Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Chroom, nostalgie en burgers
Ouma’s Country Store is propvol tuisgemaakte gebak en die heerlikste lekkernye. Foto: Elsabé Pienaar

Daar’s ’n “nuwe plek vir ou goed” op Graaff-Reinet. ReCollection Rides in Kollegeweg het inderwaarheid al sowat ’n jaar en ’n half gelede sy deure vir besoekers oopgegooi, maar in mu­seumtaal is dit sommer nou die dag.

Dié motormuseum was die geesteskind van die sakeman Hannes van Jaarsveld. Hy het drie jaar gelede begin om veteraanmotors te versamel en wou die vreugde wat hy uit dié stokperdjie put met ander deel.

Nou kan almal kom “oeh” en “aah” oor onder meer ’n 1922 Wolseley E3 Doctor’s Coupé al die pad vanuit Birmingham, en ’n paar vurige perde, soos die knalrooi 1984 Porche Carrera 911 en 1969 Ford Mustang Mach 1. Hierdie is nie sommer ’n mu­seum om net deur te draf nie, want die totale versameling beslaan twee groot store.

Elke hippie en rebel uit die sestigerjare se droom en “ster” in menige rolprente oor dié era – ’n 1963 Volkswagen Splitvensterbus.
’n Os steek ’n rivier oor – William Morris het sy tuisdorp, Oxford, se embleem op sy motor gebruik.

Benewens die motors is daar ook ’n hele aantal motorfietse, en dan word daar ook gespog met ’n groot versameling speelgoedkarretjies, óú padtekens, en advertensieborde wat die mure versier. Hannes vertel entoesiastiese besoekers het ook al by­draes soos ou motorhandleidings en -tydskrifte en ander memorabilia gebring.

Urvin Frolik, wie se taak dit is om dié museum se inhoud te versorg, vertel met trots hoe sommige van dié motors met groot omsigtigheid gerestoureer is. Sy gunsteling is ’n 1937 DKW, wat na sy mening selfs mooier lyk wanneer die afslaankap toegetrek is.

Nie net is dié versameling in ’n uitstekende toestand nie – die motors is ook almal padwaardig. En as jy gewonder het of Hannes darem so af en toe een van dié enjins laat brul, is die antwoord ’n entoesiastiese “Ja!” Hannes ry graag met die 1957 Triumph TR3, wat ’n 2-liter enjin het.

“Die Mercedes 300SL en die Porsche ry ook baie lekker. Dis ’n interessante ervaring om met die óú karre uit 1922 en 1928 te ry. Aan die een kant is ek verstom oor die tegnologie wat hulle reeds tóé aan die dag gelê het, maar ’n mens moet nietemin jou storie ken as jy hulle wil bestuur, want hul padhouvermoë is baie swakker as ons moderne voertuie s’n.”

Volgens Hannes is die waardevolste voertuie in sy versameling die 1969 Mustang, die Porsche en die Mercedes 300SL, maar dis net gemeet in rand en sent.

“Daar is ook ’n 1931 Buick, wat ongerestoureer is, en waarvan ek die volledige geskiedenis en rekords het. Dis ’n baie skaars voertuig en ek gaan hom bewaar net soos hy is.”

Wanneer jy klaar geloer het by ReCollection Rides, ry om die blok na The Village en kry vir jou iets om te eet of drink. (Dit is eintlik regoor Recollection Rides, maar die ingang sit aan die agterkant in Spoorwegstraat.)

Hannes van Jaarsveld het dié bakkie, ’n 1942 Chevrolet wat steeds baie aandag lok, self in Welkom gaan haal.

’n Sinkdorpie uit vergange tye

The Village is ’n replika van ’n klein sinkdorpie uit toeka se dae, en was eintlik ’n voor-die-hand-liggende uitbreiding op die ReCollection Rides-veteraanmotormuseum. Dié padstal is ewe gewild onder plaaslike inwoners as by oorsese toeriste en Suid-Afrikaners wat deur Graaff-Reinet reis.

Hannes vertel liefhebbers van veteraanmotors, wat deur die Oos-Kaap reis, bel dikwels vooruit om seker te maak of die ReCollection Rides oop is.

“Hulle ry spesiaal deur Graaff-Reinet om die museum te besoek, en omdat hulle dan gewoonlik verder moet reis, het dit net sin gemaak om ook ’n eetplek byderhand te hê.”

Foto: Elsabé Pienaar

The Village bestaan uit ’n selfhelp-eetsalon, outydse fietswinkel, insleepmotorhawe, vulstasie en Ouma’s Country Store.

Sentimentele siele sal hul verlustig in die nostalgie wat ’n besoek by ’n mens oproep. Die dekor en boumateriaal is met groot omsigtigheid gekies om ’n ouwêreldse gevoel te skep. Tyd gaan staan skielik stil wanneer ’n mens tussen die sinkgeboutjies deurloop en doof word vir die verkeer in die besige Kollegeweg.

Dit voel asof ’n mens enige tyd ’n kerkklok sal hoor lui, en dat die winkeltjies se deure gaan sluit vir die etensuur-siesta, maar gelukkig is The Village juis die ideale plek om tydens etensuur te besoek.

Buiten ’n blik op veteraanmotors van dekades gelede, kry besoekers ook ’n rare inkopie-ervaring by ’n winkel wat ’n mens aan die alombekende eertydse algemene handelaar herinner.

Harley’s Lounge is gebaseer op die konsep van ’n selfhelp-eetsalon: plaas jou bestelling in die lounge en neem die bewys na die polkadot-karavaan, waar jou naam dan uitgeroep word sodra dit gereed is.

Die spyskaart beloof ’n interessante verskeidenheid burgers. Probeer die Village Burger (R70) met kaas, spek, agurkies, guacamole, krakerige uieringe en ’n sous van jou keuse.

As jy ’n worsbroodjie-connoiseur is, sal jy gaande wees oor die Venison Dog (R55), gemaak met wildsvleis, Camembert-kaas en beetblatjang.

Foto: Elsabé Pienaar

Ook op die spyskaart is geurige aartappelskyfies en spekstukkies in kaassous (R55) en hoendersosaties (R45).

The Village is die ideale plek om die kleingoed te laat bene rek, want die restaurant het ’n ruim speelplek onder skadunet. Hier kan hulle van hulle energie ontslae raak op die rondomtalie, klimraam en glyplanke, en kastele bou in die reuse-sandput.

Ouma’s Country Store herinner aan die destydse algemene handelaar wat ’n mens so te sê op elke dorp gekry het. Moenie te haastig wees as jy hou van rondsnuffel nie, want negosieware uit die goeie ou dae gaan jou beslis hier laat talm. Dit kos wik en weeg om te kies tussen die groot verskeidenheid outydse lekkers. Die reuse-suigstokkies, niekerbols, toffies, en handgemaakte nougat gaan jou skoon laat vergeet dat suiker deesdae sonde is. Tuisgebakte koekies en beskuit sal ook hul pad na jou inkopiemandjie vind, tussen ingemaakte deli-produkte, droëvrugte en gemmerbier.

Oorkant die rak met leerhoede en -gordels sit ’n ry lappoppe en wag voor ’n venster om kinderhartjies bly te maak. As jy teen dié tyd nog nie ’n traan weggepink het van verlange nie, gaan jy beslis vir jou ouma ’n Whats­App-foto stuur van die blikbekers en gehekelde komberse. Selfs die toonbank lyk soos dié wat ’n mens in ’n ou algemene handelaar sou aantref.

Eenkant sit ’n lewensgrootte mannekyn die klante en dophou: dis Whitney, só gedoop deur die personeel van The Village. Sy lyk effe verveeld, al asof sy een van daai meisies is wat op die platteland bly omdat sy moet, nie omdat sy wil nie. Dalk besluit Whitney en Penelope, die 1933 Austin 7, om eendag saam die langpad see toe aan te durf!

Foto: Elsabé Pienaar
Foto: Elsabé Pienaar
Foto: Elsabé Pienaar
Foto: Elsabé Pienaar
Foto: Elsabé Pienaar
Foto: Elsabé Pienaar
Foto: Elsabé Pienaar
Foto: Elsabé Pienaar
Foto: Elsabé Pienaar
Foto: Elsabé Pienaar
Foto: Elsabé Pienaar
Foto: Elsabé Pienaar
Neem jou tyd en bewonder by ReCollection Rides twee store vol veteraanmotors. Foto’s: Elsabé Pienaar
Foto: Elsabé Pienaar
Foto: Elsabé Pienaar
Foto: Elsabé Pienaar
Foto: Elsabé Pienaar
Foto: Elsabé Pienaar
Foto: Elsabé Pienaar
Foto: Elsabé Pienaar
Foto: Elsabé Pienaar
Foto: Elsabé Pienaar

Meer oor:  Graaff-Reinet  |  Veteraanmotors  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.