Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Blinde fietsryer oorwin Himalaja in tandem

Om 550 km met ’n fiets in die Himalaja-gebergte in Indië te ry sit nie in almal se broek nie, veral nie as jy blind is nie. Dit het Cindy Jacobsz egter nie afgeskrik om die yslike tog aan te pak – en te voltooi nie.

Jacobsz het aan die einde van Augustus saam met die mediapersoonlikheid Liezel van der Westhuizen op ’n tandemfiets deelgeneem aan die M2K-fietswedren tussen Manali en Khardung La in Indië om geld vir OneSight en Operation Smile in te samel.

Jacobsz (agter) en Van der Westhuizen tydens die ren.
Jacobsz (links) en Van der Westhuizen hou hul tandemfiets omhoog nadat hulle die wedren voltooi het.

Hulle moes onder meer hael, ysreën, sterk winde en ’n hoogte van 5 586 m trotseer. Meganiese probleme en selfs infeksies het ook hul vordering by tye vertraag.

“Om so ver te ry op van die hoogste paaie ter wêreld is angswekkend, veral as die pad op party plekke so verweer is dat dit skaars bestaan. Jy moet ongelooflik fiks wees en ’n sterk ingesteldheid hê om dit te voltooi,” sê Van der Westhuizen.

Jacobsz is die eerste blinde vrou van Suid-Afrika wat die ren voltooi het. Sy wou met haar deelname bewustheid skep vir die behoefte om sulke wedrenne vir blinde fietsryers in Suid-Afrika te hou.

“Dit is die ervaring van ’n leeftyd en ek sal baie graag soortgelyke geleenthede in Suid-Afrika vir blinde fietsryers wil reël sodat meer blinde en gesiggestremde deelnemers die geleentheid kan kry om bergfietswedrenne en die natuur van Suid-Afrika te geniet,” sê Jacobsz.

Hulle het deur ’n webtuiste vir skarefinansiering, givengain.com, byna R9 000 ingesamel. - Saamgestel deur Simon Sonnekus.

Meer oor:  Operation Smile  |  Indië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.