Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Beeld se Bruide: Januarie- en Februarie-wenners

Die eerste twee maandwenners van Beeld se Bruid van die Jaar-kompetisie is bekend. Maudy Botes is Januarie se maandwenner en Alecia Stander­ is Februarie s’n.

Botes kom van Despatch in die Oos-Kaap en is op 15 Ja­nuarie vanjaar met George getroud. Net soos vele ander bruide moes sy aanpassings doen aan haar troudag se beplanning weens die Covid-19-pandemie.

Maudy Botes van Despatch in die Oos-Kaap is die Januarie-maandwenner van Beeld se Bruid van die Jaar-kompetisie.
Alecia Stander van Midstream in Gauteng is die Februarie-maandwenner van Beeld se Bruid van die Jaar-kompetisie.

“Ons het eers ’n groter troue beplan met 50 gaste. Alles was gereël en die uitnodigings was al gestuur, maar ons het toe besluit om dit te kanselleer as gevolg van die inperkings­reëls. Ons het ons troue na 18 mense verminder met ons naaste familie en vriende en ons groot dag binne drie dae gereël.”

Weens die aandklok­reël kon die feesvieringe net tot 20:00 duur. Tog beskryf Botes haar troudag as “perfek”. Om haar bruidegom op daardie spesiale dag te sien, was vir haar die hoogtepunt van haar troudag.

“Die oomblik toe ek in die paadjie afstap en in George se oë kyk en die uitdrukking op sy gesig sien. Dit het boekdele gespreek en ek het so trots gevoel op daai oomblik.”

Stander is van Midstream in Gauteng en is op 8 Februarie 2020 getroud.

“Ons het een reël gevolg: Kiss (keep it simple, stupid).”

Stander sê sy was ’n ontspanne bruid en het geweet haar droom vir ’n klassieke, stylvolle troue gaan verwesenlik word – die weer het gesorg dat die senuwees op die groot dag wel ietwat knaag.

“Ons was veronderstel om in die woud te trou, maar dit het baie gereën, so ons kon ongelukkig nie. Ons moes alles kapel toe stuur. Ek was ’n bietjie gestres met die reën en die butterflies,” sê Stander.

Haar man, Shaun, het die senuwees soos mis voor die son laat verdwyn die oomblik toe sy in die kapel ingestap het. “Toe kyk ek op en sien Shaun met die grootste glimlag ooit, toe voel ek kalm en gelukkig, en hy is al wat ek kon sien.”

Stander sê die seremonie was kort en kragtig sodat die feesvieringe kon begin en daar is tot laataand gekuier en gedans.

Daar is nog tyd vir bruide wat ná Januarie en Februarie in 2020 en vanjaar getrou het, om in te skryf vir Beeld se Bruid van die Jaar-kompetisie. Daar is meer as R430 000 se pryse op die spel. Die Maart-bruide moet wel vinnig spring, want die inskrywings vir hulle sluit op 10 Mei.

Sperdatums

  • April 2020- & 2021-bruide: 14 Junie 2021;
  • Mei 2020- & 2021-bruide: 19 Julie 2021;
  • Junie 2020- & 2021-bruide: 2 Augustus 2021;
  • Julie 2020- & 2021-bruide: 30 Augustus 2021;
  • Augustus 2020- & 2021-bruide: 13 September 2021;
  • September 2020- & 2021-bruide: 11 Oktober 2021;
  • Oktober 2020- & 2021-bruide: 15 November 2021;
  • November 2020- & 2021-bruide: 10 Januarie 2022; en
  • Desember 2020- & 2021-bruide: 14 Februarie 2022.

Skryf só in

Stap 1: Skep ’n Word-dokument waarin jy die volgende vrae beantwoord:

a) Waar het julle mekaar ontmoet?

b) Hoe lank ken julle mekaar?

c) Watter beroepe beoefen julle?

d) Wat is jul belangstellings?

e) Wat is jul definisie van ’n gelukkige huwelik?

f) Vertel ons van jou troue. Was daar ’n tema en wat was jou inspirasie?

g) Beskryf jou troudagstyl. Hoe het jy op jou rok en voorkoms besluit?

h) Wat was jou hoogtepunt van die troue?

Stap 2: Heg jou Word-dokument aan ’n e-posboodskap waarin jy die volgende inligting verskaf:

a) Troudatum;

b) Bruid se volle naam;

c) Bruid se noemnaam (let wel, noemnaam, nie bynaam nie);

d) Bruidegom se volle naam;

e) Bruidegom se noemnaam (let wel, noemnaam, nie bynaam nie);

f) Woonadres;

g) Bruid se e-posadres;

h) Bruid se kontaknommer;

i) Bruidegom se e-posadres; en

j) Bruidegom se kontaknommer.

Stap 3: Heg ’n duidelike kop-en-skouer-foto en ’n vollengtefoto van die bruid (kleur of swart-en-wit, minstens 1 MB groot en in jpeg-formaat) as ’n aanhangsel aan die e-posinskrywing.

Stap 4: Stuur jou inskrywing voor 12:00 op die sluitingsdag na bruide@media24.com.

Só stem jy

Wanneer ’n bruid se foto in die koerant verskyn, kan lesers vir hul gunstelingbruid stem deur:

  • Proses 1 (elke SMS tel 1 punt)

SMS “Bruide”, jou gunstelingbruid se naam en van, jou naam en van, waar jy woon en jou e-posadres na 35986.

Die SMS-lyn sal oop bly tot die Woensdag nadat die bruid se foto in die koerant verskyn het. Die lyn sluit 10:00.

Elke SMS kos R1,50. Gratis SMS’e geld nie en foutiewe SMS’e sal verreken word.

SMS-voorbeeld: BRUIDE, Sannie Smit, Tanya Kleynhans, Auckland Park, tanya.kleynhans@media24.com.

Deelnemers aan die kompetisie deur middel van stemproses 1 verleen met die gebruik van die SMS-stemme toestemming aan Media24 en sy borge om by geleentheid sy produkte en/of dienste aan hulle te bemark.

  • Proses 2 (elke stem tel 5 punte)

Ekstra koerante vir stemme van ’n bruid kan op ’n Donderdag van publisering of die Vrydag ná publisering by Tanya Kleynhans aangekoop word (tanya.kleynhans@media24.com).

Beeld sal die koerante aan sy Beeld in Onderwys-skoleprojek skenk.

  • Proses 3 (elke stem tel 5 punte)

Knip jou gunstelingbruid se foto uit (slegs oorspronklike foto’s word aanvaar), plak dit op ’n A4-bladsy, voeg jou adres en telefoonnommers by en koerier dit na: Bruid van die Jaar, Kingswaylaan 69, Mediapark, Auckland Park 2006.

Stemme kan ook in ’n koevert by Beeld se kantoor in Johannesburg afgelewer word: Ontvangs, Kingswaylaan 69, Mediapark, Auckland Park 2006. Stemme moet die Woensdag nadat die bruid se foto in die koerant verskyn het 10:00 ingedien wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.