Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Boere tussen beton

Johannesburg word dikwels as ’n betonoerwoud gesien. Duisende geboue oorheers die stadsprofiel en groenigheid is yl gesaai. Tog is daar vindingryke kleinboere in die middestad wat jou heeltemal anders laat dink oor landbou.

As jy groen vingers het wat jeuk om in die grond te krap, is ’n woonstel in ’n Johannesburgse wolkekrabber nou nie juis ’n ideale blyplek nie.

Tog is daar “boere tussen beton” wat met ’n kopskuif dit steeds regkry om ’n pragtige uitsig oor Jozi se stadsprofiel te geniet, terwyl hulle hul eie plante en kos kweek.

Refiloe Molefe se sprietuie het welig gegroei tydens ons besoek aan die Bertrams Inner City Farm. Foto’s: René De Klerk

Daar is tans ’n nuwe beweging van stadsboere en organisasies wat midde-in Johannesburg se betonoerwoud boer en enige oop ruimte benut. Hulle daag die gedagte dat jy morge en morge grond nodig het om ’n boer te wees uit, skep werk, en dra by tot voedselsekerheid in hul eie gemeenskappe.

Joburg Places, ’n toermaatskappy wat spesialiseer in stadstoere van Johannesburg se sakekern, bied toere aan vir mense wat Johannesburg se landboupotensiaal eerstehands wil beleef.

“Daar is tans meer as 300 weggesteekte groentetuine in die stad, maar meer mense kan gerus die inisiatief neem om hul eie kos te kweek en beknopte ruimtes in tuine te omskep,” sê Charlie Moyo, Joburg Places se toergids.

Linda Michael Mkwanazi, die hooftuinier by die Outreach Foundation in Hillbrow, wys die seldery, wat met ’n hidroponiese stelsel gekweek word.

Johannesburg Culinary & Pastry School

Die toer se eerste stop is ’n vinnige inloer by die Johannesburg Culinary & Pastry School in Marshaltown. Die studente hier leer nie net om sjefs te word nie, maar ook om hul eie vars kruie en groente vir eie gebruik te kweek. Die skool het ook onlangs ’n klein hidroponiese stelsel geïnstalleer. Die stelsel laat jou toe om groente en kruie sonder enige grond te verbou.

Die plante kry hul voedingstowwe van die opgeloste minerale in die water wat deur die plante se wortelstelsel vloei.

Die plantjies was nog klein tydens ons besoek, maar groei baie vinniger as plante wat in grond verbou word.

Moyo verduidelik dat hidroponiese stelsels waterslim is – dit gebruik tot 80% minder water wanneer dit met tradisionele landboumetodes vergelyk word. Boonop verg dit min chemikalieë en plaagdoders.

Twee besoekers bewonder die kruie by JFF Rooftop Farm.

“Daar is geboue se dakke in die stad wat glad nie gebruik word nie. Dit is belangrik dat die voornemende sjefs verstaan jy het nie grond en groot stukke land nodig om groente te kweek nie. ’n Bietjie ruimte is voldoende,” sê Moyo.

Die skool is by Commissionerstraat 85 in Marshaltown. Bel 011 024 5277 vir meer inligting.

JFF Rooftop Farm

Ons volgende stop is JFF Rooftop Farm, ’n groen oase op die dak van ’n gebou in die hartjie van Braamfontein, agter die Kalashnikov-kunsgalery.

“Ek wens my tamaties kan so mooi lyk,” hoor ek een van my mede-toerlede sê. “Ek probeer alles, maar daar is altyd een of ander pes, soos rooi spinnekopmyte wat hulle aanval.”

Ashleigh Machete, medestigter van die “dakplaas”, glimlag breed en beveel ’n omgewingsvriendelike plaagbestryder vir die lastige myte aan. Hy’s ’n bron van kennis, en deel mildelike tuinraad uit vir ons toergroep.

Hierdie wegsteekplekkie is ’n magiese stukkie aarde en enige plantliefhebber se droom, met talle plante, tuingereedskap en bybehore te koop. Hier is ook ’n koffiewinkel – hulle bedien koffie, tee en yskoue smoothies om jou dors te les, terwyl jy die perfekte Monstera-plant uitkies. Die JFF Rooftop Farm-span se diens en kennis is ook uitsonderlik – hulle skroom nie om planteraad te deel nie, nie net op die dak van hul opelugkwekery nie, maar ook aanlyn.

Negin Monkoe is een van die mede-stigters van JF Rooftop Farm in Braamfontein.

Terwyl Machete drankies vir ons groep voorberei, gesels ons met sy vennoot, Negin Monkoe. Sy vertel dat om die stukkie welige Shangri-La te bedryf, nie sonder sy uitdagings kom nie. “Om bo-op die dak te kom, is ’n uitdaging. Jy kan net hier uitkom deur by die leertjie aan die kant van die gebou op te klouter. Alles moet boontoe gedra word – van die plante tot die bestanddele vir die drankies,” sê sy.

Die Covid-19-pandemie het natuurlik ook ’n demper op hul sake geplaas, maar hulle kon darem die pot aan die kook hou deur met sosiale media in verbinding te bly met hul gereelde kliënte en plantliefhebbers.

Die duo het ook al vele ander ongebruikte areas in Johannesburg in groen ruimtes help omskep, onder meer in Hillbrow, Jeppe en Newtown. Hulle bied ook konsultasiedienste vir ondernemings en individue aan. Besoek hulle by Jutastraat 70, Braamfontein of aanlyn by www.jffrooftopfarm.co.za.

Outreach Foundation, Hillbrow

Die toer wys jou nie net middelklas instansies soos JFF Rooftop Farm en ’n sjefskool nie, maar ook gemeenskapsinisiatiewe in buurte soos Hillbrow. Van Braamfontein tot Hillbrow verander die toneel drasties. Buite in die strate lê rommel gestrooi en water stroom oor sypaadjies. Ons stap oor die straat en draai by ’n hek in. Weggesteek in die hart van Hillbrow is die Out­reach Foundation, ’n organisasie wat bystand verleen en vaardighede help ontwikkel vir Hillbrow se mense. Die perseel voel ook soos ’n oase in ’n ongure deel van Johannesburg – ’n veilige omgewing vir talle plaaslike inwoners.

Op die dak van hul gebou is ’n groterige hidroponiese stelsel wat deur die Urban Agriculture Initiative geïnstalleer is. Die seldery en sprietuie is twee weke voor ons besoek geplant, en sal binnekort reg wees om te oes.

’n Hidroponiese stelsel mag dalk voordele hê – soos dat dit min water gebruik, maar dit kom ook nie sonder uitdagings en kopsere nie, vertel Linda Michael Mkwanazi, die stigting se hooftuinier.

Die stelsel werk met elektrisiteit en beurtkrag kan ’n uitdaging wees.

“Wanneer daar nie elektrisiteit is nie, hou die plante op met groei. Dan moet ons hulle met water spuit om hulle aan die lewe te hou,” sê Mkwanazi. Die organisasie moes ook sonpanele installeer om hul hoë kragrekening te sny. Gerard Bester, programbestuurder by die organisasie, sê hulle samel tans geld in om batterye vir die stelsel te koop.

Ashleigh Machete is ’n ensiklopedie van tuin -en plantkennis.

Die organisasie beplan om ook later ’n opleidingsprogram te begin, wat Hillbrow se inwoners gaan leer hoe om hidroponies te boer. Tans word die stigting se vars produkte aan die Johannesburgse groentemark in City Deep verkoop en onder behoeftiges in die gemeenskap versprei. Die organisasie beplan ook om ’n kookklas te begin wat jou basiese kook- en kosvaardighede leer. Die groente en kruie gaan dan in die toetskombuis gebruik word.

Vir meer inligting oor die stigting besoek outreachfoundation.­co.za of bel 011 720 7011.

Betrams Inner City Farm

Die laaste stilhouplek op ons toer is by ’n voormalige rolbalbaan wat in ’n middestedelike plaas omskep is.

Refiloe Molefe, of Mama Fifi soos sy onder die gemeenskap bekend staan, is ’n inspirasie. Wanneer sy praat, is haar liefde vir tuinmaak tasbaar en ’n rits erkennings bevestig haar talent. Die stuk grond oorkant Ellispark waar sy boer, is vol lewe.

Die 60-jarige boer beoefen wisselbou en al die grond word gebruik. Met ons besoek was aartappels, uie, tamaties, krulkool, pampoen, mielies, spinasie, vinkel, wortels, slaaiblare en perskebome maar net van die gewasse wat aangeplant is. Sy noem haarself ’n groente-apteek, en glo gesonde kos is die antwoord vir talle kwale.

“Kos is medisyne. Ek gebruik my kruie en groente in die brood wat ek bak en die sappe wat ek maak,” sê Molefe. “Mense raak ook al hoe meer bewus van wat hulle eet.”

Refiloe Molefe meen as jy weet hoe om jou eie kos te kweek, jy nooit honger sal ly nie.

Sy verkoop haar organiese varsprodukte by markte soos die Fourways Farmers’ Market en Bryanston Organic Market. Molefe wil ook graag ’n webwerf begin waar mense haar groente, vrugte en kruie aanlyn kan bestel. Sy bedryf ook ’n voedingskema, gemik op die gemeenskap se kinders en kinderontwikkelingsentrums in die Johannesburgse middestad.

Op Dinsdae en Donderdae deel sy kos aan behoeftige mense in die gemeenskap uit – ongeveer 100 mense vind baat by haar voedingskema.

“Ons moet ’n voorbeeld stel vir die verandering wat ons self wil sien,” sê sy. “Ek het sonder ’n ma en pa grootgeword, maar ek het nooit gaan lê nie.

René de Klerk
René de Klerk

“My ouma-hulle het nie geld gehad nie, maar hulle het altyd kos gehad. As jy weet hoe om kos te groei, sal jy nooit honger ly nie,” meen sy.

Molefe het hard gewerk om die plaas uit te brei tot waar hy vandag is. Elke eerbewys wat sy wen, se prysgeld word gebruik om verbeteringe aan te bring. Sy is op haar gelukkigste wanneer haar hande in die grond is, maar voeg by dat jong mense in haar gemeenskap nie altyd gewillig is om hul hande vuil te maak nie. “Vir hulle stel ek hidroponiese boerdery voor.”

Deel van haar liefde vir boer, is om haar vaardighede aan jonger mense oor te dra. Voor Covid-19 het UJ se studente die plaas besoek vir praktiese ondervinding. Sy speel ook gasvrou vir skooluitstappies – kinders is dikwels verbaas om te sien dat groente nie van winkels af kom nie, maar uit die grond uit.

Molefe het geen formele opleiding of kwalifikasies in landbou nie.

“Ek is lief vir boer, elke dag is ek gelukkig. Daar is beslis nie ’n beter plek vir terapie as op die plaas nie.”

Een van haar drome is om ’n kommersiële versapper aan te skaf. Sy gebruik tans ’n huishoudelike een vir haar sappe.

Betrams Inner City Farm is by Bertramsstraat 46 in Bertrams, neffens Ellispark-stadium. Sy verkoop haar varsprodukte aan die publiek en jy kan dit kraakvars uit die landerye kies. Molefe maak ook lekker groentesappe met beet, wortels en spinasie. Haar varsgebakte kruiebrood is heerlik, veral saam met haar tuisgemaakte souse.

Toer saam

Joburg Places bied maandeliks die Urban Farming-toer aan teen R350 per persoon. (Dit sluit R88 vir jou Rea Vaya-buskaartjies uit.)

Die volgende toer vind Saterdag 12 Desember plaas. Joburg Places het ook ’n reeks ander toere, soos inkopietoere in Little Addis en die Johannesburgse modedistrik en kos-en-storieaande by die pragtige Thunder Walker-restaurant by Gandhi-plein.

Besoek www.joburgplaces.com vir meer inligting of bel Gerald Garner by 082 894 5216.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.