Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Bruid van die Jaar: Watwou wit! Swart is die nuwe wit

Phyl-Mari Heyneke van Midstream, die Septemberwenner van Beeldse Bruid van die Jaar, is op 14 September met Allen getroud. Sy vertel meer oor haar groot dag.

Phyl-Mari en Allen Heyneke.

Vertel ons meer van jou rok?

’n Swart trourok was vir eeue heen groot mode. Wit het eers mode geraak ná 1840 toe koningin Victoria in wit kant getrou het.

My rok is gegrond op ’n ontwerp van die Viëtnamese ontwerper Phuong My. Op ’n dag soos jou troue moet jy iets dra wat eie is aan jou. Geen vooropgestelde idee van die samelewing moet jou voorskryf oor die moets en moenies nie.

Ek het al van kleins af geweet dat ek nie in wit gaan trou nie. My rokmaker, Tarina Fourie, het my droom met naald en garing ’n werklikheid gemaak.

Oor ’n tydperk van drie maande het ek en Tarina saam aan my droomrok beplan. Ek het gereeld gaan aanpas en elke keer dat ek haar besoek het, het ek nog meer opgewonde geraak.

Die kleur van my rok was ’n staatsgeheim. Selfs my ma het nie geweet wat ons beplan nie. Ek het wel vir Allen vertel, vir ingeval hy daar voor in die kerk dalk sou dink hy is nou by die verkeerde fees. En boonop kan ’n huwelik nie met geheime begin nie!

Vertel ons van jou dekor en beplanning, het jy ’n kleurskema of tema gehad?

Phyl-Mari Heyneke se troue was in die NG kerk Franschhoek.
Die gaste in die kerk se asem was weggeslaan toe die bruid in die kerk kom.
Die bruidspaar en hul gaste.
Die onthaal was in die restaurant Le Petit Manoir.
Die elegante dekor.
In die restaurant.
Die troukoek.
Die kortrib-hoofgereg.
Een van die nageregte.
Die pragtige Franschhoek was die egpaar se treffende agtergrond vir hul foto’s.

Ons is uit die NG kerk Franschhoek getroud en ons onthaal was reg oorkant die pad by Le Petit Manoir. My swaer, Frank Heyneke, is een van drie vennote wat die restaurant besit.

Ons dekor is deur die Kaap geïnspireer. Daardie deel van die wêreld is simplisties én verfynd, met ’n unieke styl. Ons het besluit om ons troue op dieselfde manier aan te pak.

Ons uitnodigings het ’n Gatsby-tema gehad. Art Deco-styl boodskappe is weekliks aan ons gaste op ons H+H Troue-Whatsapp groep gestuur.

Die onthaal was by die restaurant waar ons hul besonder mooi eetgerei en breekware gebruik het om ons tafels te dek. Die restaurant het ’n romantiese atmosfeer met sagte beligting (en selfs ’n kaggel).

Die Heyneke-egpaar.

Wat het jy vir jou gaste voorgesit?

Le Petit Manoir is ’n vyfster-restaurant en ons het ’n driegangmaaltyd vir ons gaste voorgesit. Elke gereg is met ’n spesifieke wyn voorgesit.

Terwyl ons gaan foto’s neem het, is die gaste bederf met L’Ormarins Brut Cassique, makrolletjies en canapé.

As voorgereg was daar ’n keuse tussen blomkool-risotto of basielkruid-pannacotta met bokmelkkaas-mousse wat voorgesit is met Cape of Good Hope se Altima-wyn.

Hoofgereg was óf ’n biefkortrib met ’n tamatie-salsa in en beesvleissous, óf ’n eendborsie met geroosterde beet en lemoenpuree. Hiermee saam is Holden Mans se rooiwyn bedien.

Nagereg was koffie-malva, sjokolademousse, heuningkoek, versoete room en sjokaladeskywe, voorgesit met Klein Constantia se Vin de Constance.

Wat is die een ding van jou troudag wat vir jou uitstaan?

Die hoogtepunt van ons troue was toe ek en my pa in die kerk instap op Freddie Mercury en Montserrat Caballé se “Barcelona” en ek vir Allen voor in die kerk sien staan.

Die mense het werklik na hul asem gesnak toe ons in die kerk instap. Die argitektuur van die kerk is iets besonders en het daardie oomblik net nog meer fabelagtig gemaak.

Die Heyneke-egpaar het al 42 gaste as hul gevolg beskou.

Het jy enige wenke oor hoe jy koste bespaar het?

Ons onthaal was in ’n restaurant, wat koste-effektief was omdat ons nie ekstra koste moes aangaan vir die huur van ’n lokaal, eetgerei of dekor nie. Die omgewing waarin ons getrou het, het op sigself gesorg vir ons dekor – van bergreekse tot fynbos-rangskikkings.

Die bespreking was vir 42 mense en die rekening is daarvolgens uitgewerk. Gaste was verantwoordelik vir hul eie drankrekening.

Ek en Allen het nie ’n gevolg gehad nie, en het ons 42 gaste almal as deel van ons gevolg beskou.

Drie wenke vir voornemende bruide wat nou hul troue beplan.

  • Ontspan, alles werk uit presies soos dit moet. Daarmee sê ek nie jy moet alles oorlaat aan genade nie. Beplanning bly baie belangrik, maar as iets nie uitwerk soos beplan nie – ontspan! Moenie die “skeefloop” of “foute” te veel gesag gee nie. Antisipeer eerder die “ja”, die magic, die lekker kuier, die voorreg om “die een” te kon ontmoet, die avontuur wat amptelik begin!
  • Geniet jou verlowingstydperk, maar stel vroegtydig ’n begroting op. Ons het twee kolomme gehad; een vir droom en een vir die werklikheid. Dit het ons gehelp om ’n middeweg te vind en te prioritiseer waarop jy jou geld wil bestee – waarop jy effens spandabelrig kan wees, en waar jy kan afskaal en spaar.
  • Geniet die tyd saam met jou ma. Jy dink jy is opgewonde oor jou troue, haar opgewondenheid is honderd maal meer. Gun haar die geleentheid om haar mening te gee en luister na haar. Sy ken jou soms beter as wat jy jouself ken.
Meer oor:  Bruide
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.