Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
‘Boer’ maak ’n inklusiewe plan

Waar Johann Harmse van agter sy lessenaar opstaan om te groet, lyk hy soos ’n boer. Hy skud blad soos een, kyk ’n mens in die oë en glimlag net-net. Jip – in sy kakiehemp, jannas en werkstewels versinnebeeld hy ’n hele klomp BBP-hutsmerke: #boer, #befoeterdmaarhoflik, #prakties.

John-Stephen Harmse, Bradley April, Lilia Harmse, Johann Harmse en Lester Joubert by die banier wat verbygangers in Kerkstraat twee keer laat kyk.Foto: Elsabé Pienaar

Dis nie vreemd dat Johann ’n ysterwarewinkel besit nie. ’n Mens kan sien hy weet van selfdoen. Hy leef dit uit. Dis dié dat motoriste wat deesdae in Kerkstraat op Graaff-Reinet afry twee keer kyk as hulle by Johann se winkel verbyry. #ImStaying, verklaar ’n lewensgrootte banier wapperend in die Karoowind.

“Ek is net so moeg vir negatiwiteit! Dis droog. Ons boere kry swaar. Die dam is leeg en misdaad kry nie end nie. Maar negatiwiteit kring uit wanneer dit al is waaroor mense kan praat. Dit is hoekom ek so hou van die #ImStaying-beweging. Dit is positief! Mense práát met mekaar. Staan saam. Ons wil dit hier in ons dorp ook regkry. En ons werk hard daaraan.”

Johann sê dit was nie vir hom genoeg om net by dié steeds groeiende Facebook-groep aan te sluit nie. “Ek het vir my vrou gesê: ‘Okei, wat nou? Dit moet mos ’n verskil maak!’ Ons hét die masjiene om drukwerk te doen – so toe sê ek een oggend vir my seun hy moet los waarmee hy besig is en gou vir my so ’n banier maak en opsit.”

So gesê, so gedaan. Eers het die motors stadiger begin verbyry. En toe begin hulle stilhou.

“Mense kom in en kom vra uit oor die banier,” vertel Johann.

“Toe dink ek weer – hoe kan ons hier in die dorp help? Hier is baie nood. Ons het besluit om ’n poging aan te wend om ons plaaslike Camdeboo Hospice te ondersteun. Hulle moes onlangs noodgedwonge hul takke op naburige dorpe sluit, en funksioneer nou met min personeel. Hulle doen ongelooflike werk in die gemeenskap, maar kan dit nie sonder befondsing doen nie. Nou verkoop ons #ImStaying-bufferplakkers en -koffiebekers, en die wins gaan als vir hulle.”

Die ysterwarewinkel (Mr Paint Dulux Specialist Paint Centre & Flashcor Printing) het in 2004 sy deure oopgegooi, maar Johann, of “Harrie”, soos mense hom noem, is al 51 somers lank op Graaff-Reinet. Dis duidelik dat dié dorp hom na aan die hart lê. “Dit help nie mense kritiseer van die kant af nie. Ons moet eienaarskap vat van ons probleme.”

Johannes van Rensburg, ’n boer net buite die dorp, kuier saam in Johann se kantoor. In Januarie het hulle en ’n paar ander manne die Graaff-Reinet Landelike Veiligheidsgroep op die been gebring.

“Ons dorp se ekonomie steun swaar op toerisme,” sê Johannes. “Dis belangrik dat toeriste en inwoners veilig moet voel, en ons het met boere, inwoners van die dorp, plaaslike sekuriteitsmaatskappye en die polisie hande gevat. Ons is ’n yslike groep uit die hele gemeenskap, en die model werk met WhatsApp-groepe. Die sukses van die groep spreek vanself – in wat ons die Perdeskoengedeelte van Graaff-Reinet noem, het misdaad die afgelope drie maande met 80% gedaal in vergelyking met misdaadsyfers in dieselfde tyd verlede jaar.”

Dis ’n trappie op van ’n standaard-buurtwag af, dié ding.

“En ons is inklusief, hoor,” sê Johannes pertinent. “Almal ly onder misdaad. Nie net sekere dele van die gemeenskap nie. Maar nou kyk ons almal uit vir mekaar en rapporteer ongerymdhede.”

Hier wil ’n mens bly.

#ImStaying.

Meer oor:  Graaff-Reinet  |  Boer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.