelnemers van Johannesburg, Port Elizabeth en Durban.

Die Cape Handlers Dog Club van Milnerton, Kaapstad, het Saterdagmiddag die klas vir vliegbal (fly ball) gewen.

Die klas bestaan uit vier honde in ’n span waar ’n tennisbal vir die eerste hond gegooi word wat oor hindernisse moet hardloop met die bal in die bek. Die bal moet dan netjies in ’n gat in ’n houtboks gebêre word, waarop die hond terughardloop en ’n volgende hond onmiddellik wegspring om presies dieselfde te doen sodra die eerste een terug is.

Nadat vier honde aan dié soort aflos deelgeneem het, word ’n wentyd bepaal deurdat die spantye teen mekaar opgeweeg word.

Renate Haussmann en haar hond, Forest, van Port Shepstone. Foto: Marietjie Gericke
Susan van Loggerenberg met haar hond, Ninon, en Liesl Twyman met haar hond, Quade, ’n Australiese kelpie, het albei aan die vliegbalkampioenskappe op Kusa se hondeskou in Bloemfontein deelgeneem. Hulle is albei van die Birch Acres-hondeskool in Kempton Park. Foto: Marietjie Gericke

Meer oor:  Hond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.