Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Bederfpakkies vir boervroue vertrek uit Potch

’n Vrag met 500 bederfpakkies vir boervroue het die afgelope naweek uit Potchefstroom na die Wes- en Noord-Kaap vertrek.

Dr. Frans van Rensburg (links) wat ’n projek in Potchefstroom gekoördineer het om 500 bederfpakkies na vroue in droogtegeteisterde gebiede te neem. By hom is Cindy Colyn en Willie Nortjé. Foto: Susan Cilliers

In elk van dié pakkies is ’n briefie wat ’n skoolkind geskryf het aan die vrou wat dit ontvang, sê dr. Frans van Rensburg, plaaslike inwoner wat die insameling van die pakkies gekoördineer het. Hy is een van talle mense vanoor die land en in Potchefstroom wat aangesluit het by die VLV Wellington in die Wes-Kaap se projek om pakkies vol bederfgoed aan boervroue in droogtegeteisterde gebiede te stuur.

Van Rensburg sê hy wou aanvanklik 100 pakkies insamel. “Die nuus oor ons insameling het so vinnig op sosiale media versprei dat skenkings van individue en maatskappye ingestroom het. ’n Johannesburgse maatskappy het kartondose geskenk, een man het honderde pakke koekies gegee en mense het serpe oor ons heining gegooi.”

Die reaksie was so oorweldigend dat vrywilligers Saterdag vanaf 10:00 tot 16:00 vir die vale dose gepak, oorgetrek en gestrik het by Van Rensburg en sy lewensmaat, Willie Nortjé, se huis in Potchefstroom.

“Ons het benewens seep, lekkergoed en toiletware ook iets blywend soos ’n serpie, krale of oorbelle in die houers gepak.”

Die NG gemeente Potchefstroom-Oos het verlede week ook ’n vrag met 360 bederfpakkies en 5 ton veevoer in bakkies met sleepwaens na die Noord-Kaap geneem. Ds. Fanus Hansen van dié gemeente sê die kerk het al die afgelope drie maande by twee vorige geleenthede onder meer kruideniersware na droogtegeteisterde gebiede gestuur en gehelp met fondsinsameling.

“Ons het die idee van die bederfpakkies by die VLV Wellington gekry, maar ons projek gaan op sy eie voort. Ons kry steeds skenkings van nie net mense in ons kerk nie, maar van oraloor – tot so ver as Zeerust.”

Karen Barnard, sekretaresse van die VLV Wellington, het Maandag gesê dis vir hulle ’n riem onder die hart dat mense nou op hul eie voortgaan met die pakkieprojek, al sluit hul projek einde vandeesmaand.

Ons het aanvanklik gemik na tussen 100 en 200 pakkies, nou is hier al meer as 2 000.

“Ons projek het in September begin nadat ons besef het sommige boervroue kry so swaar dat hulle nie geld het om ons kongres by te woon nie.”

Ook Barnard en haar VLV-vriendinne was verstom oor die reaksie en skenkings van oor die land heen toe die nuus oor hul projek op sosiale media begin versprei het.

“Ons het aanvanklik gemik na tussen 100 en 200 pakkies, nou is hier al meer as 2 000.”

Die pakkies kan op verskeie punte afgegee word voordat dit nog tot 1 November na die VLV Wellington geneem en van daar af versprei word.

“Koeriermaatskappye en individue help met die vervoer van die pakkies. Ons identifiseer behoeftige boervroue met behulp van die boere-unies. Voordat die pakkies uitgaan na ’n spesifieke vrou, kry dit ’n plakker met haar naam op. Skoolkinders het ’n mooi briefie geskryf vir elke ‘tannie’ wat ’n pakkie gaan ontvang. AfriForum gaan nou help om vir ons ’n klomp pakkies na Kimberley te neem sodat dit van daar na droogtegeteisterde gebiede gestuur kan word.”

Besoek die Facebookblad Boks vir Boervrou.

Wat kan in die pakkie wees?

Badkameritems, sjampoe, tandepasta, lekkerruikgoed vir hom en haar, lekkergoed wat nie smelt of breek nie, jellie, speserye, hawermout, noedels, tuna, kondensmelk, ontsmetmiddel, watte, vitamine-bruistablette, ’n tydskrif, penne en potlode, pleisters, parasetamol, cappuccino, sakkies, soppoeier, ’n blik mielies, lipstiffie of mooi serpie, ’n vatlap/vadoek/afdroogdoek, sneesdoekies, haarrekkies, maskara en skeermesse.

Meer oor:  Fanus Hansen  |  Karen Barnard  |  Potchefstroom  |  Noord-Kaap  |  Wes-Kaap  |  Boervroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.