Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Boerseun maak ’n plan toe sy fiets gesteel word
Divan Diedericks bou aan die rakke wat hy self maak en verkoop om geld bymekaar te maak vir ’n nuwe fiets. Sy vorige fiets is vroeër vanjaar gesteel. Foto: Mlungisi Louw

Toe sy peperduur bergfiets van hul motor af gesteel is, het ’n tiener van Bloemfontein nie in sak en as gaan sit nie. Hy het vinnig 'n plan gemaak en maak nou rakke vir potplante om die leë plek op sy fietsrak te vul.

Divan Diedericks (13), ’n gr. 8-leerling aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein, is nie net lief vir fietsry nie, hy doen ook graag houtwerk. Daarom het hy gemeen dit sou ideaal wees om plantrakke te ontwerp, bou en verkoop om geld in te samel vir ’n nuwe fiets.

Sy fiets, waarvoor hy ook self gespaar het, is vroeg in April in Komani (Queenstown) in die Oos-Kaap van hul motor se fietsrak gesteel toe hulle middagete by die restaurant geëet het.

“Ek was so teleurgesteld, kwaad en hartseer toe ek sien my fiets is weg. Ek is baie lief vir die sport en het groot drome,” sê Divan.

Dit was nie lank voordat dié innoverende tiener met planne vorendag gekom het om sy fiets te vervang nie.

“Ek is nog altyd lief vir houtwerk en bou rakke vir potplante en verkoop om geld in te samel.”

Ek was so teleurgesteld, kwaad en hartseer toe ek sien my fiets is weg.

Hoewel hy al die handearbeid self doen, sê Divan hy kry baie hulp van sy ma, Ilse, en pa, Danie.

“My sussie, Dané, is ook altyd bereid om hand by te sit,” sê Divan uit sy werkswinkel, wat sy oupa vir hom beskikbaar stel.

“Ek werk hier in my oupa se werkswinkel en kan selfs sy gereedskap gebruik.”

Oor hoekom hy spesifiek potplantrakke maak, sê Divan die idee het van sy ouers se liefde vir tuinwerk gekom.

“Dit is ’n nuttige produk en ek het boonop baie hout tot my beskikking.”

Sy nuwe droomfiets kos enigiets van R35 000 en meer, sê Divan.

“Ek is mal oor fietsry en wil dit graag eendag as professionele sport beoefen,” sê hy.

Divan Diedericks bou aan die rakkies wat hy self maak en verkoop om geld in te samel vir ’n nuwe fiets. Foto: Mlungisi Louw

Divan het ook sy oog op die Cape Epic, wat jaarliks in die Wes-Kaap plaasvind.

Nadat sy ma die rakkies op sosiale media geadverteer het, het daar vinnig bestellings ingekom. Dit maak hom nie senuweeagtig nie, want só ’n rakkie timmer hy sommer in ’n uur aanmekaar.

Sy vinnige werkvermoë kom handig te pas noudat hy met die nuwe skoolkwartaal in die middae buitemuurse aktiwiteite het. Hy bou ’n rakkie ná skool voordat sy sportaktiwiteite begin.

Ilse en Danie sê hulle is trots op Divan en ondersteun al sy planne en drome.

Divan, Dané en een van hul vriendinne wil graag genoeg voorraad bymekaar maak om dit by ’n stalletjie op die Boeremark in Langenhovenpark te kan verkoop. Dané maak haar eie kerse en haar vriendin verkoop juwele.

Divan Diedericks by een van die rakke wat hy self maak en verkoop om geld in te samel vir ’n nuwe fiets. Foto: Mlungisi Louw

Meer oor:  Bergfiets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.