Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
‘Bring-en-braai-troue’ word toe ’n droomdag!
Die bruidspaar, Angie en Hennie McPherson, op hul groot dag saam met hul babaseun, Theo. Foto: Hester Bekker/Facebook

Die troudag van ’n Bloemfonteinse paartjie wat sommer in jeans en tekkies wou afhaak, met ’n bring-en-braai-onthaal daarna, is danksy barmhartige Samaritane in ’n droomdag omskep.

Vir Angie (26) en Hennie McPherson (31) van Ehrlichpark in Bloemfontein het die eenvoudige, vinnige troue wat hulle vir verlede Saterdag in gedagte gehad het, in iets onbeskryfliks uitgedraai.

“Dit was ongelooflik, iets wat jy nie in woorde kan omskakel nie,” sê Angie.“Dit was ’n droom wat waar geword het.”

Die paartjie is reeds vier jaar saam en verloof, maar het eers die afgelope jaar ernstig aan trou gedink. Hulle het ’n babaseun, Theo, van sowat vyf maande oud.

“Dit sou ’n vinnige ding gewees het, sommer ’n tekkie-en-jeans-geleentheid,” vertel Angie oor hul beplande bruilof.

Sy sê hulle is eintlik eenvoudige mense, sonder fieterjasies.

Hester Bekker van die organisasie Guardian Angels het van die paartjie se troue te hore gekom toe sy uitreikwerk in Ehrlichpark gedoen het. Bekker het daarna die paartjie se familie en vriende vir meer besonderhede genader.

“Ek het uitgevind hulle het nie ringe nie, hulle het nie ’n trourok nie . . . daar was nie ’n troukoek nie,” sê Bekker.

Bekker het besluit om in te spring en het haar toe tot die sosiale media om hulp gewend.

Angie en Hennie McPherson, met Hester Bekker in die middel. Foto: Verskaf

Mense van Bloemfontein, Dealesville en Kroonstad het hulp aangebied.

Só is in al die troubehoeftes voorsien, soos trouklere vir die bruidspaar en familielede, trouringe, die bruid se grimering, naels, hare en ruiker, fotograwe en die onthaal vir sowat 50 mense.

Die huweliksplegtigheid en onthaal was by Milner Manor in Waverley.En so het die denims in ’n trourok en -pak verander en die braaivleis in allerlei smulhappies, danksy reëlings wat oor twee, drie dae getref is.

Bekker het die Donderdag voor die troue met Angie kontak gemaak en gesê sy wil haar graag met haar naels bederf.

Vrydag het Bekker haar gevra of sy vir haar ’n trourok kan skenk, uit ’n verskeidenheid waaruit Angie kon kies, vertel Bekker.

“Sy was so verras.”

Saterdag het sy die bruid by haar huis opgelaai en hulle is haarsalon toe. Angie het die trourok aangetrek en die troukar het reggestaan.

Sy was ’n volle uur laat vir die bruilof, onder meer vanweë foto’s wat vooraf van haar geneem is, sê Angie.

Dit het aan Hennie se senuwees geknaag en hy het ’n paar knertsies wodka in ’n vriend se bakkie afgesluk.

En toe daag sy op . . .“Jy sien haar altyd, maar op daardie dag en daardie oomblik – dit het gevoel iets sit in my keel vas,” sê Hennie.

Angie McPherson op haar troudag met haar ouers, Hilda en Gordon Fisher, aan weerskante. Haar ouers kon die troue bywoon danksy weldoeners wat aan hulle vervoer vanaf Excelsior verskaf het. Foto: Verskaf

“Om te sien hoe mooi sy lyk – sy was regtig, regtig baie mooi.”

Angie se ouers, Hilda en Gordon Fisher van Excelsior, het hom saam met haar tegemoet gestap.

Bekker sê die Fishers sou aanvanklik nie by die bruilof gewees het nie, maar kon die geleentheid bywoon danksy vervoer wat vir hulle gereël is. Hennie se ma, Sheila-Vera van Heerden, het ook die troue bygewoon.

Bekker vertel dat die geleentheid baie emosioneel was. “ ’n Tranedal! Wat ek gesien en beleef het, was regtig om van hoendervel te kry.”

En ’n rukkie later kon Hennie vir Angie daardie soen gee, as sy vrou.

“Daar is nie woorde wat sê hoe dankbaar en hoeveel waardering jy vir so iets het nie,” sê Angie oor haar bruilof.

Volgens Bekker sien sy die Here se hand daarin dat alles so vinnig en suksesvol gereël kon word. “As dit nie die Here se wil was nie, sou ons dit nooit kon vermag nie.”

Die pasgetroudes, Angie en Hennie McPherson. Foto: Hester Bekker/Facebook
Angie en Hennie McPherson se hande in mekaar gevleg. Weldoeners het ringe aan hulle geskenk. Foto: Hester Bekker/Facebook
Angie en Hennie McPherson se onthaal was by Milner Manor in Waverley, Bloemfontein. Foto: Hester Bekker/Facebook
Die bruidspaar se tafel. Foto: Hester Bekker/Facebook
Angie McPherson se ruiker en skoene. Foto: Hester Bekker/Facebook
Die troukoek en kolwyntjies. Foto: Hester Bekker/Facebook

Meer oor:  Bloemfontein  |  Troue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.