Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Bruin mense ‘is meer as ’n stereotipe’
Dr. Simone Peters wil hê mense moet ophou om net op die negatiewe stories oor bruin gemeenskappe te fokus. Foto: Je’nine May

Die samelewing se siening van bruin mense gaan nie verander as die narratief oor dié gemeenskap altyd negatief is nie.

Dr. Simone Peters (29) weet dit goed – nie net het sy grootgeword op die Kaapse Vlakte, waarheen die apartheidsregering die bruin gemeenskappe onder dwang verskuif het nie, sy het haar doktorsgraad oor die persepsies oor bruin mense gedoen.

“Mense fokus altyd net op een aspek van bruin mense – misdaad. As jy artikels of boeke lees, is al die stories oor bendegeweld. Dié narratief word elke dag by die samelewing se brein ingeboor. Die stereotipiese bruin narratief gaan nie verander nie, want die aantal slegte stories oorskadu die positiewes in oorvloed.”

Peters, wat in Kenilworth woon, het op 15 Julie haar PhD in sielkunde aan die Universiteit van Kaapstad ontvang. Sy het in haar doktorale tesis op bruin mans van Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte gefokus.

Sy wou vasstel hoe hulle daaroor voel om bruin te wees en wat hulle dink ander mense se siening van hulle is. Sy wou ook agterkom hoekom die mans optree soos hulle optree.

“Ek in Bishop Lavis grootgeword. Ons het in ’n Wendy-huis in my ouma se agterplaas gebly. Dinge was maar moeilik. My ouma is in die apartheidsjare na Bishop Lavis verskuif.”

Peters het vir haar tesis met bruin mans van verskillende ouderdomme – jonk, middeljarig en van ouer as 65 jaar – gesels. “Hulle het my vertel hoe hulle selfs deur die polisie gestereotipeer word,” sê sy.

“Hulle het gesê wanneer mense hulle sien, neem hulle aan dat hulle skollies is.”

Peters meen dat die diskoers oor bruin mense tot die negatiewe siening van dié groep bydra: “As mense oor Bishop Lavis en ander bruin gebiede praat, praat hulle oor hoe jy doodgemaak of seergemaak kan word as jy soontoe gaan. Mense gaan aan asof daar niks goeds in die gemeenskappe is nie. En dit is nie waar nie.”

Die mans wat met haar gepraat het, sê ’n bruin man is iemand wat na sy gesin omsien.

Baie het ook genoem dat mense hulle as alkoholiste beskou omdat ander in die gemeenskap dalk baie drink.

“Net omdat hulle van dié gebied is, word al hierdie negatiewe konnotasies gemaak. Een bruin man se storie kan mos nie almal s’n wees nie, of hoe?”

Die mans het haar vertel dat hul grootwordplekke hulle gehard gemaak het.

“Hulle sê hulle moes ’n bietjie geweld wys sodat mense in die omgewing nie met hulle mors nie. Maar sodra hulle hul man probeer staan, word hulle as skollies en misdadigers geklassifiseer.”

Dr. Simone Peters (29) Foto: Micaela Peters

Peters sê bruin gebiede word afgeskeep.

“Mense sê altyd ‘hou op om aan apartheid vas te klou’, maar kyk hoe lyk Suid-Afrika. Wit, swart en bruin gebiede bestaan steeds.

“En die gehalte van dienste en skole in bruin gemeenskappe is meestal nie voldoende nie. Die apartheidsregering het nie belê in die gebiede waarheen hy bruin en swart mense verskuif het nie, en ’n mens kan sien daar word steeds nie in dié gebiede belê nie.”

Peters sê dit is moeilik om verby die omstandighede in bruin gemeenskappe te kyk.

“Ons ouers is verneder en uit hul gemeenskappe gehaal en na slegte plekke verskuif sonder dat daar vir hulle geleenthede geskep is. Hulle was ontneem van hul menslikheid. Daardie pyn en armoede word na elke generasie oorgedra. Dit vat baie om jouself uit sulke omstandighede te kry,” sê Peters.

Sy meen meer moet gedoen word om positiewe stories oor bruin mense te vertel.

“Toe ek op universiteit gekom het, het mense my gevra of ek skollies ken omdat ek van Bishop Lavis is. Hulle het my ook gereeld gespot oor hoe ek praat. Op universiteit was ek een van die min bruin studente in my klas. Meer bruin mense moet die kans kry om universiteit toe te kan gaan.

“Ek hoop my tesis inspireer mense om anders oor bruin mense te dink. Die misdadige aspek is maar een deel, nie die hele storie nie. Bruin mense is meer as ’n stereotipe,” sê sy.

Meer oor:  Simone Peters  |  Kenilworth  |  Doktor  |  Stereotipes  |  Rassisme  |  Stigma  |  Bruin Mense
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.