Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Comrade Billy en die Rolling Stones

Van ’n uil van porselein tot rock-en-roll en ’n rugbytrui – dit alles kry jy by een van die eienaardigste museums wat sy al ooit teëgekom het, skryf Anneliese Burgess.

Billy Nel by sy Convair 880, die pronkstuk van sy eklektiese museum net buite Keimond.Foto’s: Anneliese Burgess

Ek het al baie daar verbygery en gewonder oor die verlate vliegtuig in die veld. Die pad Keimond toe is mooi, maar onmerkwaardig – grasveld en koeie, hier en daar ’n plaashuis of ’n wildevybos. ’n Mens kan die see al ruik wanneer die wit passasiersvliegtuig soos ’n koorsige versinsel in die verte sigbaar word.

“Eish Airways” is in groot rooi letters op die romp geverf en dit lyk reg om op te styg. Namate jy naderkom, word ander klein vliegtuigies skielik sigbaar deur die doringbome . . . en ’n lykswa en ’n polisiekar, ’n rooi karavaan en ’n yslike Donald Duck op ’n houtstellasie! Die geleidelike draai in die pad onthul ander fantasie-agtige items – ’n hobbit-agtige boomhuis met vlae, ’n treintrok met motorfietse op die dak en ’n groot boom met enjinkappe wat soos kersversierings van die takke hang.

Dan, net so vinnig, is die fantasma weg. Jou brein pas weer aan by die grys teerpad. Alles is soos dit hoort. Die see wink in die verte en die neus van jou kar stoot kus toe.

Maar nie vandag nie. Vandag het ek ’n afspraak met Billy Nel, die skepper van hierdie skouspel in die middel van nêrens op ’n groen Oos-Kaapse vlakte.

Die swaar houthekke swaai stadig oop. Daar agter is ’n warboel afdakkies en geboue in helder kleure. Reg voor is ’n houthuisie met geel vensterrame – ’n groot elandkop en ’n antieke advertensie vir Shell-olie aan een muur. Daar is melkkanne en walvisbene en ’n kaal winkelmannekyn. Plastiekblomme pryk in ’n oranje pot. ’n Geel helikopter sit soos ’n monsteragtige naaldekoker op die dak. Onder die eland is ’n verwelkoming in klein silwer letters en agter sy horings is ’n bord wat in groot, skelrooi letters verklaar die reg van toegang word voorbehou.

’n Mens kan jou net indink hoe die Rolling Stones en ander bekendes tydens lang vlugte in hierdie luukse kajuit gefuif het.

’n Mens se sintuie word oorlaai en jy weet nie waar om eerste te kyk nie.

“Welkom by die Morganville Motorcycle Museum,” groet Billy.

Hy praat Oos-Kaapse Engels met rollende r’e en deurspek met kontreiwoorde. Hy stap voor na ’n gholfkarretjie toe. Die sitplekke is oorgetrek met plastiekgras. Billy mors nie veel tyd met ’n geklets oor koeitjies en kalfies nie.

Hy trek weg, bult op; jaag tussen geboutjies, dubbeldekker-busse en ossewaens deur en vat-vat om skerp draaie tot voor die groot vliegtuig waar hy sy toer begin.

Die vliegtuig is ’n Convair 880,wat aanvanklik in 1961 vir die Japanse lugredery Japan Airlines gebou is. In die 1970’s het die vliegtuig ’n nuwe lewe gekry as ’n luukse besigheidstraler. Jet Air het die binnekant omskep in die “limousine styl” oop ruimte met sagte rusbanke en ’n paar private kamers. Die maatskappy het toe die “vlieënde paleis”, soos Billy dit noem, gebruik vir huurvlugte om van die grootste name in die musiekwêreld – van The Who tot die Rollings Stones en Cliff Richard – te karwei. Dit is ook toe die vliegtuig die registrasienommer N88CH gekry het.

Billy versamel nie net masjiene nie. Militêre uniforms hou ook vir hom ’n bekoring in. Trouens, hy vergader bykans enigiets waaraan jy kan dink.

In 1983 het ’n Amerikaanse lugvaartmaatskappy, Hudson General, die vliegtuig bekom as deel van ’n skuldeis teen die rockgroep Jefferson Starship wat die vliegtuig op ’n New Yorkse lughawe agtergelaat het omdat hulle nie die brandstof en bergingsgelde kon bekostig nie.

Die Convair se glorieryke dae was verby, maar sy verhaal was nog lank nie klaar nie. Bhisho kom in . . . Bhisho kom in . . .Daar was nog ’n hele paar kinkels in die storie van die groot ou vliegtuig. Nadat dit tydelik in die Mojave-woestyn in Nevada gestoor is, is dit in 1987 weer verkoop. Dié keer aan die voormalige Ciskeise regering wat ’n internasionale lugredery op die been wou bring. Dit is na die spooklughawe Bulembu in die Oos-Kaap gevlieg waar dit ’n nuwe baadjie – met ’n bloukraan­voël op die stert – gekry het.

Dié kraanvoël sou nooit weer vlieg nie. Vir agt jaar het N88CH op die aanloopbaan gestaan, want Lennox Sebe, die destydse president van dié tuisland, het homself misgis met hoeveel dit sou kos om die vliegtuig lugvaardig te maak en te onderhou.

Dít is waar Billy in die prentjie gekom het.

Die “Red Shed” was eens ’n spoorwegwerkswinkel. Dit is stuk vir stuk afgebreek en op die plaas herbou. Vandag huisves dit ’n verskeidenheid wat ’n mens se sintuie oorlaai.

“ ’n Versamelaar kyk anders na die wêreld,” sê hy. “Vir ons lê die waarde van iets in die storie. En hét hierdie vliegtuig ’n storie! Toe ek eers die geskiedenis hoor, was ek vasbeslote om haar te red, want sy was op pad skrootwerf toe.

“ ’n Mens kan die rock-en-roll voel,” sê Billy terwyl hy aan boord stap. Die binnekant is ná soveel dekades ’n bietjie afgeleef, maar ’n mens kan voor jou geestesoog sien hoe die Rolling Stones en hulle groupies uitgestrek lê op die lang mosterdkleurige banke, of Barbara Streisand in die private slaapkamer met die dubbelbed en goue lampskerms – of John Denver by die kroeg sit. Alles skreeu weelde uit die 70’s – van die psigedeliese muurpapier met die oranje-en-bruin paisley-motief tot die sagte beige mat.

Nadat Billy die vliegtuig gekoop het vir R30 000 (’n aardige bedraggie twintig jaar gelede), het hy meer as drie keer soveel bestee om die vliegtuig te laat wegsleep – eers na sy huis in Gonubie, en toe, ’n paar jaar later, na die plaas hier in Keimond. Dit was, soos hy tereg opmerk, ’n “mal plan”. Eers is die vlerke tydelik afgehaal en toe is die vliegtuig padlangs getrek deur ’n wa vol sand. Die sleepkonvooi het by twee brûe vasgeval tussen King Williams Town en Oos-Londen – een te nou en een te laag.

Hierdie opgesmukte Honda is maar net een van Billy se honderde motorfietse.

“Toe skraap ons sommer ’n nuwe pad om die brûe,” vertel Billie van die “operasie” wat destyds soveel opslae in die koerant gemaak het.

In Gonubie het Billie vir vier jaar lank in die vliegtuig gewoon. “My kinders het gedink ek’s van lotjie getik, maar dit was heerlik,” sê hy.

Daarna het dit nog ’n gedaanteverwisseling ondergaan toe Billy ’n kroeg en ’n restaurant aangebou het, maar uiteindelik moes hy ’n ander plan maak om die vliegtuig te red. “Dit was besig om erg te verniel in die seelug by Gonubie, en ons het toe maar weer pad gevat,” lag hy.

Dié keer na die plaas in Keimond waar Eish Air nou ’n laaste rusplek gekry het.

Van Balindlela tot Boeddha Billy se eie lewensverhaal is byna net so kleurvol soos dié van Eish Air. Hy het direk ná skool begin werk. As entrepreneur het hy goed gedoen – eers in die skrootbedryf en later in verskeie besighede wat hy op die been gebring het. Hy was ook vir meer as twintig jaar ’n groot gees in die Oos-Kaapse politiek. In 1989 het hy die parlementêre setel oorgeneem nadat die Nasionale Party die dienende LP, Peet de Pontes, geskors het oor sy vriendskap met die Italiaanse mafiabaas, Vito Palazzolo.

Wat is ’n museum dan sonder ’n baie ou treinwa en ’n aanwysingsbord na ’n plaaslike kroeg?

“ ’n Engelsman in die Nasionale Party – dit was ’n rare ding,” sê hy skertsend. ’n Paar jaar daarna is hy deur Thabo Mbeki gevra om die LUR vir Finansies in die Oos-Kaap te word. Hy het gedien onder die ANC-premier, Nosimo Balindlela. Sy was bekend daarvoor dat sy nie skoene gedra het nie, maar Billy het net lof vir die kaalvoetpremier.

“Jô, sy was streng. Sy het gereeld vergaderings belê vir vieruur in die oggend. Jy moes blerrie seker maak jy’s betyds, want sy’t ’n broertjie dood gehad aan mense wat nie kon tyd hou nie.”

Billy het later ’n laaste politieke avontuur onderneem toe hy deur Bantu Holomisa en Roelf Meyer gevra is om hulle party, die UDM, te help bou.

“Dit is waar ek Comrade Billy geword het,” sê hy grappenderwys.

Uiteindelik is Billy egter terug sakewêreld toe – en na sy groot liefde: “ou goed”.

“Ek was van kleinsaf ’n opgaarder, maar toe ek die politiek los, toe raak dit heeltemal buite beheer. Ek is mal oor goed. Ek sien die stories. Dit maak my gelukkig,” sê hy met ’n breë glimlag.

“In my hart is ek petrolkop. Motorfietse en karre en enjins – dit is my passie.”

Die Convair is ongetwyfeld die grootste en “malste” stuk op die plaas, maar daar is soveel meer om te sien – tien skure propvol eksentrieke versamelings. Hier is alles van militêre uniforms tot vlae, Boeddha-beelde tot rugbytruie, van mynlampe tot orrels. Alles het vir Billy betekenis – soms is dit persoonlik, soos die skildery van hom as ’n jong kavalier – “dit was reklame vir ’n besigheid” – of die rugbytrui wat hy gedra het toe die SA parlementêre rugbyspan op Twickenham gespeel het.

“Ek kan nie glo dit is nou al 25 jaar gelede nie. Ek was 50 – die oudste man op die veld.”

’n Mens kan sommer by die ontvangskantoor al sien hierdie is nie sommer enige versameling oudhede nie.

Ysterperde op stalHy stap van skuur na skuur. “Ek kan niks weggooi nie. Alles kry ’n plek hier,” sê Billy.

Die “Red Shed” was eens ’n ou spoorwegwerkswinkel wat stuk vir stuk afgebreek is en op die plaas herbou is. Dan is daar die “enjinakker” – ’n stuk grond waar antieke plaasmasjinerie, van hamermeule tot kragopwekkers, soos groot groen paddastoele uit die grond verreis. Voor die werkswinkel lê ’n hoop mannekyne wat aanmekaar gesit word uit los ledemate wat Billy vir ’n appel en ’n ei by veilings aankoop. Orals waar ’n mens kyk, vang iets nuuts jou oog – ’n historiese grondakte uit die 1800’s, ’n Indiaan-masker, ’n porseleinuil op ’n dakbalk. Die museum is ’n tapisserie van verwondering, deurspek met Billy se sonderlinge sin vir humor.

Billy lag baie, maar as daar nou een ding is waaroor hy doodernstig is, is dit motorfietse. In die “English Shed” staan rye en rye Triumphs, Ariels, Nortons, Royal Enfields en BSAs. Selfs vir iemand wat nie veel van motorfietse weet nie, is dit indrukwekkend. Daar is bykans ’n gewyde atmosfeer met beligting en donker hoekies.

Iewers in Billy se Oos-Londen-dae was daar ook ’n statige swart Rolls Royce.
Dié skildery, deel van die reklame vir een van Billy se vorige ondernemings, is ’n gunsteling.

In die Italiaanse skuur staan glimmende Ducatis, Moto Morinis en Vespas van hoek tot kant. Onder die Japanse ysterperde is die uiters seldsame Yamaha GTS100A ’n groot trekpleister. Daar is altesaam meer as 650 motorfietse om te besigtig (asook allerlei motorfiets-memorabilia).

Hoewel Billy meen elkeen is besonders is daar tog ’n handjievol wat uittroon bo die ander. Hulle word in ’n spesiale stoepkamer in Billy se woonhuis gehuisves.

“Die 15 of so wat ek daar hou, is meer werd as die res van my versameling saam,” sê hy.

Een daarvan is ’n skaars 1930 Ariel 500 Twin Port Single. Billy meen daar is net vyf gemaak en net twee daarvan bestaan nog. Die een is in Billy se stoepkamer en die ander in ’n museum in Duitsland.

“Ek kry die heeltyd mense wat probeer om van my motorfietse te koop. Hulle kom met mooi stories en baie geld, maar hulle is altyd onsuksesvol,” sê Billy.

“Dit is my lewe. Niks maak my gelukkiger as om hier te wees op my plaas tussen al my ou goed nie.”

Vinnige feite
  • Die eksentrieke miljardêr Howard Hughes het ’n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van die Convair 880. Hy het glo 30 van die vliegtuie bestel vir sy lugredery TWA.

Die vernaamste rede vir Hughes se besluit was die feit dat die Convair 35 myl per uur vinniger was as sy naaste teenstanders, die Boeing 707 en die DC8.

Die Convair was op sy dag die vinnigste passasiersvliegtuig op die mark en kon ’n spoed van 600 myl per uur handhaaf.

Die Convair 880 is aanvanklik die “Skylark” genoem en daarna “Golden Arrow”. Die naam is later verander na die Convair 600 met verwysing na sy spoed, maar dit was skynbaar steeds nie indrukwekkend genoeg nie. Dit was vermoedelik iemand in Convair se bemarkingspan wat toe opgemerk het dat 600 myl per uur gelyk is aan 880 voet per sekonde – vandaar toe die uiteindelike benaming.

  • Daar is net 65 Convair 880’s vervaardig. Billy se vliegtuig was nr. 58 in die reeks.

Net vier volledige Convair 880’s bestaan nog. Twee van dié vliegtuie (nr. 32 en 35) word in die Mojave-woestyn buite Las Vegas gestoor. Die ander een, nr. 38, wat eens op ’n tyd aan Elvis Presley behoort het, heet die Lisa Marie (genoem na sy dogter) en word op Graceland in Memphis ten toon gestel.

’n Lughawe-advertensie vir die Convair 880Foto: Amazon.com
Billy se vliegtuig (met sy oorspronklike registrasienommer) in ’n bemarkingsbrosjure vir Japan Air Lines. Foto: Imagevenet.com
Bel eers:
Die museum is slegs op sekere dae en skoolvakansies toeganklik vir besoekers. Bel liefs 082 769 0844 voor jy dalk voor dooiemansdeur beland.

Meer oor:  Kleinmond  |  Rolling Stones
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.