Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Dapper Mango, ’n liefdesverhaal (met baie karakters)

Mango en Min se kameraadskap is geskoei op moed, geduld en baie liefde, nadat Mango in Januarie, kort duskant die dood, uit ’n 12 m diep mynskag gered is.

Die geelbruin hond, destyds nog net ’n paar maande oud, het onderin ’n onwettige skag in Pimville, Soweto, gelê – opgekrul, wagtend op die dood.

Hoe lank sy daar was, hoe sy daar beland het en waardeur sy in haar kort lewe was, weet niemand nie.

Sy was ’n bondeltjie ribbes, ou beserings en bosluise toe James Buthelezi haar vind.

Hy het verskeie kere kilometers berg op en berg af gestap om hulp te soek – die begin van ’n drie uur lange naelbyt-redding waar Nadia Hansa van die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings saam met ’n vrywilliger die hond met toue en harnasse uit die gat gaan haal het.

Hansa se profetiese woorde na die redding was: Die hond wag vir iemand spesiaal om haar aan te neem en haar ’n naam te gee wat haar moed weerspieël.

Vandag heet sy: Hansa Mangosuthu Buthelezi – Mango.

“Dit is te danke aan die wonderlike mense, James Buthelezi wat haar lot gerapporteer het, en Nadia Hansa wat haar uiteindelik uit die gat gered het,” sê Minétte (Min) Teessen stralend en effens uitasem.

Hansa Mangosuthu Buthelezi - Mango - die hond wat as baba vir dood in ’n mynskag gelaat is en vernoem is na die mense wat haar tydens ’n drie uur lange reddingspoging ’n tweede kans gegee het.Foto: Deaan Vivier

Dit reën in Pretoria maar Mango wil speel en daardie bal gaan hom nié self gooi nie.

Haar ore is nie baie seker watter kant toe dit nou eintlik wil staan nie, so ook nie die windskeef geknakte stert nie.

Daar skort egter niks met haar spoed as haar dun bene soos ’n pyl uit ’n boog agter die bal aan deur die gras klief nie.

Die bek lag, solank sy haar ounooi in die oog het.

Mango vertrou nog nie eintlik vreemde mense nie. Sy hou ook nie van hoogtes nie.

Sy hou wel baie van gedroogte piesang. En stappies. En natuurlik haar bal.

Nuuskierig en intelligent, kry Mango self haar bal as dit wegraak en bring dit terug vir haar ounooi. Foto: Deaan Vivier

Sy en die waaier in haar ounooi se kamer is nou beter vriende as aan die begin.

Die tuin is ook nie meer Vyand Nommer 1 wat verwoes moet word nie.

Teessen en Mango het ’n ver pad van vreugdevolle “klein mylpaaltjies” gevorder sedert Teessen die hond in Februarie aangeneem het.

“Daardie berig destyds oor die hond in die gat het my aan die hart gegryp,” sê Teessen.

Sy het gaan kuier, maar die hond was onder kwarantyn en op antibiotika.

Die DBV het die dier so vyf maande oud geskat.

Met Teessen se tweede besoek, al die pad van Pretoria af na die DBV in Booysens, kon sy met die hondjie op die gras speel.

“Maar Mango was skrikkerig en het glad nie toegelaat dat ek aan haar vat nie. Charmain Southon, die DBV se dieregedragspesialis, het gewaarsku wie ook al die hond aanneem, sal baie geduld moet hê,” sê Teessen.

Die hond het egter toe reeds vierpotig in Teessen se hart geklim.

Mango hardloop om haar bal te vang terwyl haar ounooi, Minétte (Min) Teessen laggend aanmoedig.Foto: Deaan Vivier

Op 26 Februarie het sy en haar suster vir Mango gaan haal.

“Sy het nie daarvan gehou om opgetel te word nie en het gestoei in protes.

“Die oomblik toe ons die kardeur by die huis oopmaak, het sy uitgespring en na ’n begroeide hoekie in die erf verdwyn,” sê Teessen.

Van die nuwe ounooi se planne dat die hond by haar op die bed sou slaap, wou Mango ook niks weet nie.

Die naaste wat sy aan die huis gewaag het, was tot op die voorstoep, wat genadiglik beskut was.

Teessen het maar die spesiaal gekoopte kussing en kombersie soontoe geskuif.

“Ek wou so graag hierdie verskrikte, getraumatiseerde hondjie kon paai, net vashou en vertel alles is oukei, jy is veilig, maar alle interaksie was styf en versigtig,” sê Teessen.

Dit was vier weke voordat Mango haar eerste blaf gegee het.

Vyf weke ná haar aanneming kon Teessen haar borskas vryf.

Mango het trapsuutjie-versigtig uiteindelik die huis betree – maar letterlik gevries van vrees as die deur agter haar sou toegaan.

Die eerste paar pogings om te gaan stap was amper rampspoedig.

“As die hek agter haar toegaan, wou sy met alle mag en mening terug in die erf. Ten minste het dit my laat besef sy voel veilig in die erf,” sê die ounooi.

Mango het sosialiseringsklasse begin bywoon, spesiale aandag van ’n gedragskenner gekry.

“Januarie gaan sy na die gevorderde klas toe!” spog Teessen.

Die hond weet haar naam is Mango, maar reageer ook op “Gogga”, “Bokkie,” en “Liefie” - solank dit Teessen is wat dit gebruik.

Nooit ooit is Ounooi buite sig nie, selfs nie as sy snoet op die grond die bal soek-soek nie.

“Sy het my geleer om geduldig te wees – en dit beloon met onvoorwaardelike liefde en lojaliteit, al het dit windskeef ore en ’n geknakte stert,” straal Teessen.

Meer oor:  Redding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.