Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Bokvroue besoek skole om jonges te inspireer

Die Springbokvrouerugbyspan het vandeesweek skole in Port Elizabeth besoek om toekomstige vrouerugbyspelers te inspireer en te motiveer.

Die Springbokvrouerugbyspelers Phiwokuhle Nyanda (links) en Yonela Ngxingolo (heel regs) oefen saam met Thandolwethu Hena (naaslinks) en Neliswa Tshitiza, albei rugbyspelers van die Mzontsundu Secondary School in KwaZakhele, Port Elizabeth. Foto: Lulama Zenzile

Die span is in die stad waar hy vir Saterdag se kragmeting teen die vrouerugbyspan van Spanje voorberei. Dié rugbytoets is deel van ’n reeks waarin die Springbokke twee keer teen Spanje en Skotland te staan sal kom.

Volgens Eddie Myners, hulpafrigter, het die Springbokvrouerugbyspan reeds vir die 2021-Wêreldrugbybeker in Nieu-Seeland gekwalifiseer en dit is nou belangrik om die beste span bymekaar te maak.

“Spanje is ’n baie goeie span. Hulle is nie verniet negende op die wêreldranglys nie. Vir ons is dit dus ’n groot kans om te wys waartoe ons in staat is en om te bepaal waar ons moet verbeter,” het Myners gesê.

Volgens hom beklee Suid-Afrika tans die 12de plek op die vrouerugbywêreldranglys.

Die Springbok-stut, Yonela Ngxingolo (21), ’n boorling van Oos-Londen, sien veral uit daarna om die Spanjaarde in haar tuisprovinsie te pak.

“Dit is wonderlik om weer terug in my provinsie te wees. Dit is hier waar ons die Oos-Kaapse ondersteuning en warmte voel, ek glo dit sal ’n positiewe invloed op ons span hê.”

Die kaptein van die span, Babalwa Latsha (25), sê die span het die afgelope vier jaar, terwyl hulle ’n blaaskans van internasionale rugby geneem het, veral hard geoefen om die spelers vir toetsrugby voor te berei.

Latsha en haar span het Woensdag die Mzontsundu Secondary School besoek waar hulle oefensessies saam met van die leerlinge gehou het.

Vir Latsha is uitreikprogramme soos dié belangrik om rugbyspelers te inspireer, asook om die sport te bemark.

“Die gemeenskap is die hart van Springbokrugby. Dit is hier waar jong mense se talent raakgesien word. ’n Oefenkliniek is ons manier om iets aan die gemeenskap terug te gee. Hopelik word die kinders geïnspireer en gemotiveer om bo hul omstandighede uit te styg.”

Die sewejarige Blessing Menzi van KwaZakhele het Woensdagoggend saam met die Springbokvrouerugbyspan geoefen. Foto: Lulama Zenzile

Ook Myners het benadruk hoe belangrik dit is om die gemeenskap te betrek, aangesien die volgende Springbokrugbysterre uit die gemeenskappe kom.

“Die beste plek om vrouerugby te bemark is by skole.

“Hoewel daar goeie ontwikkeling onder die jeug vir vrouerugby-geleenthede is, moet ons elke geleentheid benut om die sport te bemark, aangesien daar steeds ’n stigma is dat rugby nie vir vroue is nie. Terwyl ek glo dit eintlik ’n sport is waarin vroue hulself kan uitleef,” het Myners gesê.

Vrouerugby is nie ongewoon by die Mzontsundu Secondary School nie. Rugbyoefeninge word sedert 2010 ook vir meisies by die skool aangebied.

Zamixolo Daniels, hoof, erken dit is nie die maklikste taak om ander skole te kry wat ’n meisiesrugbyspan het om teen te speel nie, maar hy glo hul skool dra by tot die kweek van toekomstige Springbokrugbyspelers.

“Ek is seker in die toekoms sal skolerugby vir meisies vinnig groei. Met rugbytoetse en oefensessies deur die Springbokvrouerugbyspan hier op ons dorp, glo ek dit is net ’n kwessie van tyd.”

* Die Springbokvrouerugbyspan pak Spanje Saterdag om 15:00 in die WJ de Wet-stadion in Despatch.

Meer oor:  Port Elizabeth
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.