Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Beskerm jou loopbaan

As maatskappye hulself toekomsbestand wil maak, gaan hulle kreatiewe denke en innovering sleutel-prioriteite binne hul korporatiewe kultuur moet maak, skryf Carla Lewis.

Grafika: iStock

Die arbeidsmark word meegesleur deur die diepsinnige teenstrydighede van die moderne wêreld.

Uitdagings is oral: krimpende hulpbronne, tradisionele werkswyses wat deur tegnologie ontwrig word, verbruikers met minder koopkrag, maar meer puntenerig oor waar hulle hul swaarverdiende geld bestee.

In dié wispelturige era kan korporatiewe maatskappye en ondernemings hulself ’n mededingende voordeel gee deur meer waarde te heg aan werknemers en potensiële kandidate met kreatiewe en kritiese denkvermoëns en ’n hoë vlak van emosionele intelligensie, veral in die sogenaamde stem-velde (wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde), waar kreatiwiteit nog altyd met ’n bietjie agterdog bejeën is.

“Ons leef in tye waar die korporatiewe wêreld en werkplek eksponensieel verander, soveel so dat verandering amper nou die enigste konstante is,” sê Lynn Vermaak, hoof- uitvoerende verbeeldingsbeampte by Aha Training and Development, ’n maatskappy wat mense oplei om meer innoverend en kreatief te dink.

Logies maak dit sin: ’n Kreatiewe korporatiewe kultuur motiveer werknemers, daag hulle tot nuwe hoogtes uit en verhoog werksbevrediging.

“Werknemers moet leer om op hul voete te dink en leiers moet die uitdagings wat die toekoms inhou, voorsien. Só kan daar vroegtydig strategieë ontwikkel word sodat die maatskappy nie onverhoeds deur ontwrigtende buitefaktore betrap word nie.

“Kreatiwiteit by die werk en by topbestuur gaan ál belangriker word, veral by maatskappye wat by verandering wil baat vind.”

Dis reeds te laat om te debatteer of kreatiwiteit ’n sleutelrol in die werkplek moet speel. “Nou moet topbestuur vra: Hoe gaan die leiers ’n kultuur van kreatiwiteit in die werkplek kweek? Hoe kan die maatskappy se arbeidstrategie werknemers bemagtig en motiveer om hierdie golf van vinnige en voortdurende verandering en innovering suksesvol te ry?”

Voordele is volop

“Wanneer jy kyk na Adobe se State of Create-verslag van 2016, wys beduidende resultate dat maatskappye wat in kreatiwiteit belê, daarvoor beloon sal word.”

82% van Britse respondente het gesê maatskappye wat in kreatiwiteit belê, sal waarskynlik beter produktiwiteitsvlakke by hul werknemers sien. Logies maak dit sin: ’n Kreatiewe korporatiewe kultuur motiveer werknemers, daag hulle tot nuwe hoogtes uit en verhoog werksbevrediging.

Lynn Vermaak

Die voordele sluit voorts in dat maatskappye wat in kreatiwiteit belê, innovering dryf en dat hul kliënte meer tevrede is en beter diens ervaar. Dit alles lei tot wat in die korporatiewe wêreld eintlik vir topbestuur en aandeelhouers saak maak: beter winsgrense en beleggingsopbrengste en ’n verhoogde markaandeel. Tog is daar steeds vooroordele jeens kreatiwiteit, veral in die meer “konserwatiewe” beroepsvelde soos finansies en nywerheid.

“Hou in gedagte dat die Wêreld- Ekonomiese Forum se The Future of Jobs-verslag voorspel dat kreatiwiteit, innovering en die vermoë om met nuwe idees vorendag te kom, sleutelvaardighede vir die toekomstige arbeidsmark gaan wees. Hierdie ‘sagte vaardighede’ gaan net so gesog wees soos analitiese denke en probleemoplossing. Handearbeid en -vaardighede gaan waarskynlik deur outomatisasie vervang word.

“As sektore die ontwikkeling van kreatiewe vaardighede gaan afskeep, gaan dit ’n groot impak hê op hoe hulle hulself in die toekomstige arbeidsmark gaan posisioneer. Dit gaan ook bepaal hoe hulle gaan reageer as hulle met voortdurende verandering en ontwrigting van buite bestook word.

“ ’n Maatskappy se vermoë om deurentyd nuwe produkte, prosesse en dienste te ontwikkel wat vir sy kliënte nuwe waarde bied, is kritiek belangrik, veral wanneer dit by sy voortbestaan en volhoubaarheid kom. As hulle die onvoorspelbare tye wat voorlê wil oorleef, moet hulle hul werknemers met die nodige vaardighede toerus,” sê Vermaak.

Só dryf jy innovering

Maar hoe ontwikkel jy ’n korporatiewe kreatiewe kultuur, veral by mense wat dit in die verlede met “vreemde” mense vereenselwig het? Uiteraard kan jy nie verwag dat ’n groep geoktrooieerde rekenmeesters of ingenieurs en wetenskaplikes dieselfde korporatiewe kreatiewe kultuur sal kweek as kopieskrywers, kunstenaars en grafiese ontwerpers by ’n advertensiemaatskappy nie.

Mense het dikwels wanopvattings oor wat kreatiwiteit werklik is.

“Kreatiwiteit is die fondament van innovering,” beklemtoon Vermaak. “Topbestuur moet hulself eerstens afvra wat die konsep ‘kreatiwiteit’ vir hulle as ’n besigheid beteken.

“Mense het dikwels wanopvattings oor wat kreatiwiteit werklik is. Hulle onderskat ook die waarde wat dit vir hul persoonlike en beroepslewe kan inhou.”

Wanneer die maatskappy praat oor kreatiwiteit moet dit nie ’n wollerige, esoteriese konsep wees nie. Daar moet ’n gemeenskaplike verstandhouding onder al die werknemers op alle vlakke wees. Dit moet duidelik aan alle werknemers gekommunikeer word en almal – van topbestuur tot voetsoolvlak – moet daarby inkoop.

Dit word op drie vlakke binne die organisasie uitgevoer:

Organisatories

Skep bewustheid oor die beginsels en werkmetodes van kreatiwiteit en innovering.

Groep en span

Spanne en afdelings moet met die nodige gereedskap toegerus word om die sameloop en uiteenvloeiing van idees aan te wakker.

Carla Lewis

Individueel

Individue word deur opleiding en werksessies bemagtig sodat hulle kreatiewe denke begin verstaan en dit binne die werkplek toepas.

“Meer ‘konserwatiewe’ en tradisionele werknemers sukkel soms, maar wys vir hulle hoe hulle daarby kan baat vind en gee praktiese voorbeelde oor hoe kreatiewe denke in hul veld voordelig was,” is Vermaak se raad.

Wanneer mense besef dit bied groter werksekerheid in ’n wispelturige arbeidsmark, asook beter beroepsgeleenthede en kanse op bevordering – sal hulle beter verstaan watter waarde dit inhou.

Steve Jobs is maar een van die baanbrekers wat kreatiwiteit in ’n tradisionele stem-bedryf gebruik en ’n revolusie met Apple ontketen het. “Plaaslik borrel dit van kreatiewe idees, veral by ons entrepreneurs. Daar is ook ’n groot getal beginbesighede wat ’n kraakvars, opwindende benadering tot hul werkwyse het.”

  • Vermaak is die mede-eienaar van Casablanca Manor, ’n geleentheidsvenue buite Pretoria wat onder meer spesialiseer in die opleiding van maatskappye en individue om meer innoverend en kreatief by die werkplek te dink en funksioneer. Vir meer inligting bel haar by 083 288 2032 of stuur ’n e-pos na lynn@ahacc.co.za.
  • Lewis is ’n senior verslaggewer van Beeld.
Gevaar van KI

Die entrepreneur Elon Musk het al telkens teen die gevare van kunsmatige intelligensie (KI) gewaarsku. Wyle Stephen Hawking, genie-wetenskaplike, het ook sy kommer gelug. KI en outomatisasie hou reeds talle gevare vir werksekerheid in. Fabrieke maak van robotte gebruik en in Amerika is daar selfdiens-kassierpunte by supermarkte waar jy self jou kruideniersware skandeer en daarvoor betaal.

Futuriste voorspel dat hoogs kreatiewe en tegniese beroepe vir eers veilig is, asook beroepe wat ’n hoë vlak van emosionele intelligensie en interpersoonlike vaardighede verg.

“Jou posbeskrywing of beroep gaan miskien nie meer oor 10 jaar relevant wees nie, maar jy kan nou reeds pro-aktief wees en seker maak jou vaardighede is wel,” is Vermaak se raad.

“Werknemers en hul maatskappye moet nou al ’n ingesteldheid kweek dat die 21ste eeuse beroepslewe ’n lewenslange proses van leer en studeer is. Jy moet jouself voortdurend nuwe vaardighede aanleer en aan nuwe ervarings blootstel.”

Die top-10 mees gesogte vaardighede in 2020 gaan volgens The Future of Jobs-verslag wees: Ingewikkelde probleemoplossing; kritiese denke; kreatiwiteit; menseverhoudings en bestuur; menslike hulpbronkoördinasie; emosionele intelligensie; goeie oordeel en besluitneming; dienslewering-georiënteerdheid; onderhandeling en kognitiewe veerkragtigheid.

Maak jouself toekomsbestand

Stel nou vir jou loopbaandoelwitte wat jou sal bemagtig om dié tien vaardighede aan te leer en uit te leef.

Dit sluit in om ’n mentor te vind; ’n netwerk van kontakte binne en buite jou maatskappy op te bou wat ook dié doelwitte en vaardighede nastreef; seker te maak jy is op die hoogte van die nuutste professionele, ekonomiese en tegnologiese tendense in jou beroepsveld; bewus te wees van geleenthede vir groei en persoonlike ontwikkeling en aansoek vir beurse en studiegenootskappe te doen; vaardighede te ontwikkel wat in veelvoudige beroepsvelde gebruik kan word; en veerkragtig en aanpasbaar te wees in ’n korporatiewe omgewing wat voortdurend verander.

Meer oor:  Carla Lewis  |  Loopbane  |  Kunsmatige Intelligensie  |  Loopbaan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.