Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Bekendes slaan balle vir teddies vir kinders

Al is hulle bekend vir hul vaart met rugbyballe, hul slag met grappies en hul gevaarlike gevegskuns, het dit nie die bekendes wat aan die Golfing for Teddy-gholfdag deelgeneem het gekeer om hul slag op die gholfbaan te wys nie.

Akona Ndungane maak reg vir ’n sethou. Foto: Denmin Moore

Talle oudrugbyspelers, musikante en akteurs het Dinsdag in die winderige en warm toestande by die Serengeti-gholfbaan naby Kempton Park, in Gauteng, afgeslaan vir dié liefdadigheidsgholfdag, wat teddiebere insamel wat later in Desember aan kinders in hospitale in Gauteng uitgedeel sal word.

Garreth McLellan slaan af by die Serengeti-gholfbaan. Foto: Denmin Moore

Hannes Muller, die komediant wat onder meer bekend is vir sy rol in Binnelanders, sê die wind het hom veral deurmekaar gewaai op ’n baan wat hom gereeld “opneuk” omdat dit so moeilik is.

“Dit wind was so erg, ons kon net sowel op Milnerton-strand gespeel het,” het hy gesê.

Volgens Muller het die gholf-gogga hom behoorlik gebyt. Hy het gesê hy het hard geoefen om aan die dag deel te neem. “Ek het eintlik ophou gholf speel ná verlede jaar, maar toe besef ek ek geniet dit te veel. Ek speel nou meer gereeld en probeer my bes om weekliks te speel.”

Al is hy ernstig oor sy gholf, is dit belangrik om ’n sin vir humor op die baan te behou. “Dit is belangrik om te besef dit is net ’n spel en daar is ook tyd vir ’n ou grap elke nou en dan. Ek hou ook van grappies maak op die baan, veral as die mense begin swaai, maar hulle hou nie so baie daarvan nie,” het hy geskerts.

Hoewel dit meer pret was vir sommige, was dit ook duidelik dat van die bekendes nie daar was vir speletjies nie. Die oudrugbyspelers AJ Venter en Jannie de Beer het mekaar gas gegee voordat hulle afgeslaan het.

De Beer, ’n voormalige Springbok-losskakel, was lank voordat enige ander van die bekendes opgedaag het op die oefenbaan om sy oog in te kry.

Dit was duidelik dat dit vrugte afgewerp het, met De Beer wat ’n telling van 81 aangeteken het teenoor Venter se 96.

Jannie de Beer en AJ Venter gesels oor hoe hul onderskeie balle getrek het. Foto: Melandri Swanepoel
Hannes Muller slaan af. Foto: Melandri Swanepoel
Kahn Morbee, hoofsanger van The Parlotones, konsentreer hard om die bal raak te slaan. Foto: Melandri Swanepoel

Buiten vir die mededinging en die pret, het die bekendes ook beklemtoon dat hulle deelneem vir ’n goeie doel.

“Baie van ons hier vandag is gewoond aan Kersfees en beskou dit klaar as ’n gegewe. Daar is mense daarbuite wat nie eens naastenby so gelukkig en bevoorreg genoeg is om te ervaar wat ons ervaar nie. Daarom is dae soos hierdie veral belangrik. Dit gee mense net so bietjie meer vreugde oor die Kerstyd,” het AJ Venter gesê.

Garreth “Soldierboy” McLellan, die gemengdegevegskuns-sportman, het gesê dat iets so klein soos ’n teddiebeer soveel méér kan beteken vir iemand daarsonder.

“Mens aanvaar dit as vanselfsprekend, maar dit kan so baie beteken vir iemand wat niks het nie,” het hy gesê.

Megan Horak-Du Preez en Heinrich du Preez, stigters van Golfing for Teddy, sal die teddiebere versprei.

Meer oor:  Golfing For Teddy-Gholfdag  |  Liefdadigheid  |  Bekendes  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.