Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Boervroue roer hartsnare ná hulle bokse kry

Boervroue wat hul “boks vir ’n boervrou” ontvang het en hoendervelstories oor die toepaslikheid van die inhoud op sosiale media deel, roer vandeesweek die hartsnare.

Kerke, organisasies en individue het sedert die begin van die jaar bederfbokse vir boervroue ingesamel om na droogtegeteisterde dele te stuur om vroue op plase te ondersteun. Lomea Heyns, ’n boervrou van Steynsrus in die Vrystaat, sê sy het met geen geld nie en net haar geloof in God al 91 bokse bymekaar gemaak. Foto: Lomea Heyns

Duisende bokse is onlangs na verskeie droogtegeteisterde gebiede in die Vrystaat en die Noord-Kaap gestuur om die vroue van boere en plaaswerkers te ondersteun.

Kerke, organisasies en individue het kreatiwiteit aan die dag gelê en van boeke, toiletware en blikkieskos tot boodskappe van hoop in die bokse vir die anonieme ontvangers gepak.

’n Boervrou van Van Zylsrus in die Noord-Kaap sê sy het gehuil en “die Here vir alles geloof” toe sy R400 in ’n kaartjie in haar boks vol geskenke ontdek.

“Dit is presies wat ek nodig het om my doktersrekening te betaal.”

Karlien Janse van Rensburg, ’n boervrou van Brandfort in die Vrystaat, sê wat haar bederfboks ekstra spesiaal gemaak het, was dat daar ’n verjaardagwens in die boks was wat sy op haar verjaardag ontvang het.

“Dit is ‘wow’! Baie dankie dat omgee nog bestaan.”

Lomea Heyns van Steynsrus in die Vrystaat sê sy het met geen geld nie en net haar geloof in God al 91 bokse bymekaar gemaak.

“My hart is seer vandag. Ek huil oor hierdie mense wat nie tou opgooi nie, want ek is ook ’n boervrou wat presies weet wat droogte aan jou doen.”

Sy sê boervroue moet daagliks wroeg met die moedeloosheid wat jou in ’n gat van depressie intrek.

“Jy wil nie meer soggens opstaan en nog ’n dag in verhongerde diere vaskyk nie.

“En op ’n dag kom die punt wat jy op jou bed val en niks meer omgee of voel nie. En dan die roepe na God: ‘Here help my want ek kan nie meer nie!’ ”

Die Boks vir ’n Boervrou-projek in die Vrystaat het op Facebook aangedui dat hulle nog vir twee weke bokse gaan inneem in Bloemfontein.

Lesers wat ’n boks wil skenk, kan een stuur na of aflewer by die Bella Blue-gastehuis, Deanelaan 18, Waverley.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.