Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Bring jou tent en kuier ’n aap uit bos

“Wat van so ’n bietjie Monkey Eyes om die litte so ’n bietjie los te maak?” bied Wayne Brown summier met ’n stoute glimlag aan terwyl hy die fles met wodka waarin ’n klomp lietsjies dryf, en wat met ietwat verbeelding kompleet soos ’n apie se oë kan lyk, oopdraai.

Wayne en Odette Brown is die afgelope vyf jaar die eienaars van Munkee Bizniz Pub & Grub, ’n gesellige kroeg en eetplek op die Marinelaan-kuspad in Port Elizabeth.

Dylan Davids (kelner), Myrtle-Lee Goose-Taylor (kelnerin) en Wayne Brown (eienaar) maak seker dat besoekers aan Munkee Bizniz ’n onvergeetlike tyd het. Foto: Willemien Green

Alhoewel Odette gewoonlik in beheer is van die doen en late by dié gewilde kuierplek, is Wayne die afgelope paar weke aan die stuur van sake, maar nie uit vrye wil nie . . . Gewoonlik is hy op die see waar hy tjokka vir ’n bekende seekos-maatskappy vang, maar nadat hy hom met ’n trap misgis het en sy enkel sleg beseer het, is hy letterlik gestrand totdat sy dokter hom weer seewaardig verklaar.

Nou eksperimenteer hy maar solank met sy Monkey-shooters wat baie gewild by Munkee Bizniz se klante is.

Wees maar daarop voorbereid dat jy na jou asem sal snak nadat jy een van dié konkoksies weggeslaan het!

Die kokke Tando Raga en Grant Robertson met die bystand van Gerald Hauptfleish verstaan die leuse van Munkee Bizniz, See no Evil, Hear no Evil, See no Evil en Wayne se nuutste byvoeging Smell no Evil baie goed!Foto: Willemien Green

En met ’n “Proe gou dié ene”, gee hy nog een aan.

Mmm, pittig genoem Monkey Mousse smaak dié sjokoladerige mengsel wel vorentoe.

As jy daarvan hou om by Sardiniabaai te gaan swem of die staproete by Sacrameto aan te pak, is hierdie kroeg met sy uitsig op die see vanaf die voorstoep ideaal geleë om by te stop vir ’n koue lafenis of iets om te eet.

Monkey-mousse wat met engeltjie-piepie vergelyk word!

Op die oulike naambord met die bekende “Hear no evil, See no evil, Speak no evil”-apies op het Wayne sommer nog ’n “Smell no evil”-apie ingedruk.

“Ek hou daarvan dat die plek skoongehou word,” sê hy.

Die dekor is informeel met ’n duidelike see- en natuurlik apie-tema met verskeie wollerige speelgoedapies wat jou beloer.

Hier en daar is ’n skets van ’n apie teen die mure te sien, tien teen een deur ’n klant of twee geteken wat deur die Monkey-shooters geïnspireer is.

Dit is nie ’n plek vol fieterjasies nie, of soos Wayne dit stel, “Dis nie ’n fênsie plek nie, dis ’n plek waar jy met jou swembroek en plakkies kan instap en kan kuier, tot laat as jy wil.”

Dan verkies Wayne dat jy sommer net daar in die agtertuin jou tent opslaan en eers ’n uiltjie knip voordat jy huiswaarts keer.

Dylan Davids dra bielie-burgers aan. Foto: Willemien Green

Eintlik kan jy enige dag jou tent daar opslaan, solank jy net jou kos en drank by Munkee Bizniz koop!

Daar is ook ’n trampolien vir die jongspan, bome om in te klouter en meer as genoeg plek om rond te hardloop.

Daar is verskeie lekkernye op die spyskaart.

Wayne waarsku dat jy nie haastig moet wees as jy by Munkee Bizniz gaan eet nie: “Hier in die Munkee het die lewe ’n tempo van sy eie.”

Cheddar melt chipsis baie gewild by dié kuierplek.
Stel jou eie peuselmandjies saam.

Volgens Wayne is die groot bord Cheddar melt chips (R55) baie gewild en jy het ’n keuse of jy brosbruin gebraaide spekbrokkies (R65) of jalapeno-rissies (R60) of albei (R75) daarby wil bestel.

Jy kan ook jou eie peuselmandjie met diepgebraaide uieringe, calamari, mossels, steak, hoenderrepies of sampioene saamstel.

Die immergewilde Chilli-pops (jalapeno peppers) (R50 vir vier) word ook met ’n twist bedien. Die jalapeno word gehalveer, gevul met mozarella- en roomkaas, toegedraai met ’n repie spek en met samoosadeeg omvou en diepgebraai.

Daar is ook ’n verskeidenheid bielie-burgers (R60 tot R95) met ’n keuse van hoenderfilette en yslike groot vleisfrikkadelle en broodjies wat spesiaal vir Munkee Bizniz gemaak word.

Die Eisbein (R145) wat met suurkool, kapokaartappels met sous en groente bedien word, is ook gewild.

Saans word daar heerlik om ’n yslike vuurput gekuier en oral is daar is braaigeriewe waar jy jou eie vleisie kan braai. Braaipakke word te koop aangebied.

Naweke word daar ook musiekvermaak verskaf en op Sondag trakteer Elston Benjamin besoekers met karaoke.

Meer oor:  Tent  |  Kuier  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.