Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Beeld se bruide: Joodse afkoms maak troue uniek

Iemé Hannl, Beeld se Bruid van die Jaar-maandwenner vir November, sê haar Joodse afkoms het gesorg dat haar troue buitengewoon spesiaal was.

“Ek en my ma was in Oktober Israel toe en daar het sy my vir twee weke voorberei op my troudag en ook op die getroude lewe. Daar was ook baie simboliese aspekte aan ons troudag – ons het onder ’n chuppah getrou, wat verwys na God se beskerming oor ons huwelik en ook ons begeerte na God se hart.

Iemé en Chris Hannl op hul troudag op 30 November verlede jaar.

“Ek het sewe keer om Chris geloop wat beteken dat hy my van alle kante af sien en dat ek hom eerste stel. Dit beteken ook dat ek al sy swakpunte sien en aanvaar.

“Ons het ook Nagmaal saam gehou en die beker waaruit ons die druiwesap gedrink het, het ons in ’n wit lappie toegedraai en dan stukkend getrap. Dit simboliseer dat niemand anders uit ons glas gaan drink nie en dat ons liefde net vir mekaar bedoel is.”

Iemé is op 30 November getroud met Chris, wat van Switserse afkoms is. Hulle woon in Honeydew. Chris is ’n vlieënier vir SA Airlink en Iemé is ’n lugwaardin, maar sy werk tans as ’n private onderwyseres vir ’n gesin.

“Ons het ontmoet op my heel eerste vlug as lugwaardin in 2010, en die res is geskiedenis!”

Sy vertel sy het ingeskryf vir die kompetisie omdat sy “graag ’n vakansie wil wen”.

“Dit is vir Chris moeilik om verlof te kry, so ons het nog nie regtig wittebrood gehou nie. Ons het vriende wat vir Emirates werk, so ons was net ’n paar dae in Dubai. Maar ek begeer daardie vakansie in Mauritius!”

Iemé sê haar pa het haar aangemoedig om in te skryf vir die Bruid van die Jaar-kompetisie, maar sy het nie regtig verwag om ’n maandwenner te wees nie.

“Ek was net gelukkig om my foto in die koerant te sien, en ek het vir mense gevra om vir my te stem, maar nogtans was dit ’n groot verrassing toe my pa my bel en sê ek is die wenbruid vir November.”

Iemé se raad aan bruide wat in 2019 gaan trou, is om na almal om jou se raad te luister, maar om dan getrou te bly aan jouself wanneer jy besluite neem oor jou groot dag.

“Die mense om jou is natuurlik saam met jou opgewonde en is vol voorstelle, maar onthou, dit is jou dag en jy moet jouself wees en doen wat vir jou mooi en spesiaal is.”

  • Iemé sal teen die 11 ander maandwenners meeding op die Beeld Bruid van die Jaar-gala-aand in Maart waar die algehele wenner vir 2018 aangewys sal word. Inskrywings vir 2018 se kompetisie is afgehandel, en ons maak eersdaags 2019 se kompetisie bekend.
Meer oor:  Iemé Hannl  |  Bruid Van Die Jaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.