Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Blinde man (60) van George skryf sy eerste roman
Linda Ngaleka, senior bestuurder by die Suid-Afrikaanse Biblioteek vir Blindes (links), Richard Albertse, Rachel Williams (hoof van die George-biblioteek) en Vuyokazi Mandongana, uitreik-bibliotekaris by die Suid-Afrikaanse Biblioteek vir Blindes, toe Albertse se eerste boek Vision in die George-biblioteek bekend gestel is. Foto: Jackie Kruger

Dit maak nie saak watter uitdagings in ’n mens se lewe is nie.

“Jy kan alles met die Here se genade oorwin,” het Richard Albertse (60), ’n blinde inwoner van George, onlangs gesê nadat sy eerste roman, Vision, onlangs gepubliseer is.

Albertse was tien jaar oud toe oogprobleme by hom gediagnoseer is. Hy was in sy twintigs toe hy heeltemal blind geword het.

Hy werk reeds byna 40 jaar in die bankwese as ’n skakelbordoperateur en woon saam met sy vrou, Riana, wat ook blind is, in George.

Sy boek handel ook oor ’n jong man wat eers kon sien en toe blind geword het. “Dit klink dalk outobiografies, maar dit is uit en uit fiksie,” sê hy.

Sy boek is verlede Saterdag in die George-biblioteek bekend gestel. Van sy grootste ondersteuners, Linda Ngaleka en Vuyokazi Mandongana, onderskeidelik ’n senior bestuurder en ’n bibliotekaris van die Suid-Afrikaanse Biblioteek vir Blindes in Makhanda (Grahamstad), het die geleentheid bygewoon.

“Ons is so trots op Richard,” sê hulle. “Ons het hom aangemoedig om die boek te skryf.”

Albertse het reeds in 2016 aan die boek begin skryf. Hy het later met die manuskrip ’n kompetisie van die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika se Sentrum vir die Boek gewen om sy manuskrip te publiseer.

Ons is so trots op Richard.

Die boek gaan nie in braille gepubliseer word nie, maar Albertse sê hy wil dit wel as ’n luisterboek uitgee.

Die omslag is deur sy seun, Richard jr, ontwerp.

Die eerste eksemplaar is op die bekendstelling aan Rachel Williams, bestuurder van die George-biblioteek, oorhandig.

Williams het gesê die boek is ’n groot prestasie vir George. “Dit is ’n getuigskrif van die menslike veggees. Richard is ’n voorbeeld vir ons almal.”

Albertse het die boek geskryf met behulp van spesiale rekenaarsagteware en ander toerusting.

Sy gunstelingskrywers is onder andere John Grisham en David Baldacci. Hy is ook baie lief vir musiek en bou self klankbane wanneer hy tyd het.

Meer oor:  Roman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.