Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Boishaai se oudste oudleerling word 100

Raubie Brink word nie net Donderdag ’n hele 100 jaar oud nie, hy is ook die oudste alumnus van die Hoër Jongenskool Paarl.

Cornelius Raubenheimer (Raubie) Brink het sy hoërskoolloopbaan in 1935 by dié hoërskool begin en hy het in 1938 gematrikuleer.

Cornelius Raubenheimer Brink
Cornelius Raubenheimer Brink met die nuutste 'Die Burger'.

Bea Struwig, kurator van die HJS-museum, het bevestig dat Brink volgens hul rekords die oudste oudleerling van die skool is.

Hy praat ’n bietjie moeilik, maar Brink sê hy voel beslis nie 100 jaar oud nie – veel eerder 50.

“Dit is wonderlik om 100 jaar te kan haal,” sê hy. “Én om die oudste Boishaaier te wees. Toe ek in 1935 daar begin het, het ek nie gedink dié dag sal aanbreek nie.”

Op ’n vraag of hy ’n geheim het oor hoe ’n mens dié rype ouderdom kan bereik, het hy geantwoord jy moet maar elke dag aanpak soos hy kom.

“Die lewe het my geleer dat jy altyd die reguit pad moet loop, want jy weet nooit wat om die draaie op jou wag nie,” sê Brink.

Die eerste tennisspan van die Hoër Jongenskool Paarl in 1938. Die spelers is agter van links M. Hendler, J. Leipoldt, en J. Mitchell. Voor is J.C. Pauw (afrigter), H. Pienaar, J. Heald (kaptein) en R. Brink.

Een van sy seuns, Rian (62), sê sy pa is op 22 April 1921 in Kakamas gebore, maar hy het in Karos, Upington, grootgeword.

“My pa is vreeslik lief vir tennis en het in sy hoërskooljare vir HJS gespeel. Ek en my broer het langs die tennisbaan grootgeword en selfs my seuns speel ook tennis vanweë sy invloed,” sê Rian.

Sy pa het tot op 98 nog alleen gebly, maar deesdae woon hy in ’n aftreeoord in Belle Rio, sowat 20 km buite Keimoes.

“Hy het selfs nog sy motor bestuur tot 98. Hy het mooi na sy gesondheid gekyk en altyd matigheid voor oë gehou. Nou word hy 100!” sê Rian.

Rian sê dit is ’n ongelooflike voorreg om steeds jou pa te hê as jy self 62 is.

“In my leeftyd was hy nie net my pa nie. Hy was ook my vriend en vennoot toe ons saam op ons wingerdplaas geboer het,” sê hy.

Cornelius Raubenheimer (Raubie) Brink waar hy verlede jaar op Lentedag afgeneem is.

Rian sê sy pa lees sedert 1938 elke dag Die Burger.

“Ek en my vrou sorg dat hy elke dag die gedrukte koerant kry. As ons ’n dag laat is met sy koerant, sal hy altyd eers die ou koerant lees voordat hy Die Burger van die dag lees,” sê Rian.

Sy pa kyk ook steeds graag rugby, krieket en tennis op TV.

“Al maak hulle hom dikwels baie kwaad, bly hy ’n groot ondersteuner van die Stormers,” skerts hy.

Derek Swart, hoof van HJS, het Brink baie geluk gewens met sy verjaarsdag en dié besonderse mylpaal.

“Ons wil aan hom dankie sê vir die bydrae wat hy destyds as leerling en daarna as oudleerling tot die skool gelewer het. Geen wonder hy lees steeds elke dag Die Burger nie! Dit is mos so dat ’n Boishaaier altyd ingelig wil wees,” sê Swart.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.