Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Hond help onderneming bemark

’n Kaapse hond met ’n voorliefde daarvoor om in ’n motorfiets se syspan saam deur die strate te jaag en die wind in sy pels te voel is besig om ’n trekpleister by sy eienaar se toerisme-onderneming te word.

Tim Clarke, eienaar van Cape Sidecar Adventures in Observatory, Kaapstad, sê hulle het Brody, ’n sewejarige Africanis, by ’n dieresorg-hawe gekry en hom aangeneem toe hy slegs ’n paar maande oud was.

Clarke sê Brody se ma het by die dierehawe aangekom toe sy dragtig was en daar die kleintjies gekry.

Valentine (links) en Brody ry saam met Tim Clarke. Foto: Jaco Marais

“Ek en my gesin is Brody se eerste eienaars.”

Dit was nie lank voordat hulle agtergekom het dat hierdie hondjie spesiaal is nie.

Toe hy net ’n jaar oud was, wou hy heeltyd net in die motorfietse se syspan klim, sê Clarke. Sy onderneming verskaf motorfietse vir toere.

“Brody is ’n hond wat van mense hou en was nog altyd so sedert hy klein was.”

Op ’n keer het hy net verdwyn en hulle kon hom nie vind nie.

Die honde dra te alle tye hul veiligheidsbrille. Valentine (voor) is nog nie so gemaklik soos Brody op ’n motorfiets nie. Foto: Jaco Marais

“Een van die bestuurders wat by ons ’n motorfietstoer gereël het, het my gekontak en gesê Brody is by hom en was in die syspan van die motorfiets. Dit is van toe af dat ek hom geleer het om veilig in die syspan te sit, en hy dra altyd sy veiligheidsbril,” sê Clarke.

“Hy vind dit soms moeilik om stil te sit as ons verby of naby eekhorings ry. As ons verby ander honde ry, blaf hy ook af en toe om te wys hoe cool hy is om op ’n motorfiets te ry. Meestal is Brody egter heel gemaklik in die syspan,” sê Clarke.

Clarke beskryf Brody as sy onderneming se bemarkingsbestuurder.

“Ons het ’n ander hond ook, Valentine, maar sy is nie altyd so gemaklik om op die motorfiets te ry nie,” sê Clarke.

“Brody is regtig enig in sy soort. Hy is rustig, lojaal, en vol lewe.

“Ek sê altyd hy is nie ons hond nie, ons is sy mense.”

Brody (agter) het al bekendheid onder toeriste verwerf en hulle wil hom altyd saam op hul motorfietstoere hê. Foto: Jaco Marais
Tim Clarke het Brody (agter) aangeneem toe hy net ’n paar maande oud was. Foto: Jaco Marais
Meer oor:  Observatory  |  Kaapstad  |  Motorfiets  |  Hond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.