Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Beskerm teen skerms

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het nuwe riglyne oor skermtyd vir klein kinders bekend gemaak – en dis minder as wat jy dink, skryf Delia du Toit.

Daar is min dinge so nuttig soos ’n televisie vir ouers met min tyd. Speel PAW Patrol of haar gunsteling Lollos-DVD en skielik het jy ’n paar minute vry om gou die huis skoon te maak of aandete gereed te kry. Maar dit doen jou kleinding dalk nie goed nie.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het in April nuwe riglyne oor skermtyd vir klein kinders bekend gemaak. Daarvolgens moet kinders jonger as een jaar glad nie tyd voor ’n televisie, slimfoon, rekenaar of tablet deurbring nie, en kinders tussen twee en vier jaar nie meer as ’n uur per dag nie. Kinders jonger as vyf jaar moet so min as moontlik tyd voor skerms deurbring – sittende tyd moet eerder dinkspeletjies soos blokkies en legkaarte behels.

Sorein Nell, ’n arbeidsterapeut van Johannesburg, sê die riglyne is lankal nodig. “Die uitwerking van te veel skermtyd is verreikend. Kinders leer ’n natuurlike kop-lyf-ritme aan deur fisieke speletjies, en dié ritme verswak deesdae omdat hulle te veel tyd voor skerms deurbring. So ook ruimte- en diepte-persepsie, en vinnige besluitneming – alles vaardighede wat ’n kind aanleer deur buite te speel. As hulle saans skermtyd het, kan die blou lig hul slaappatrone versteur, wat vlakke van die streshormoon kortisol verhoog en kan lei tot angs, depressie en aandagprobleme.”

Skermtyd het inderdaad ’n groot invloed op gebrekkige konsentrasie in die klaskamer – of dit nou saans is of nie. ’n Kanadese studie van ongeveer 2 500 kinders wat vroeër vanjaar in die vaktydskrif Plos One gepubliseer is, wys jong kinders wat meer as twee uur per dag voor ’n skerm deurbring, het ’n sewe keer groter kans om aandagafleibaarheids- en hiperaktiwiteitsversteuring te ontwikkel as dié wat ’n halfuur of minder skermtyd per dag kry.

In haar praktyk vra Sorein ouers om geen skermtyd in die week toe te laat nie. “Hulle lyk gewoonlik geskok – hoe hou jy dan ’n kind besig? Die ironie is dat kinders vandag besig gehou moet word omdat hulle nie meer leer om hulself kreatief besig te hou nie.”

Dit beteken nie jy moet jou kind tot op hoërskool skermtyd verbied nie. Daar is baie voordele aan tegnologie – van opvoedkundige toepassings (apps) en programme tot die blote pret om saam met Lollos te sing en lag. “Maar leer jou kinders van kleins af goeie gewoontes. Nes jy hulle leer om nie te veel suiker te eet nie, moet jy hulle leer om ’n bietjie skermtyd met baie aktiewe speeltyd te balanseer.”

Sy waarsku dit kan moeilik wees. “Skermtyd, met al die apps en interessanthede, verhoog afskeiding van die goedvoelhormoon dopamien. So ontwikkel ’n mens geleidelik ’n afhanklikheid. Wanneer kinders dan nie die verhoogde dopamien kry nie, voel hulle geïrriteerd en emosioneel. Verwag maar ’n gekerm.”

Die beste oplossing is om self ’n goeie voorbeeld te stel, sê Sorein. “Dis beslis nie net kinders wat skuldig is aan skermverslawing nie. Jy kan nie verwag dat jou kinders beter gewoontes aanleer as jy dit self nie doen nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.