Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Beste maats vir áltyd

Reandi Grey (links) en haar vriendinne kan weer saam kuier nadat die inperking hul impulsiewe kuiersessies by mekaar se huise vir maande stopgesit het. Foto: Facebook
’n Oxford-studie sê vele vriendskappe het gedurende die inperking verbrokkel. Kelly Minnie vind uit dis dalk nie heeltemal só nie, maar dis tog broodnodig om jou vriende fisiek in die oë te kyk.

Luidens ’n artikel wat in ’n tydskrif van die Royal Society gepubliseer is, kan vriendskappe waaraan jy nie die “regte” aandag gee nie, binne drie maande begin agteruitgaan.

Die skrywer, prof. Robin Dunbar, ’n evolusionêre sielkundige aan die Universiteit van Oxford, kyk in die studie na hoe verhoudings wêreldwyd geraak is deur die inperking.

Volgens Robin is dit noodsaaklik dat vriende mekaar gereeld in lewende lywe sien om die verhouding in stand te hou. Hy sê digitale kommunikasie is nie voldoende nie. Gevolglik het vriendskappe verbrokkel gedurende die inperking omdat mense nie gehaltetyd saam met vriende kon deurbring nie.

Mense het besef dat hulle meer moeite moet doen om vriendskappe in stand te hou en hulle het na hul toestelle gegryp om met vriende te kommunikeer.

Volgens plaaslike sielkundiges het hulle nie dié tendens opgelet nie.

Adri Vos, ’n berader van Randburg, sê sy kan dit nie bevestig uit haar ervaring in haar praktyk nie.

“Mense het hul vriende en familie gemis, maar dit het nie noodwendig vriendskappe laat agteruitgaan nie,” sê sy.

Sy meen mense het besef dat hulle meer moeite moet doen om vriendskappe in stand te hou en hulle het na hul toestelle gegryp om met vriende te kommunikeer.

Maniere om aanlyn kommunikasie te laat werk:

Kies ’n vaste tyd

’n 2008-studie deur César Hidalgo, ’n fisikus wat aan die Universiteit van Notre Dame in die VSA gestudeer het, het getoon ’n kern-kenmerk van langtermyn-vriendskappe is dat die vriende ewe veel met mekaar deel en kontak maak. Die maklikste is om ’n tyd vas te maak in albei se program om in te haal en daarby te hou. César sê vriende moet ook besluit hoe gereeld hulle gaan gesels.

Die aktrise Mila Guy het ervaar dat die inperking haar juis meer tyd gegee het om aanlyn te kommunikeer. Haar familie woon in Nieu-Seeland en vir hulle is dit die norm om aanlyn te kommunikeer. “Ek het elke dag wanneer ek gaan oefen het in die parkeerterrein my mense gebel,” sê sy.

Tog stem sy saam dat telefoon- of digitale kommunikasie nie kan kers vashou daarby om iemand in lewende lywe te sien nie.

“Dit is maklik om te maak of jy oukei is as jy met iemand oor die foon praat, maar as jy by hulle is en hulle in die oë kan kyk, maak mens makliker ‘oop’,” sê sy.

Kies die regte metode

Volgens dr. Irene S. Levine, ’n sielkundige en vriendskapskenner, is dit belangrik om saam te besluit watter manier van kommunikasie vir albei vriende die beste resultate gaan lewer.

Die maklikste is om oproepe en SMS-boodskappe met vriende te deel, maar stemnotas, video-oproepe en selfs groepe op WhatsApp wat snaakse foto’s en video’s deel, kan dien as doeltreffende kommunikasiemetodes.

Reandi Grey, wat die rol van Esti in 7de Laan vertolk, sê sy moes baie meer moeite doen tydens die inperking om haar manier van kommunikeer te verander.

“Ons het gereeld impulsiewe kuiers of ’n braai oor die naweek met vriende, so dit was nie altyd nodig om deur die week in te check nie, maar omdat daardie opsie nie daar was nie moes ons aanlyn kommunikeer.”

Oefen om empaties te wees

Daar is verskeie uitdagings wat vriende ervaar wanneer hulle ver van mekaar is. Irene sê dit is belangrik dat vriende wat skielik ver van mekaar is, empatie het vir die ander persoon se “nuwe realiteit”.

Vriende moet praat oor wat anders is en sensitief wees vir wat die ander persoon sê. Volgens haar sal dit die kommunikasie versterk deur te erken dat dit moeilik en anders is.

Sy sê dis ook belangrik om mekaar te verseker die vriendskap gaan nie sommer verdwyn nie.

Onthou belangrike datums

Verjaardae, herdenkings en ander belangrike datums dra selfs meer gewig in langafstand-vriendskappe. Doen meer moeite op spesiale dae.

Hou ’n notaboek van al die datums sodat jy dit onthou. Pos ’n geskenk vooruit, maak ’n video of stuur ’n verjaardagkaartjie. Volgens ’n 2015-studie word vriendskappe versterk deur die ekstra moeite wat mense insit.

Deel dinge met mekaar

Irene deel in haar boek Best Friends Forever: Surviving a Breakup with Your Best Friend dat dit belangrik is om meer as net “hoe gaan dit?”-gesprekke te hê. Volgens haar moet vriende meer dinge saam doen.

Kyk op dieselfde tyd na dieselfde fliek, kook dieselfde resep of eet saam terwyl julle gesels. Sy sê vriende moet selfs probeer om die dinge wat hulle gewoonlik saam sou doen, apart te probeer doen en die herinneringe met mekaar te deel. Gaan eet by jul gunsteling-restaurant of gaan na jul gunstelingwinkelsentrum toe. Sy sê dit laat jou “naby” jou vriende voel en dit kan die vriendskap versterk.

Ken jou vriende se liefdestaal

Nicole Sbordone, berader en skrywer van Surviving Female Friendships: The Good, The Bad, and The Ugly, sê dit is belangrik om die vyf “liefdestale” – aanraking, woorde, tyd, geskenke en dade – van dr. Gary Chapman deur te trek na vriendskap.

Nicole sê wanneer jy verstaan dat jou vriendinne moet hoor hoe belangrik hulle is of dat hulle geliefd voel as jy kwaliteittyd saam met hulle deurbring, kan julle dit gebruik om mekaar meer doeltreffend lief te hê.

Jy moet ook jul digitale kommunikasie koppel aan die regte liefdestaal. Dit is moeiliker vir mense wat aanraking as liefdestaal het. Dr. Jenny Groarke, ’n lektor aan die Queen’s-Universiteit in Belfast, sê digitale kommunikasie is minder bevredigend omdat dit spruit uit ’n gebrek aan aanraking.

Reandi sê sy sal nie vir altyd net aanlyn met mense kan kommunikeer nie. “My liefdestaal is aanraking, so om nie vir mense drukkies te kan gee nie is vir my baie erg.”

Meer oor:  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.