Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Covid-19: Lesse by die jonges

’n Suid-Amerikaanse fotograaf het oor dertig dae met 28 kinders in twaalf verskillende lande gesels en foto’s geneem van hul ervarings in die tyd van Covid-19. Sy vertel aan Maryke Roberts wat hulle aan haar gesê het.

Erika Verginelli
Die Brasiliaanse fotograaf Erika Verginelli.

In ’n tyd waar mense swaarkry en doodgaan, wou die Brasiliaanse fotograaf Erika Verginelli nie voortgaan om vrolike plasings van haar kreatiewe werk op sosiale media te maak nie. Vir 30 dae het sy onttrek, huis skoongemaak, kaste reggepak en haar kinders, Emanuella (12) en Giuseppe (10), tuisonderrig gegee.

Toe kon sy nie meer nie. Sy het haar kreatiwiteit en kamera gemis.

“Ek moes net weer aan die werk spring, natuurlik binne die beperkinge van inperking.”

Sy en Paola Sells, die eienaar van Sugar Kids, ’n internasionale kindermodel-agentskap wat in Barcelona gevestig is, kom toe met ’n projek vorendag wat haar toelaat om foto’s te neem sonder om haar huis in São Paulo, Brasilië, te verlaat. Die plan was om met kinders in die VSA, Spanje, Frankryk, Australië, Denemarke, Suid-Korea, Portugal, Switserland, Suid-Afrika, Brasilië, België en Brittanje te gesels oor hul ervaring van die inperkingsregulasies wat hul lande instel en dan foto’s te neem wat hierdie vreemde tyd illustreer.

Ek kon elke dag vir ’n maand met kinders gesels, pret hê en ervaringe deel oor hoe die kwarantyn elkeen se lewe ingrypend verander het.

Erika en Paola ken die meeste van die kinders van vorige fotosessies. Hul ouers moes toestem en elke kind moes iets skryf oor hul ervaring tydens inperking en sit vir foto’s.

Die Suid-Afrikaanse kind wat sy gekies het, is Finn Swart (8) van Somerset-Wes, wat te kostelik met sy budjie, Blue, op sy vinger sit (sien foto op voorblad). Die meeste kinders het ’n kort briefie geskryf, maar hy het besluit om ’n prentjie te teken en te illustreer dat inperking hom geleer het om lief te wees vir sy troeteldiere – twee honde, drie hoenders en sy budjie.

Finn se ma, Henrique Wilding, vertel Erika het hulle per WhatsApp uitgevra oor hul Apple-toestelle en of hulle foto’s van die huis se natuurlik lig kon neem, om te bepaal waar die beste plek sou wees vir foto’s. Finn moes van sy gunstelinggoed gereed hê vir die fotosessie: sy kaartboek deur Aleksandra & Daniel Mizielinski; sy gunstelingpop, ook genaamd Finn (Kite Flyer) en sy budjie. Die gesin het prentjies in silhoeët teen die muur geteken; ’n foto van Finn deur ’n plaaslike fotograaf, Dave Kennedy, teen die muur geplak en toe tydens die fotosessie lig laat weerkaats van die vensterruite af vir maksimum lig. Sy suster, Allegra (12), het die prentjies teen die muur vir hom geteken en sy broer, Liam (16), het gehelp met beligting.

“Die fotosessie-dag was uitputtend. Ons wou nie Erika se tyd mors nie – sy was toe al byna ’n maand aan die gang – en het noukeurig na haar opdragte geluister, sodat Finn die regte posisies en uitdrukkings kon hê en sy van duisende kilometers weg die beste foto’s kon neem.”

Henrique sê Finn was baie opgewonde om met iemand so ver weg te kon kommunikeer tydens inperking. “Hy het ook baie belang gestel om te hoor wat ander kinders oor die wêreld heen ervaar. Dit het hom laat besef hy gaan nie alleen hierdeur nie.”

Sy sê hul gesin sal die ondervinding nie vergeet nie. “Ek dink dis ’n historiese geleentheid wat Finn eendag met sy eie kinders sal kan deel.”

Erika vertel elke fotosessie het tussen een en twee ure geduur. Sy het ’n Face­Time-kamera, sommige kere skermskote en ook haar eie Canon 5DS R gebruik.

Sy sê die projek was nie net vir die kinders pret nie, maar het ook vir haar geestesgesondheid baie beteken.

“Ek kon elke dag vir ’n maand met kinders gesels, pret hê en ervaringe deel oor hoe die kwarantyn elkeen se lewe ingrypend verander het.”

Wat haar opgeval het, is hoe kreatief al die kinders was, al was hul omstandighede almal geweldig verskillend omdat die intensiteit van inperking van land tot land verskil.

  • ’n Berig en foto’s van die projek verskyn in die Mei 2020-uitgawe van Hooligans, ’n nuwe Amerikaans-Europese tydskrif, wat jy op Magcloud.com kan koop.
  • Volg Erika op Instagram by @erikaverginelli.
Aaden (10) en sy sussie Amare van die VSA: “Ek het geleer om meer geduldig te wees.”
Silver (7) en haar broer Spike van Brittanje: “Ek het geleer dat ek regtig goed is in dinge waarvan ek nie geweet het nie.”
Finn Swart (8) van Somerset-Wes was die Suid-Afrikaanse deelnemer aan die projek.
Alexia (10) van Spanje: “Ek het gedurende kwarantyn geleer om rekenaartoepassings beter te verstaan. Ek het ook sokker en tafeltennis in die motorhuis gespeel en is mal daaroor!”
Rue (10) van die VSA: “Ek mis my vriende baie en het tydens kwarantyn geleer dat hulle baie vir my beteken.”
Lara (9) van Brasilië: “Ek het geleer hoe om my kreatiwiteit te gebruik om nuwe speletjies uit te dink.”
Meer oor:  Koronavirus  |  Kinders  |  Pandemie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.