Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Bejaarde vier 92ste verjaardag in isolasie

Niemand kan die gees van dié bejaarde demp nie, veral nie nadat hy Covid-19 op 92-jarige ouderdom opgedoen het en oorleef het nie.

Peter de Kock (92), ’n wewenaar en pa van nege kinders, woon in die Oakhaven Home vir bejaardes in Heideveld en moes op 26 Junie sy 92ste verjaardag in isolasie vier nadat hy positief vir die koronavirussiekte getoets is.

Die tehuis het De Kock egter met ’n klein viering verras toe hy sy isolasietydperk van 14 dae voltooi het en na die tehuis teruggekeer het. Hy is ook getrakteer met oproepe van familie en vriende wat sy gees verder opgehelder het.

Volgens die verklaring het De Kock ’n effense verkoue gehad en griepagtige simptome ondervind. Hy is in isolasie geplaas totdat sy toetsuitslag beskikbaar was.

Peter de Kock vier sy 92ste verjaardag terwyl hy in isolasie was.

“Bejaardes en mense ouer as 55 met onderliggende siektes loop die risiko om ernstig siek te word as hulle Covid-19 opdoen en daarom het personeel van die Oakhaven Home verskeie veiligheidsmaatreëls ingestel om hul kwesbare inwoners te beskerm, maar die virus het De Kock steeds besmet.”

Sr. Sarie Cloete, verpleegbestuurder van die Oakhaven Home, sê al die inwoners gaan daagliks deur siftingstoetse en indien enige bejaarde simptome van Covid-19 toon, word hulle na die Heideveld-gemeenskapsdagsorgsentrum gebring waar hulle vir Covid-19 getoets word.

“Alle inwoners word daarna in die Lotus Place Home vir verswaktes in Lotusrivier onder kwarantyn geplaas,” sê sy.

Cloete sê De Kock moes sy 92ste verjaardag by die Lotus Place Home vier waar hy in ’n enkelkamer in isolasie was.

“Ons sorg dat ons ’n klein viering hou vir diegene wat hul isolasietydperk voltooi, aangesien baie nie verstaan waarom hulle so lank en alleen in ’n kamer moet bly nie,” sê Cloete.

“Ek het geen chroniese siektes nie en ek kan dinge weens my ouderdom nie meer so goed onthou nie. Ek neem dinge soos dit kom, en was nie bekommerd toe ek siek was nie,” sê De Kock.

Weens De Kock se geheue het hy nooit verstaan dat hy Covid-19 het nie, maar het die reëls nagekom en die besluit wat die personeel namens hom geneem het, eerbiedig. Sy familie is in kennis gestel, maar dit was vir hulle moeilik om hom nie te sien nie.

Volgens die verklaring verseker Cloete dat alle oppervlaktes in die tehuis deeglik ontsmet is, insluitend die bordspeletjies en domino’s waarmee die inwoners speel.

“Dit is ’n uitdaging vir die personeel om te verseker dat die inwoners te alle tye hul maskers dra. Hulle moet daagliks aan die inwoners verduidelik hoe belangrik dit is om ’n masker te dra.”

Cloete het selfs maskers vir die inwoners gemaak om te verseker dat elkeen ’n eie masker het.

“Ek is bly om terug by die tehuis te wees waar ek gemaklik is, die omgewing ken en omring is deur bekende gesigte,” het De Kock gesê.

Meer oor:  Koronavirus  |  Verjaardag  |  Peter De Kock  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.