Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Bethelsdorp-polisie vang nie nét misdadigers

Misdadigers is nie al wat die polisie kan vang nie.

Drie lede van die polisie in Port Elizabeth het die afgelope naweek gehelp toe ’n vrou in kraam dringend hulp moes kry.

Die drie polisielede van Bethelsdorp, ao. Riaan Tesnar, sers. Tebogo Makombe en konst. Luwando Tsiu, se Sondag-patrollie is omstreeks 18:50 onderbreek deur twee histeriese vroue wat hulle in ’n straat in die Greenfields- informele nedersetting voorgekeer het. Hulle het die polisiebeamptes ingelig oor ’n vrou in kraam wat hulp nodig het.

Konst. Luwando Tsiu, ao. Riaan Tesnar en sers. Tebogo Makombe het die afgelope naweek ’n vrou gehelp wat in die Greenfields- informele nedersetting in Port Elizabeth gekraam het. Foto: Verskaf

Toe die drie by die huis aankom, was die kind reeds gebore, maar die naelstring was steeds geheg, sê kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder.

Tesnar het dadelik ingespring en met ’n stukkie tou en wasgoedpennetjie die naelstring afgebind, terwyl sy kollegas ’n verpleegster in die gebied gaan roep en die ambulans na die huis vergesel het.

Volgens Tesnar was dié voorval ’n eerste vir hom in sy 30 jaar as polisiebeampte. “Ek het bygestaan met my kinders se geboorte, maar toe was ek net ’n toeskouer.

“Êrens in my kop het dit vasgesteek die naelstring moet afgebind word.

“Dit is altyd mooi om ’n nuwe lewe te sien, die ervaring was aangrypend.”

Nadat die naelstring afgebind is, het Tesnar saam met die ma en baba vir die ambulans gewag om seker te maak sy word veilig opgeneem.

Hoewel Tesnar meen hy nie sommer gou weer in só situasie sal beland nie, oorweeg hy wel om ’n bietjie oor geboortes na te lees ingeval hy dit dalk in die toekoms nodig kry.

Genl.maj. Thembisile Patekile, bevelvoerder van die Mountweg-polisiegebied, het Tesnar, Makombe en Tsiu vir hul optrede geloof.

Volgens Patekile moet ’n polisiebeampte bereid wees om in enige situasie te help. “Wanneer die gemeenskap by ons manne en vroue in blou om hulp aanklop, word daar verwag dat hulle op die taak sal reageer.

“Die beamptes het kalm gebly en gehelp om ’n pragtige kind die wêreld in te bring. Geluk met jul goeie werk,” sê Patekile.

Meer oor:  Priscilla Naidu  |  Port Elizabeth  |  Bethelsdorp  |  Naelstring  |  Polisie  |  Kraam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.