Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Colditz se 100 aande tuis met braai gevier

Die kole wat Maandagaand die 100ste agereenvolgende aand in Paul Colditz se braaiplek sal gloei, gaan nie net oor sy liefde vir braai nie.

Dit is ook ’n telbord vir hoeveel aaneenlopende aande hy in sy huis in Bloemfontein deurbring.

Volgens Liezl van Rooyen, Colditz se dogter, is dit die eerste keer in meer as tien jaar dat haar pa, die voorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrika (Fedsas), langer as tien aande na mekaar tuis is.

“Dit gaan regtig nie soveel oor die braai as wat dit eintlik ’n viering is van die aantal aaneenlopende aande by die huis nie,” sê Van Rooyen.

Volgens haar is braaityd ’n deeltjie van haar pa se besige dag waar hy net kan ontspan en van stres ontslae kan raak.

Colditz, wat op Vadersdag sy 99ste braai-beurt gevier het, sê die dag was vanjaar vir hom besonder spesiaal.

“Nie net het ek my vrou, Kobie, en twee van my vier kinders by my nie, maar ook my twee kleinkinders.”

Paul Colditz en sy gesin. Agter staan, van links, sy dogter Ansu, vrou, Kobie, en dogter Liezl. Voor sit Colditz met sy kleinseuns Marko (links) en Ruhan (regs) op sy skoot. Foto: Mlungisi Louw

Twee van Colditz se dogters, Liezl en Ansu, het die inperking by hul ouerhuis in Bloemfontein deurgebring. Van Rooyen woon deesdae in Londen, saam met haar twee kinders, Marco (4) en Rohan (2), en haar man, Martin, werk in Saoedi-Arabië. Ansu woon en werk in Kaapstad in die toerismebedryf.

Colditz se ander kinders, Martinette en Paul, woon onderskeidelik in Kaapstad en Pretoria. Vir hom was dit ’n groot bederf toe drie weke van inperking saam sy dogters en kleinkinders in drie maande ontaard het. Sy dogters het op Vadersdag die voorreg gehad om die dag se braaivleis te koop.

“So aaneen braai, beteken dat ons maar ekonomiese braaigoed moet koop, maar Sondag is darem ’n uitsondering. En die kinders het my omtrent bederf. Nie net het hulle ’n skaapboud gekoop wat ons in die Weber kan sit nie, maar ek mag hom self braai ook.”

Volgens tradisie het Colditz, Kobie en die kinders, soos elke Sondag, op Zoom met die kinders wat oor die land en wêreld versprei is, gepraat.

“Die tegnologie maak dit ’n gelukkie om almal op ’n manier deel van die dag te hê,” sê hy.

Meer oor:  Fedsas  |  Paul Colditz  |  Inperking  |  Braai  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.