Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Bfn se brandweer-museum: 60 j. se geskiedenis nou digitaal

Naas rye en rye ou brandweerwaens en die swierige ou motors van Bloemfontein se eerste burger en sy stadsklerk, het die brandweermuseum ’n toevoeging gekry. Die koerantberigte en -artikels van bykans 60 jaar is ingeskandeer en elektronies vir die nageslag beskikbaar.

Braam van Zyl, afdelingshoof van Mangaung se brandweer- en noodreddingsdiens, werk al sowat 36 jaar by die metro. Hy is baie trots op die geskiedenis van sy brandweerafdeling, wat soos ’n goue draad van voortreflike dienslewering aan die metro en sy mense loop.

Braam van Zyl, afdelingshoof van die Mangaungse brandweer- en noodreddingsdiens, is passievol oor die brandweermuseum. Hier sit hy hoog op ’n leer van ’n ou brandweerwa wat deel is van die uitstalling in die brandweermuseum. Foto’s: Mlungisi Louw, tensy anders vermeld

Hy vertel dat besoekers nou baie van die geskiedenis van Bloemfontein hier sal kan kom navors, insluitende dié van die politiek onstuimige 1980’s toe selfs bomme in die middestad ontplof het.

“As ek die twee grootste gebeure in my loopbaan by die brandweer sou uitsonder, is dit die afbrand van die Bloemfonteinse stadsaal in 2017 en die brand by Mimosa Mall drie maande later.

Braam van Zyl werk al van 1986 af by die metro.

“Die eerste was vir ons ’n groot vernedering omdat dit gebeur het tydens ’n staking van Samwu (Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie) waaraan ons eie personeel deelgeneem het. By Mimosa Mall was daar drie brande tegelyk op drie verskillende vloere en het ons 9 000 mense binne 12 minute uit die Mall gehelp.”

So lyk die uitstalling in die skuur van die Mangaung-metro se brandweer- en nooddienste vanuit die lug. Die talle brandweerwaens van vervloë dae het elk ’n eie storie. Foto: Argief

Bewaring

Van Zyl sê sedert die stigting van Bloemfontein se brandweer- en ambulansdiens in 1899 was dit die gebruik om toerusting, voertuie, dokumente en foto’s te bewaar.

Uitgediende brandweerwaens wat vervang word, word ook bewaar en nie verkoop nie.

Marelie van Rensburg, senior ontwerper en kunstenaar by die Nasionale Museum in Bloemfontein, staan by die uitstallings van geskiedkundige foto’s van die brandweer- en noodreddingsdiens van die Mangaung-metro in Bloemfontein. Dit is in die brandweermuseum te sien. Sy het stukke oor die brandweerdiens se geskiedenis oor 60 jaar ingeskandeer en digitaal saamgestel.
Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die Mangaung-metro, sê Bloemfontein is trots op sy brandweer- en noodreddingsdiens wat die geskiedenis so mooi bewaar. Hy moedig ander afdelings aan om dit na te volg. Hier staan hy by ou brandweerwaens in die museum.

Die gedagte aan ’n museum het in die 1980’s ontstaan en ’n komitee het dit ondersoek.

“Alhoewel daar baie oudhede was, was daar nie ’n geskikte perseel nie. Die plan is laat vaar.

“In 1999 het die ambulansdiens van die brandweerafdeling na die provinsiale administrasie geskuif. Kantoorruimte het by die Ehrlichpark-brandweerstasie ontstaan.

“Die ou afdeling vir burgerlike beskerming (nou bekend as die rampbestuursdiens) het in die 1980’s ’n groot sinkstoor, afkomstig van ’n ou lugmagskuur, in die agterplaas van die Ehrlichpark-brandweerstasie opgerig. In 2002 het die gebou in onbruik geraak en is dit aan die brandweer oorhandig.”

Chris van der Walt, stasie-offisier van die openbare brandveiligheidsafdeling van die Mangaung-metro se brandweer- en noodreddingsdiens, by die glaspanele met ou foto’s van Bloemfontein in die brandweermuseum.

Met die bykomende ruimte by die Ehrlichpark-brandweerstasie was daar voldoende plek.

“In 2003 het Pappie Mokoena, toenmalige burgemeester, toegestem tot die vestiging van die museum. Hy het geld beskikbaar gestel vir die bou van uitstalkaste en opdrag gegee dat twee ampsmotors van voormalige burgemeesters van sy kantoor na die museum oorgeplaas word.”

Braam van Zyl en Patrick Senti, assistent-afdelingsoffisier vir openbare brandweer-opvoeding, kyk hier na Kerskaartjies wat brandweerdienste van verskillende dorpe en stede oor dekades heen vir mekaar gestuur het.

Beplanning

Van Zyl onthou hoe hulle – as ’n klompie brandweermanne sonder geskiedenis as ’n vak op skool – gaan hulp soek het.

Johan van Zyl van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein het die uitleg gedoen. Brandweerpersoneel het die oorspronklike uitstalkaste gebou en die ou voertuie en toerusting gerestoureer.

Die Austin Princess van 1956 met die registrasienommer OB1 was ’n ampsmotor vir die Bloemfonteinse burgemeester.

Later het die Nasionale Museum in Bloemfontein danksy ’n goeie werksverhouding met die ontwerp en maak van uitstallings gehelp.

“Die museum het 22 ou brandweerwaens van 1926 tot 1990, ’n ambulans van 1985, ’n verkeerskonstabel-motorfiets van 1960, twee ou ampsmotors van burgemeesters, ’n verkeerslig van 1933 wat in Maitlandstraat gestaan het en nog werk, en baie ander historiese stukke.

“Ons het ook ’n plakkershuis opgerig omdat 70% van al Mangaung se brandsterftes in plakkershuise plaasvind,” sê Van Zyl.

Ou foto’s van Bloemfontein is ook te siene. Hier is die ou Maitlandstraat, die hoofstraat wat nou Charlotte Maxeke-straat heet, met die Nasionale Letterkundemuseum en Navorsingsentrum (Naln) op die agtergrond.

Die brandweer wil mense op brandgevare wys en veiligheidswenke gee.

Sedert die ontstaan van die museum is jaarliks sowat 8 000 besoekers ontvang, van wie 90% skoolgroepe is. In skoleprogramme word leerlinge oor brandvoorkoming en veiligheid onderrig. Gidse is van die afdeling vir openbare opvoeding.

’n Sonderlinge foto van ’n ramptoneel waar twee treine op 2 September 1933 by Sannaspos buite Bloemfontein gebots het.

Staaltjies

By die Bloemfonteinse brandweer is staaltjies volop, vertel Van Zyl.

“In die middel van die 1980’s het die brandweer ’n behoefte aan ’n nuwe mobiele hidrouliese hyser met ’n platform gehad. Dit was toe die stadsraad in die spervuur was oor die bou van die Burgersentrum (Glaspaleis). Die raad sien toe die geleentheid om die aandag af te trek en besluit om ’n baie duur hyser met platform in te voer.

“Dit was baie duurder en langer as waarvoor begroot is. Sodoende ontvang die brandweer toe die langste leer in die Suidelike Halfrond.”

Die ysmasjien vir drankies is in 1930 die eerste keer deur raadslid Sol Harris, destydse burgemeester, aangeskakel.

Die Bloemfonteinse brandweer was so beter toegerus as hul kollegas in Johannesburg en Kaapstad, met baie meer en groter geboue.

“Die brandweerpersoneel was natuurlik baie trots op die voertuig.

“Die raad is erg oor die enorme uitgawe gekritiseer. Gevolglik is die omstrede besluit geneem dat die voertuig aan inwoners uitverhuur moet word.

“Kontrakteurs het dadelik besef dit is baie ekonomies om die voertuig te huur. Dit was baie meer gerieflik as om lere en stellasies te gebruik.”

Bloemfontein se eerste verkeerslig (regs voor) het in Maitlandstraat (nou Charlotte Maxeke-straat) gestaan. Voor is die grys Pontiac, registrasienommer OB 74, wat van 1950 die stadsklerk in Bloemfontein se motor was. Later jare het die brandweerhoof daarmee gery. Brandweermanne het vroeër die burgemeesters en stadsklerke se motors bestuur.

Die voertuig en sy operateur was toe daagliks eintlik in diens van kontrakteurs. Vir die brandweer was dit ’n bitter pil.

“Nie net was die voertuig nie onmiddellik beskikbaar as daar ’n brand was nie, dit is ook erg verniel.

“Gelukkig is die praktyk ná ’n paar jaar gestaak,” sê Van Zyl. (Sien spotprent).

’n Spoggerige brandweerwa van vervloë jare soos dié waarna jy op jou Rice Krispies-boksie as kind grootoog kon kyk, is onder die skatte in die Bloemfonteinse brandweermuseum.

Navorsing

Die museum het baie ou dokumente, briewe, foto’s en kaarte van die brandweer én die munisipaliteit.

“Baie navorsers het al ons argiewe besoek. Dit sluit in mense wat inligting oor die ou Bloemfonteinse begraafplase en ook straatname soek. Nelson Mandela-rylaan was byvoorbeeld eers Voortrekkerstraat en voor dit St. Johnstraat.”

Vir 2010 se Wêreldbeker-sokkertoernooi was Bloemfontein ’n gasheerstad. Die brandweer moes help om die ouderdom van die ou kragstasie se vier koeltorings te bepaal voordat dit versier kon word.

’n Spotprent in Die Volksblad deur Charl Marais oor die hoë hystoestel met ’n platform wat vir die Bloemfonteinse brandweer aangekoop is om die aandag van die bou van die Glaspaleis af te lei. Foto: Verskaf

’n Ander keer het ’n argitektuurstudent van die Universiteit van die Witwatersrand op ’n Sondag in haar pa se ligte vliegtuig na Bloemfontein gevlieg om inligting oor die historiese Pres. Brand-straat te kry. Sy het aan ’n honneursprojek gewerk.

Van Zyl sê toe die Vriende van die Franklin-wildreservaat onlangs die “Bloemfontein”-letters teen Naval Hill skoongemaak het, kon die brandweer die oorsprong van die letters verklaar.

Dr. Hannes Haasbroek, historikus en skrywer, het in sy boek Spikkels en spatsels inligting van die brandweermuseum benut, so ook die omroeper Hennie Maas in sy boek Sterre en planete.

Nuus oor die omstrede hystoestel wat tot ’n spotprent gelei het. Foto: Verskaf

Koerantknipsels

Die afgelope 60 jaar was dit die taak van die brandweerhoof se sekretaresse om alle brandweer-verwante koerantberigte en -artikels uit te knip en in ’n lêer te plaas.

Dit sluit knipsels uit (Die) Volksblad, The Friend, Rapport, Ons Stad, Bloemnuus, Courant, Express en talle ander publikasies in.

Vir 28 jaar – van 1991 tot haar aftrede verlede jaar – het Sonja Crouch die knipsels uitgeknip en gebêre.

Marelie van Rensburg, senior ontwerper/kunstenaar van die Nasionale Museum, het van 1960 tot 2018 se knipsels ingeskandeer.

Van Zyl sê die laaste twee jaar se berigte en artikels moet nog ingeskandeer word, asook enkele berigte en artikels van voor 1960 en knipsels van ander munisipale afdelings soos verkeer, veiligheid en rampbestuur.

Pluimpie

Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die Mangaung-metro, loof die brandweer- en nooddiens vir dié werk. Hy sê ander departemente behoort ook hul wonderlike geskiedenis so te bewaar.

Khedama betuig ook sy dank aan Van Rensburg (van die Nasionale Museum), wat langer as ’n jaar in kosbare tyd die knipsels geskandeer en elektronies beskikbaar gestel het.

Navorsing

Van Zyl sê al die ingeskandeerde berigte en dié wat nog volg, is gratis beskikbaar. Belangstellendes kan hom by 084 818 9144 bel of ’n e-pos aan braam.vanzyl@mangaung.co.za rig.

Besoeke

Individue en klein of groot groepe kan die museum tydens kantoorure besoek. Toegang is gratis. Dit kan slegs per afspraak geskied. Vir ’n afspraak, bel Patrick Senti by 082 220 1907 of Chris van der Walt by 082 378 6447.

Meer oor:  Digitaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.