Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Top-boer se ‘beloofde land van melk en heuning’

Top-boer, gesinsman, teler van formaat. Wikus Bekker van die plaas Geluksdam, Edenburg, die Dohne-merinoman van die jaar, is ’n voorbeeld van die Vrystaatse familieboer waar sy liefde vir sy gesin, diere, sy gemeenskap en die Vrystaat sy lewe bepaal. Charles Smith het met hom gesels. Al die foto’s is deur Bekker en sy gesin geneem.

Die Bekker-gesin doen alles saam. Hier is hulle vroeër vanjaar by die Augrabies-valle in die Noord-Kaap. Van links is Adéle, Jurie (4), Wikus en Johan (5). Foto: Verskaf

Geluksdam se werf het baie diere en baie boere. Hier boer, leef en kuier die Bekkers saam. Die werf loop oor van geluk.

Wikus Bekker se Facebook-blad is ’n dagboek van sy boerdery. Sy Dohne-ooi met ’n vierling lammers is wyd bewonder.

Crux Dohnes, ’n vennootskap-teling van medeboere, het die pas aangegee om die standaard van dié skape en die wol drasties te lig.

Die verskeie hoenderrasse, kalkoene en duiwe op die werf wys ’n skaapboer met ’n liefde vir alle diere. Sy foto’s van die plaas en hul lewe hier is ’n dokumentêr van ’n Suid-Vrystaatse familieplaas.

Om as Dohne-man van die jaar aangewys te word was ’n groot verrassing en eer. Dit was vir hom lekker om erkenning te kry.

“Ek is baie lief vir skaapboerdery, dit is my passie. Veral vir Dohne-merino’s, die skape waarmee ek grootgeword het. Erkenning motiveer ’n mens.”

Die toekenning was vir sy embrio-uitvoere na Patagonië in Argentinië, wat hy ná jare se harde werk kon regkry.

Die geheim van sukses

Bekker sê die geheim is om alles saam met sy vrou, Adéle, en seuns, Johan (5) en Jurie (4), te doen.

Hy deel foto’s waar hy en die seuns jag, vleis bewerk, met die skape en wol werk. Pa en seuns met dieselfde oorpakke.

Daar is gereeld foto’s van sy pa, Dons (Johannes Lodewikus), wat steeds kom help boer nadat hy en sy vrou, Maureen, in Edenburg afgetree het.

Die twee Bekker-seuns boer laat dit bars op Geluksdam. Hier is Jurie (4) en Johan (5) op 'n kwadfiets besig om die trekkerbestuurders dop te hou wat die lande ploeg. Foto: Wikus Bekker

Oom Dons Bekker (79) werk steeds elke skeerseisoen met die wol op Geluksdam, al is hulle afgetree in die dorp. Wikus het die foto van sy pa vanjaar op die plaas geneem. Foto: Wikus Bekker

“Familie is vir my belangrik. Elke familie het sy eie kultuur, wat die mense geniet en vir hulle spesiaal is. Ek het ’n ouma Hetta gehad wat saam skape doseer het. Sy was elke dag saam in die veld en dan het sy nog in die huis haar dinge gedoen. Dit is graag wat ek met my kinders wil deel.

“Ek wil hê hulle moet dit beleef en ek wil die familie-kultuur graag voortsit. Dit moet lekker wees en hulle moet dit geniet. Geen geld kan dit koop nie. Daar is min mense wat vandag voluit lewe en dinge geniet. As ’n mens die beginsels by jou kinders kan vaslê, maak nie saak wat hulle eendag gaan doen nie, is dit goed.”

Vir hom was boerdery nog nooit werk nie.

“Dit is ’n voorreg. Dieselfde tyd het jy ’n gesin en liefde om jou. Dan het jy ook die plaas en die natuur.”

Oupa Hansie was sy held

Die kultuur begin by sy pa se pa, oupa Hansie (gebore 1905), sê hy.

“Oupa Hansie was regtig my held. My verwysingsraamwerk begin by hom. My oupa en pa het saamgeboer. My pa is ook ’n baie passievolle en energieke mens wat baie hard kan werk. Hy het nooit op ’n horlosie gekyk nie.

“Ek onthou my pa as kind: Hy het vroeg opgestaan, só opgewonde oor die dag, en aangehou totdat dit donker is en hy gedaan is. Dit was ’n wonderlike voorbeeld. Ek het baie by my oupa en my pa geleer.”

Hy is van jongs af met liefde deel van die boerdery gemaak.

“Dit was ’n natuurlike liefde. My pa het dit raakgesien en my van vroeg af by die boerdery betrek. Ek het sy getal-boeke geskryf en as kind alles saamgedoen en windpompe reggemaak.”

Pa Dons was ’n rolmodel en alles wat hy vandag van boerdery weet, het hy by hom geleer. Ma Maureen het gesien hy het ’n kop vir syfers en hom van jongs af by die administrasie en rekeninge betrek.

Hy het as 18-jarige saam met sy pa begin boer en hulle het ook ’n bankrekening gedeel, net soos sy pa en oupa. Dit skep ’n groot vertrouensverhouding tussen jou en jou ouers, sê hy.

“Hy vertrou jou. Hy weet jy gaan nie sy geld mors nie. Dit skep wedersydse vertroue.”

Geluksdam, Edenburg, is 'n Vrystaatse familieplaas waar die Bekkers al geslagte lank met wolskape boer. Hier keer 'n veewagter 'n trop Dohne-merino's aan met die wolke wat dik saampak. Die prentjie straal hoop en voorspoed uit. Foto: Wikus Bekker
Dit is ’n groot eer en voorreg om as die Dohne-man van die jaar aangewys te word, sê Wikus Bekker van Crux Dohnes, Edenburg. Hier is hy met die trofee wat hy van Johan van Rooyen (links) van die dieregesondheidsmaatskapy Zoetis ontvang het. Foto: Verskaf
Soos Noag se ark

Op Geluksdam is iets van alles: konyne, hoenders, kalkoene, tarentale – wittes, bloues, bruines – eende, en ’n klomp soorte duiwe, soos sierduiwe.

“Ek het nege soorte lêhenne, en skrophoenders en werfhoenders. Hier is kapokkies en seker 17 soorte peking-veerpoothoendertjies. Hier is allerhande soorte diere op die plaas. Alles gaan oor teling en dis lekker,” sê hy.

“Ek het ’n oog vir ’n mooi ding. Ek kry altyd iets moois by ander telers.”

Daar is agt honde op die werf: ’n Rifrug, twee Jack Russells, twee staffies, drie skaaphonde. Hy het ’n klompie boerbokke en vetstert- Persiese skape. Dit gaan nie oor geld nie, maar omdat hy dit geniet. Hy wil ook hê dat sy kinders dit geniet.

“’n Mens leer van teling deur die kleinste goedjies, soos met duiwe. Jy kyk na die duif en besluit watter duif by watter een pas en só leer jy die basiese beginsels van teling. Dit is maar alles die beginsels van genetika.”

Sy liefde vir boerdery en die plaas is danksy sy sorgvrye kinderdae op die plaas.

“Boerdery is in my hart. Dit is grootliks te danke aan die spesiale kinderdae op die plaas. My herinneringe is van oumas en oupas, neefs en niggies en ooms en tannies wat op die plaas kuier. Ons het saamgejag en vleis gewerk. Mans en vroue het saam die vrugte ingelê, gedroog en konfyt gekook.

“Die oumense moes elke dingetjie verwerk, want hulle het swaar gehad en moes opgaar vir die winter. Ons het seep gekook, en al die lekker dinge gedoen van kindwees.”

Die twee Bekker-boeties, Jurie (4) en Johan (5), by die beeste op Geluksdam. Foto: Wikus Bekker
Land van melk en heuning

Hy word soggens met ’n lied in sy hart op Geluksdam wakker.

“Ek sê dankie vir die nuwe dag. Ek hoor elke oggend ’n voëltjie sing en ’n duif koer. Ek hoor ’n tarentaal in die veld en kyk elke aand na die sonsondergang. Die natuur bly mooi.”

Die lewe bly vir hom mooi.

“Ek sê elke oggend dankie vir gewone dinge, vir ’n huis, vir ’n dak oor die kop. In die oggend as ek huisgodsdiens doen, sê ek in my gebed – en dit leer ek ook my kinders – dankie vir ’n warm bed, dankie dat ons lekker en veilig kon slaap.”

Hy is dankbaar vir die voorreg om te kan boer en vir goeie werkers. Hy pak elke dag met daardie gesindheid aan en geniet die dag.

Hy gaan kuier gereeld vir April, ’n afgetrede werker, in die dorp. Toe hy só kla oor die baie werk op die plaas, sê April: “Man, werk hou nooit op nie. Daar’s altyd werk.” April wou vir hom sê dit help nie hy wil alles in een dag doen nie.

Bekker sê hy is ’n diepgelowige mens. Hy glo in die Bybelse waarheid dat alle mense van alle kulture na God se beeld geskape is. Almal het die voorreg om gelukkig te wees.

My filosofie is om voluit te lewe. Jy moet lééf. Leef elke dag en laat leef.

Dit is ’n keuse wat jy maak, sê hy.

“Om ’n gelowige te wees is die grondslag van my lewe. My filosofie is om voluit te lewe. Jy moet lééf. Leef elke dag en laat leef. Ek hou van die diversiteit van die land. Ek hou van die verskillende mense. Ek hou glad nie van mense wat tonnelvisie oor dinge het nie, hetsy politiek, kultuurgewys of hoe om te boer. Ek kry swaar met sulke mense.”

Bekker se motto in die lewe is: Wees goed vir mense. Bemagtig mense dat hulle in hulself begin glo, selfs ’n werker wat met net gr. 7 by hom opdaag. Glo in jou gesin.

“Laat die lig in jou skyn. Ek voel so half geroep om die ligstraal te wees waar ek kom.”

Hy skryf by ’n foto van hom en sy pa met ’n bord vol vars koekheuning wat sy pa vir sy seuns op Geluksdam uitgehaal het hoe hy die heuning as kind geniet het.

Hy en sy pa het gereeld uit korwe op die plaas Rusbeek heuning uitgehaal.

“My ma was lief om brood te bak in die Aga-stoof en dan eet ons vars brood met heuning en ’n glas melk. My pa se gunsteling-beskrywing van ons ete was die Bybel praat van ‘die beloofde land van melk en heuning’. Só het hy ons laat voel en glo ons bly in die beloofde land.”

Dit was spesiale kinderdae, onthou hy. Hy wil dit altyd só hou vir sy kinders.

“Vandag nog glo ek Edenburg is die land van melk en heuning.”

Wikus Bekker van Geluksdam en sy pa, oom Dons Bekker (79), met die heuning wat sy pa vir sy seuns, Johan (5) en Jurie (4), uitgehaal het. Hy sê as kind het sy pa altyd gepraat van die Bybelse beloofde land van 'melk en heuning'. Hy glo nog altyd dat Edenburg hierdie beloofde land is. Foto: Verskaf

Meer oor:  Edenburg  |  Plaas  |  Charles Smith  |  Boerdery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.