Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Dalene Matthee-leser wil skaars lelie laat herleef

’n Inwoner van Oudtshoorn wil die George-lelie, waarna verwys word in Dalene Matthee se Moerbeibos, laat herleef.

Elmarie Jonck Seaton (41) en haar man, dr. Douglas Seaton, beplan om vroeg volgende jaar, met planttyd, dié lelie, die Cyrtanthus Elatus, in Lelievleibos te herplant.

Seaton vertel sy was in gr. 2 in 1988 toe die eerste Fiela se Kind op hul plaas Duiwekloof tussen George en Oudtshoorn in die Baviaanskloof verfilm is.

Elmarie Jonck Spies in die Knysnawoud. Foto: Verskaf

“Ek het elke dag op die stel gekuier waar hulle die fliek by my pa, Malan Jonck, se Karoohuisie geskiet het.”

Katinka Heyns, die regisseur, het op hul plaas opgedaag op soek na ’n Karoo-toneel om Fiela se Kind te skiet.

“My oupa het haar verskree, want sy stap toe sommer na ’n huisie in die middel van ’n broeikamp en daar is ’n kwaai volstruismannetjie.”

Heyns het toe ’n ander huis op die plaas gekies, die een waarin Malan grootgeword het.

Seaton sê dit was ’n ongelooflike ervaring om elke dag ná skool die stel te besoek.

“Ek het Shaleen Surtie-Richards se hare gevleg; Jacques Loots was daar en Dawid Minnaar – en dit was net ’n ongelooflike ervaring. Ons kon ook van die kos eet.

Sy het daarna ál Matthee se boeke gelees. Veral Moerbeibos het haar verbeelding aangegryp.

Die George-lelie (of is dit nou die Knysna-lelie), Cyrtanthus Elatuse. Foto: Johan Baard

In dié boek bou die bosmense ’n kamp om die lelies in Lelievleibos in ’n poging om dit teen die bosvarke te beskerm, min wetende dat die varke bydra tot die voortbestaan van die lelie. Hul optrede het daartoe gelei dat die spesie uitsterf. Die lelievlei het werklik in die 1930’s op dié manier tot niet gegaan.

“Ek het my oë uitgehuil toe ek hoor die Lelievleibos is tot niet.”

Nou beplan hulle om die lelie te laat herleef.

“Al is dit ’n projek wat nie werk nie, ek wil hê my kinders moet ook ’n bietjie van die woud leer.”


Lelies se habitat sterf uit

Daar is omstredenheid oor of die lelie Cyrtanthus Elatus, waarna verwys word in Dalene Matthee se Moerbeibos, die George- of Knysna-lelie genoem word, sê Koos Havenga, ’n bosbouer by Diepwalle.

Die Lelievleibos het sy naam gekry van dié lelies wat teen 1930 volop gegroei het.

Hy het navorsing hieroor gedoen en vasgestel die bosbewoners het geglo bosvarke bedreig die lelies. Dit het egter later geblyk die bou van die kampe om die varke weg te hou, was teenproduktief.

“Die lelies het mettertyd al hoe minder geword en toe verdwyn.”

Havenga het destyds gehelp om die Outeniqua-voetslaanpad uit te lê.

“My teorie is dat die vlei al hoe kleiner geword het en dat die lelies se habitat verdwyn het.”

Hy sê daar word reeds die afgelope 30 jaar pogings aangewend om die lelies weer hier te laat groei.

“Die toestande is egter nie meer optimaal nie. Maar dit moes ’n mooi gesig gewees het toe dit in die 1930’s natuurlik voorgekom het.”

Meer oor:  Dalene Matthee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.