Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Byna R25 m. betaal vir Pierneefs
'Kremetartboom, Bosveld, N.T. (Nilant 73)' het ’n voorveiling-beraming ge­had van R40 000, maar is vir tien keer soveel verkoop – R432 440*. Dis die meeste wat tot dusver vir ’n Pierneef-linosnee betaal is.

In die veilingsbedryf is ’n uitverkoopte veiling ’n seldsame gebeurtenis.

Die kunsafslaer Strauss & Co kon dit Maandagaand regkry om al 69 lotte van die IN/Sight-veiling te verkoop, ’n veiling wat eksklusief aan die Suid-Afrikaanse kunstenaar J.H. Pierneef gewy is.

Byna R25 miljoen se Pierneef-kunswerke en -literatuur is op die veiling verkoop. Die finale­ bedrag is gister op R24 582 644 bereken, wat Strauss & Co se kommissie insluit.

Een van Pierneef se ikoniese Bosveldtonele, Acacia in the Veld, het die hoogste prys behaal en is vir R2 617 400 verkoop, wat die afslaer se kommissie en BTW insluit.

Nog ’n verrassing was ’n boek, JH Pierneef: Sy lewe en sy werk (1990) van sy biograaf, P.G. Nel. Die voorveilingsberaming vir die boek was tussen R1 000 en R1 500, en daar is koorsagtig op die boek gebie. Toe die hamer uiteindelik val, was die finale koopprys R43 244*.

Strauss & Co het ’n streng vertroulikheidsbeleid oor hul kopers se identiteit, maar die af­slaer het wel verklap dat die boek vir die buiteland bestem is.

Die veiling het ook ’n wêreldrekord opgelewer vir ’n linosnee: Kremetartboom, Bosveld, N.T. (Nilant 73) (1941).

Die linosnee het ’n voorveilingsberaming gehad van R40 000, maar is vir tien keer soveel verkoop – R432 440*.

Dis die meeste wat tot dusver vir ’n Pierneef-linosnee betaal is.

Dr. Alastair Meredith, een van Strauss & Co se afslaers en se­nior kunsspesialiste, sê die veiling se resultate het hul stoutste verwagtinge oortref.

“Die resultate benadruk weer dat Pierneef ’n superster in die Suid-Afrikaanse kunsmark is en beleggers en versamelaars sy werke as veilige, immergroen investering sien, wat met tyd betroubare en goeie beleggingsopbrengste lewer,” meen Meredith.

'Acacia in the Veld' het die hoogste prys behaal en is vir R2 617 400 verkoop, wat die afslaer se kommissie en BTW insluit. Foto’s: Strauss & Co

Frank Kilbourn, Strauss & Co se uitvoerende voorsitter, beaam dat die veiling se uitsonderlike resultate ook bestaande beleggers en versamelaars se vertroue in Pierneef regverdig, maar dat daar ook nuwe belangstelling van elders af is.

“In ’n stadium was daar 650 bieërs wat by die regstreekse virtuele veiling ingeteken was.

“Die gemiddelde ouderdom van die bieërs is tussen 40 en 59, wat ook baie belowend is. Die helfte van die suksesvolle bieërs was almal ook nuwe kopers.”

Die kunswêreld was bekommerd oor hoe die pandemie die kunsmark sou raak.

Meredith meen beleggers oorweeg nou tasbare­, luukse bates, die sogenaamde Swag assets (Swag staan vir silver, wine, art en gold), as ’n manier om hul beleggingsportefeulje te diversifiseer.

“Sommige markte en bateklasse kom nou ietwat riskant voor en beleggers kyk na kuns en wyn as weloorwoë beleggings.

“Dis nie net ’n plaaslike tendens nie, ons sien dit ook by die internasionale afslaers. Daar was ook groot internasionale belangstelling in die Pierneef-veiling,” sê Meredith.

’n Groot deel van die werke wat op die veiling verkoop is, is bestem vir Amerika, iets wat hy as “vreeslik opwindend” beskou.

“In die verlede was die groot meerderheid internasionale kopers vanuit Brittanje of Australië. Om nou te sien dat daar ook belangstelling vanuit Amerika kom, maak ons vreeslik opgewonde.

“Hoewel ons toenemende belangstelling van internasionale kopers sien, is die oorgrote meerderheid, aldus my, Suid-Afrikaanse ekspats of versamelaars met ’n Suid-Afrikaanse verbintenis.”

Die groep versamelaars het gewoonlik ’n sagte plekkie vir Pierneef se werke, met hul nostalgiese verbintenisse met ikoniese Suid-Afrikaanse tonele, soos Bosveld-akasias en kenmerkende Kaaps-Hollandse gewelhuise van die wynlande, sê Meredith­.

  • *Die bedrae wat in die berig genoem word, sluit die afslaer se kommissie en BTW in.
Meer oor:  Strauss & Co  |  Pierneef  |  Kunswerk  |  Veiling  |  Kuns  |  Kunstenaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.