Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Boere-paartjie wil nie wag, trou sommer op Facebook
Gert en Felicity Harmzen gaan hul wittebrood op die familieplaas buite Bothaville deurbring.Foto: Verskaf

’n Paartjie van Bothaville het besluit kom wat wil, hulle trou ten spyte van die staat van inperking.

Gert Harmzen, ’n boer van Bothaville, sê hy en Felicity Swanepoel het al ’n jaar gelede hul troue vir 4 April beplan.

“Toe die eerste maatreëls ingestel is, moes ons die gastelys verkort van 170 gaste tot 90,” sê Harmzen.

Maar net ’n week later is die huidige streng beperkings ingestel en was ’n troue met enige gaste van die baan.

Net Harmzen se ouers, Christa en Herman, en sy suster, ook Christa, en dié se man, Franco, het die troue bygewoon.

Die troukar, ’n 1972 Ford Fairlane, het aan Gert se oupa, ook Gert, behoort.

“Ons twee het maar saam die 400 m van ons huis tot by my ouers se huis gery,” sê Harmzen.

Sy suster het die troufoto’s geneem.

Gert en Felicity Harmzen by die troukar, ’n 1972 Ford Fairlane, waarmee hulle saam 400 m gery het tot by die trouvenue. Foto: Verskaf

Harmzen sê hulle wou nie die troudatum verskuif nie omdat hulle ’n paar jaar gelede aan die begin van April mekaar herontmoet het en die datum dus vir hulle sentimentele waarde het.

Ds. Johan van Wyk van die Hervormde kerk in Roodepoort het die paartjie op Facebook Messenger op ’n skootrekenaar in die huwelik bevestig.

Felicity wou graag hê Van Wyk moes die huwelikseremonie behartig omdat hy ’n vriend van haar pa, Pieter, was.

Van Wyk het Pieter se begrafnisdiens ’n paar jaar gelede behartig.

Die seremonie self het Harmzen met sy selfoon regstreeks op Facebook uitgesaai sodat Felicity se ma, Hannetjie, en haar en Gert se susters en ander familielede dit kon volg.

“Dit was nie ons droom om só te trou nie, maar ons het vrede daarmee gemaak omdat ons nie langer wou wag nie, sê Harmzen.

Intussen hou die pasgetroudes hul wittebrood op die plaas en hoop hulle dat “wanneer alles verby is” hulle op ’n wittebrood na Crystal Springs in Mpumalanga kan gaan.

Meer oor:  Bothaville  |  Inperking  |  Koronavirus  |  Troue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.