Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Byeterapie: Land van rus en heuning

Bye word al eeue lank ingespan vir alternatiewe en holistiese genesing. Op die grens van Lesotho in die Oos-Vrystaat is ’n sending van Franciskaanse nonne ook besig om die voordele van byeterapie te ondersoek, skryf Maricelle Botha.

Diep in die Oos-Vrystaat, op die rand van die Lesotho-grens, lê die verborge Assisi-sending van die Franciskaanse susters van Siessen.

Hier kan jy die ware gees en eenvoud van sint Franciskus van Assisi ervaar in die natuurlike skoonheid en rustigheid van die Oos-Vrystaatse landskap. Die susters hier leef nederig en na aan die natuur.

Suster Mechthilde Faist, ’n Duitse non en dogter van ’n Duitse byeboer, is sedert 2011 hier aan die stuur.

Toe twee byekolonies in 2018 by die sending ingetrek het, moes daar vir die nuwe “inwoners” ook nuwe tuistes geskep word, weg van elke dag se gewerskaf by die sending. Twee byekorwe is toe ’n entjie van die sending opgerig.

Die tuine by die sentrum is ook vir die “nuwe intrekkers” ingerig.

Daar is ’n groot kruietuin aangeplant wat die sending inspan vir handgemaakte geurige olies, seep, natuurlike opknapper en room. ’n Verskeidenheid bloekom- en vrugtebome versier die rante tussen die eg Vrystaatse sandsteenrotse.

’n Saak van by-geloof

Die verborge Assisi-sending van die Franciskaanse susters van Siessen. Foto’s: Maricelle Botha

Faist het besluit om haar jeugervaring as byeboerdogter in te span en ’n volwaardige byeboerdery op die been te bring.

“As dogtertjie was ek natuurlik meer geïnteresseerd in die heuning as die bye, maar ek onthou goed hoe my pa my vertel het van bye en hul genesende eienskappe.

“Hy het my geleer daar is veel meer aan bye as bloot net heuning.

“My pa het soms ook die korwe besoek sonder om sy beskermende oorpak aan te trek. Hy het geglo ’n bysteek hier en daar verlig sy rumatiek.”

Vandag vorm 25 byekolonies deel van die Assisi-sending se byeboerdery.

Aanvanklik is die byeboerdery slegs vir heuning en was benut, maar soos Faist meer oor bye opgelees het, het sy ook begin belang stel in hul rol in alternatiewe medisyne.

Die sentrum het toe in Desember 2019 die eerste byeterapie-hut in Suider-Afrika oopgestel.

Regina Pacis-sentrum
Die Regina Pacis-sentrum se byeterapie-hut, ’n eerste vir Suid-Afrika.

Byeterapie (apitherapy) is ’n tak van alternatiewe medisyne wat heuningbyprodukte gebruik, insluitend heuning, stuifmeel, propolis, koninklike jellie en byegif.

“Om naby bye te rus of te slaap is ’n antieke manier om jou gesondheid, met die hulp van bye, te behandel,” glo Faist. Die byeterapie-hut huisves agt korwe. As terapie het dit verskillende name – byeterapie, slaap op byekorwe of bloot “byebeddens”. Die gebruik word reeds eeue lank in Oos-Europa, veral Oekraïne, toegepas. Dit is ook gewild in China, Japan en Korea.

Dis hoe dit werk

Die houtbed waarop jy lê tydens die terapie. Die ventilasiegate is klein genoeg sodat die bye nie die kamer kan binnekom nie.

Die hut is ’n klipgeboutjie met ’n grasdak. In die hutjie hang daar ’n soet reuk van nektar en die speseryagtige sonskyngeur van heuning in die lug.

Die “byebeddens” is plankbeddens, elkeen met ’n dun matrassie waarop jy dan lê.

Die bed se basis dien dan as ’n “plafon” vir die bye. Elke bed is bo-op vier korwe gebou, met ventilasiegate waardeur die klank en reuk vanaf die korwe kom.

Suster Mechthilde Faist is die stigter van die sentrum se byeboerdery en het die kennis wat sy hieroor by haar pa gekry het hier aangewend.

Die gate is egter te klein vir die bye om daardeur te kruip. Jy hoef ook nie bekommerd te wees dat ’n by jou gaan steek nie. ’n Byeterapie-hut wat goed aanmekaargesit is, verseker dat enige menslike aktiwiteit nie die natuurlike gedrag van bye versteur nie.

Genesing, glo die byeterapie-voorstanders, word aangehelp deur die mikrovibrasies wat van binne die byekorf kom. Die bye, wat hul vlerke bo die korf­selle waai om die vog uit die nektar te laat verdamp, veroorsaak die trillings.

Dit voel amper soos ’n ligte vibro-massering. Byeterapie is die doeltreffendste in Suid-Afrika se lente, somer en herfs wanneer die bye aktief is.

Tydens die winter is hulle redelik onaktief – bye raak eers besig wanneer dit 10 °C of warmer is.

Faist stel voor dat jy minstens ’n uur of langer op die byebed deurbring en stel tien sessies voor vir optimale resultate.

Tog is daar ook kontra-indikasies. As jy allergies is vir bye of byeprodukte, moet jy liefs verby hou. Bespreek ook enige chroniese siektes en allergieë met die personeel voordat jy besluit om byeterapie te ondergaan.

Onthou: Hierdie artikel bevat algemene inligting oor byeterapie. Die inligting word slegs vir insiggewende doeleindes verskaf en dien nie as ’n plaasvervanger vir mediese raad of behandeling wat deur ’n dokter of ’n professionele gesondheidswerker verskaf is nie.


'n Lewe van eenvoud en armte 

Wie is die Franciskaanse susters van Siessen?

Die Franciskaanse susters van Siessen is ’n Orde van sint Franciscus, ’n Rooms-Katolieke gemeente van godsdienstige vroue.

Die gemeente is in ’n Duitse dorp, Siessen, gestig in die Baden-Württemberg-streek in die suidweste van Duitsland.

Die susters leef die beginsels van sint Franciskus van Assisi – eenvoud, armoede en gehoorsaamheid – met vreugde uit.

Sint Franciskus het in die 12de eeu ’n lewe van rykdom en voorspoed verlaat vir ’n nederiger lewe, na aan God en die Christendom. Volgens die Rooms-Katolieke vertelling het God hom beveel om die Christelike kerk te herbou en in armoede te leef.

Hy is die beskermheilige vir ekoloë – ’n titel wat sy liefde vir diere en die natuur vereer.

Waar is dit?

Die Regina Pacis-toevlugsoord, waar die byeterapie aangebied word, is by Marseilles, sowat 113 km oos van Bloemfontein en 24 km wes van Ladybrand geleë.

Dié toevlugsoord is op die perseel van die Assisi-sending geleë en bied stil verblyf vir geestelike afsondering.

Dit kos R300 per dag per persoon en sluit drie etes in. Die byeterapie kos R10 per uur. Die verblyf is spartaans en onopgesmuk.

Vir meer inligting oor die Regina Pacis-sentrum of byeterapie besoek reginapaciscentre.org, stuur e-pos aan reginapaciscentre@gmail.com of skakel 078 198 8564.

Meer oor:  Ladybrand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.