Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Daar kom die wa – al op die Vergete Grootpad langs

Vier avontuurlustiges gaan op 18 Oktober met ’n perdewa en ses swart spogperde die spoor van die Gibson-broers se perdekoetsroete van die 1870’s vat.

Piet Coetzer, Shattie van Huyssteen en Hannes van Wyk sal die leisels om die beurt hou, terwyl Gerhard Bosch in ’n voertuig die logistieke steun sal verleen.

Die vierperdewa op 'n vorige uitstappie. Foto: Verskaf

Die groep sal dié tog vanaf die historiese ossewa-brug by Hopetown begin en sover moontlik tot by Ceres heeltyd grondpad ry.

Die voorperde, Minister en Kado, die middelperde, Kommandant en Rakker, en die agterperde, Anet en Carnet, sal voor die vierwielwa ingespan wees.

Volgens Coetzee, van Senekal in die Vrystaat, wat ook lid van die plaaslike Ruiterklub is, is dit al lank ’n droom om dié sowat 830 km van die Vergete Grootpad, teen sowat 40 km per dag, aan te pak. 

Al die pad grondpad

“Ons wil net grondpad ry en snags slaap onder die wa met ’n seiltjie wat die wind afkeer.”

Hulle beplan nie om op dié tog gebruik te maak van mense se gasvrye aanbod om in ’n huis of op ’n werf te oornag nie.

Dié wa gaan eersdaags deur ses spogperde al op die Vergete Grondpad getrek word. Foto: Skermgreep/Video verskaf
Ses perde sal binnekort dié vierwielwa op die Vergete Grondpad trek. Foto: Skermgreep/Video verskaf

Alles wat hulle gaan benodig, sal op die wa en die ondersteuningsvoertuig gepak word – selfs ’n buitelugstort – en die perde sal sommerso van die wa af vreet, sê Coetzer.

“Die perde is ook geleer om naby die wa te bly en sal nie afdwaal nie.”

Hoewel Coetzer gewoonlik net vier perde voor dié ou vierwiel­plaaswaentjie met sy gewone rubberwiele inspan, gaan ses perde van die Vreugde-Vlaamperdstoetery ingespan word, bloot om dit vir die perde makliker te maak.

Coetzer en sy reisgenote het al voorheen met dié wa vanaf Senekal na onder meer Heilbron, Allemanskraaldam en Ladybrand gery.

Die roete vir die tog in Oktober is grotendeels klaar beplan, hoewel Coetzer sê dat dit “hier en daar nog kan verander”.

Vergete Grootpad

Dít is die naam vir die roete vanaf die Wes-Kaap na Kimberley wat duisende hoopvolle diamantdelwers en -spekulante in die 1870’s gevolg het. Dit het gemiddeld nege tot 14 dae geneem om dié roete teen ’n spoed af te lê.

Duisende waens, koetse en ander rytuie het die Vergete Grootpad en ander roetes deurkruis in die sowat 15 jaar wat dit geneem het om die spoorlyn vanaf Wellington tot in Kimberley te voltooi.

Tot in ’n tydperk selfs ná die oopstel van die spoorlyn was die gebruik van transportwaens steeds gewild omdat die treine glo stadig was, en daar oor “crawling trains and flying coaches” geskryf is.

Die boek van Bernhard Louw handel oor die Gibson-broers se transportroetes. Foto: Verskaf

Die Gibson-broers, James en John, het in Julie 1871 in Suid-Afrika aangekom en kort daarna die Red Star Line begin en gou naam gemaak vir hul “vinnige” diens.

Later jare was dit die einste broers wat ’n pont gebou het waarmee waens oor die Oranjerivier geneem is.

Volgens The Gibson Brothers of the Red Star Line deur Bernhard Louw was dit ook dié broers wat die tremdiens tussen Kimberley en Beaconsfield langer as 30 jaar bedryf het. Nog later het hulle hul koets- en tremdienste na ander dele van die land uitgebrei.

R.W. Murray, ’n joernalis, het berig dat die broers hul roete ken en weet hoe om die passasiers gemaklik te laat voel, aldus Die Vergete Grootpad deur Ceres en die Bokkeveld deur Dene Smuts en Paul Alberts.

Om dié diens te bedryf, moes die Gibson-broers onder meer stalle al langs die roete vir voer en water vir die trekdiere oprig, terwyl vars trekdiere ook daar gewag het.

Boonop moes dié punte beman word en onderdele vir die waens en ’n voorraad tuie aangehou word.

’n Vaste program, wat vir die reisigers sinoniem met goeie diens was, was ook belangrik. Voordat die Gibson-broers op die toneel verskyn het, was dit gebruiklik dat selfs dae gewag is voordat ’n wa vol bespreek was.

’n Ontsaglike groot vlakte sonder onderbreking van heuwel of bult, so ver soos die oog kan sien. Daar was geen vogtigheid in die droë Karoolug nie.

’n Uitdagende deel van die roete vanaf die Kaap was om oor die berge in die Ceres-omgewing te kom. Togryers moes tussen die Koue Bokkeveld en die Warm Bokkeveld deur die Karoopoort trek.

In Beyond the City Lights skryf Lawrence G. Green dat ’n koerantberig van 1871 die Poort beskryf het “as ’n yslike mensvreter wat mens en dier sou insluk”.

Die bene wat onder die Karooson lê en verbleik het, het menige reisiger afgeskrik, en talle wavragte is met ’n langer ompad gestuur.

In hul boek haal Smuts en Alberts uit Travels in the Interior of Southern Africa deur William John Burchell aan om die eerste uitsig deur die Karoopoort te beskryf: “ ’n Ontsaglike groot vlakte sonder onderbreking van heuwel of bult, so ver soos die oog kan sien. Daar was geen vogtigheid in die droë Karoolug nie.”

En nog later: “Die Hangklip, doer in die verte, was nog steeds die enigste voorwerp in sig en dit is net natuurlik dat die krans wat oorgehang en uitgesteek het, gebruik is as naam vir ’n plek waar daar niks anders was om ’n naam aan die hand te doen nie.”

Ná Karoopoort het dae van ’n gestamp oor slote, of blootstelling aan donderstorms of ’n verskroeiende son oor die uitgestrekte Karoo-vlaktes voorgelê, met slegs die glans van diamante wat die reisigers oortuig het om met dié reis voort te gaan.

  • Enigeen wat Coetzer en sy reisgenote met inligting, raad en staaltjies oor die roete kan bystaan, kan hom by 073 852 7420 bel of ’n e-pos na pietcoetzer1@gmail.com stuur. Van Huyssteen kan by 078 105 2797 gebel word.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.