Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Bly só veilig op Kaapse strande

Nadat twee mense die naweek in die water by die Strand in die moeilikheid beland het, het die owerhede mense gewaarsku om versigtig te wees en net op die aangewese plekke te swem.

Een man is in ’n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem maar die ander een word nog vermis.

“Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) doen ’n beroep op mense om net op strande te swem waar daar lewensredders aan diens is,” sê Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI.

Hy vra ook dat mense tussen die vlaggies op die strand moet swem. “En asseblief, moenie swem wanneer die lewensredders nie aan diens is nie.

“Ons doen ’n beroep op ouers en voogde om seker te maak dat daar toesig gehou word vir kinders se veiligheid in en rondom water.”

Hy vra dat almal bewus moet bly van sleurstrome, en sê die volgende springgety is op 12 Desember met volmaan. “Hoogwater sal hoër wees as gewoonlik en laagwater sal laer wees as gewoonlik. Dit het reeds begin en sal duur tot 17 Desember.

“Almal wat langs die see stap, visvang of swem moet versigtig wees,” sê Lambinon.

Ook Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, sê in ’n verklaring mense moet seker maak hulle swem tussen die rooi en geel vlae op strande.

“Maak seker jy weet hoe om te swem voordat jy in die see ingaan. Swem tussen die rooi en geel vlae, aangesien hierdie gebiede deur lewensredders gepatrolleer word,” sê Badroodien.

“Identifiseer ’n maklike plek om te ontmoet waar julle kan bymekaarkom as iemand wegraak. Bly gehidreer en pasop vir tekens van ontwatering soos buitengewoon vinnige of stadige polsslag en vinnige, vlak asemhaling,” sê hy.

“Moenie alkohol drink voordat jy swem nie, want dit beïnvloed jou oordeel. Moenie in onbekende water duik nie, want daar kan rotse of ander gevare wees.”

As jy in ’n stroom beland, raai Badroodien jou aan om die volgende te doen:

  • Moenie paniekerig raak nie.
  • Moenie probeer om teen die stroom reguit terug strand toe te swem nie, want dit sal jou uitput.
  • Probeer water trap of draai op jou rug en dryf.
  • Lig een arm op in die lug en waai om hulp en om mense op die strand se aandag te kry.
  • Swem buite die stroom parallel met die strand en gebruik dan golwe om jou terug te neem na die strand.

Lewensredders

Die Kaapstad-metro het poste vir lewensredders by strande en munisipale swembaddens by 35 munisipale swembaddens en openbare strande vir die somer.

“Lewensredders werk van September tot April op ’n tydelike kontrak, maar by sommige swembaddens kan die tydperk tot Junie voortduur namate ons lewensredders nodig het wat gedurende dié tyd aanwesig is om swemmers veilig te hou,” lui die metro se webtuiste.

Die aansoekproses vir lewensredders op strande is streng en vereis verdere opleiding. Elke lewensredder moet aan vereistes voldoen wat deur Lewensredding Suid-Afrika daargestel word.

Daar is ook minimumvereistes: ’n gr. 10-sertifikaat of ekwivalent, ’n geldige lewensredders-toekenning of ekwivalent met huidige jaarlikse hertoets, ’n skoon misdaadrekord en geen hangende sake nie.

Die persoon móét dwelmvry wees - daar word van alle kandidate verwag om dwelmtoetsing te ondergaan. Hulle moet ook ’n geldige eerstehulp-sertifikaat op vlak 2 hê.

Daar is ook senior-lewensredders op strande wat ’n minimum van twee jaar as lewensredders op strande gewerk het, minstens matriek het, en eerstehulp-sertifikaat op vlak 2 hê.

Sedert die tweede week van September is lewensredders by verskillende strande in die stad gestasioneer. Meer as 330 lewensredders sal aan diens wees om openbare veiligheid te verseker.

In die 2018-’19-seisoen het die Kaapstad-metro se Ontspannings- en Parke-afdeling ’n afname van byna 50% in die aantal verdrinkings in vergelyking met die vorige seisoen aangeteken.

Blouvlagstrande in Kaapstad

Tien Kaapstadse strande het Blouvlag-status gekry, wat beteken dat dié strande die beste is wanneer dit kom by watergehalte, omgewingsbestuur, veiligheid en dienste.

Die strande is:

  1. Bikini Beach, Gordonsbaai
  2. Kampsbaai
  3. Vierde strand, Clifton
  4. Vishoek
  5. Llandudno
  6. Melkbosstrand
  7. Mnandi
  8. Muizenberg
  9. Silwerstroomstrand
  10. Strandfontein
  11. Seaforth (proefstatus. Dit verwys na ’n proeftydperk - dit kan Blouvlag-status kry).

Die departement van ontspanning en parke van die Kaapstad-metro sê hulle is ekstaties dat die 10 strande hierdie internasionale toekenning ontvang het.

“Die toekenning van blouvlagstrand word toegeken aan strande wat uitnemendheid lewer deur aan 33 kriteria te voldoen.

“Ons personeel werk onvermoeid om ’n gehalte-ervaring vir alle besoekers aan ons fasiliteite te verseker,” sê Badroodien.

Meer oor:  Nsri  |  Craig Lambinon  |  Veiligheid  |  Strande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.