Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Dapper stappers van Nyanga

Moeë bene rus vir ’n oomblik en Lulama Dingiswayo (in die grys hemp) deel appels uit. Foto: Julian Jansen
Lulama Dingiswayo verfraai onwettige stortingsterreine in Nyanga deur bome daar te plant. Op ’n dag groei daar ’n idee in sy kop om die buurt se jong mense op staptogte in die natuur te neem. Julian Jansen en fotograaf Edrea du Toit het gaan saamstap.

Verbeel jou dié prentjie: Tussen die groen lower van die Nuweland-woud kabbel ’n bergstroom tussen reuserotse. Agter, verskans deur welige en hoë bome, troon Tafelberg se bosryke hange. Daar hang ’n stilte dik soos stroop, met net die gekwetter van voëls.

Dan, skielik hoor jy ’n liedjie vanuit nêrens. Jong Xhosa-stemme. ’n String seuns en meisies kom met die voetpad aangestap, die oë gretig en blink.

Justin Ashley, ’n eiendomsbelegger van Nuweland, stap heel voor. Hy is die stapleier. Êrens in die middel stap Lulama Dingiswayo, die een wat die stappery begin het. Heel agter stap Susan Ashley. Sy doen die “veewerk” – sorg dat niemand agter raak of ’n papiertjie of iets agterlaat nie.

Lulama Dingiswayo lei sy stappers. Foto: Julian Jansen
Die begin

Justin vertel in die loop hy het een aand op Facebook die gemeenskapsorganisasie Malibelinye (dit beteken “ons werk saam”) raakgesien. Onder leiding van Lulama verander onwettige stortingsterreine in Nyanga op die Kaapse Vlakte in ’n paradys. Nyanga en Gugulethu se inwoners help hom daarmee. Ou motorbande word so gepak dat voertuie nie weer daar kan inry nie. Die eens vuil oop gebiede word boomryke stroke.

Lulama werk in die provinsiale wetgewer in Kaapstad en het ’n opregte liefde vir die natuur en gemeenskapsontwikkeling.

Justin is lid van die Kaapstadse gemeenskapsaksienetwerk (CAN), wat met die begin van die Covid-19-pandemie en die gevolglike inperking kos en klere aan behoeftige gemeenskappe uitgedeel het.

Justin sê hy lees toe Lulama soek iemand wat vir hulle bome in die Paarl kan gaan haal. Hy bied aan en lewer die bome betyds vir Mandeladag op 18 Julie.

“Ons het eenvoudig die kinders bymekaar gekry en toe stap ons!” sê hy. Die belangstelling was so groot dat dit al die tweede stapgroep is.

’n Vriendskap het gegroei en op ’n dag noem Lulama dat hy graag die kinders van Nyanga op staptogte in die natuur wil neem. Justin woon knap langs die Nuweland-woud en het in daardie stadium die stapklub van The Grove Primary School bestuur.

“Ons het eenvoudig die kinders bymekaar gekry en toe stap ons!” sê hy.

Die belangstelling was so groot dat dit al die tweede stapgroep is.

Die Nuweland-woud is ’n bewaringsgebied aan die oostelike helling van Tafelberg. Die gebied is geskik vir jonk en oud wat wil stap, piekniek hou of oefen vir veldwedlope. Ervare stappers gebruik die woud as toegang tot vier unieke roetes tot bo-op die berg.

Justin Ashley en sy vrou, Susan, verduidelik die reëls aan die stapgroep voor die tog begin. Foto: Edrea du Toit
Grootste behoefte, goedkoop vervoer

Op hierdie Sondag het HG Travelling Services drie minibussies teen ’n goeie afslag beskikbaar gestel om die 34 kinders in Nyanga en Gugulethu op te laai.

Vader Max Moeketsi van die Holy Cross Anglican Church het hulle met gebed op die pad gesit en om 08:30 kom hulle veilig aan by die ingang langs die M3.

Justin verduidelik die stapreëls deeglik, elkeen kry ’n bottel water en toe val hulle in die voetpad.

Nuweland-woud is ’n baie gewilde stapplek. Toegang is gratis. Oud en jonk kom stap hier met hul honde aan leibande. Ons gaan die 5 km lange kontoerpad-roete doen en tot op die 330 m-kontoerlyn stap.

Die groep is die hange op, al met die kronkelende voetpaadjies. Die natuurlike trappies toets regtig die knieë, maar ná ’n ruk raak jy dit gewoond. Die asemhalings voor jou is ’n monotone geluid in die stilte. Oor ons is ’n kombers van skadu en koelte, met bome en rotse oortrek met donkergroen mos.

Hemelhoë dennebome in die plantasie. Foto: Julian Jansen

Die roete neem ons oor die klipbrug, dan volg ’n steilte van 200 m se klim, verby die Woodcutters-paadjie, oor die Nuweland-stroom, tot by die kontoerpad, waar ons by die ronde houttafel met bankies middagete geniet. Elkeen kry ’n heerlike warmbrak met tamatiesous en later nartjies.

Ons vertrek suidwaarts op die kontoerpad, “myle” se dwarslêers van houtplanke. Dié roete is redelik gelyk, want ons loop al op die kontoerlyn. Plek-plek tussen ’n opening in die bome kan jy in die verte die Skiereiland, Valsbaai en Zeekoevlei sien.

Langs die pad gesels Justin oor die stapklub se pad vorentoe. “Dis steeds die beginstadium, maar ons begin al dink aan meerdaagse staptogte: om die kinders byvoorbeeld Cederberge toe te neem. Jip, ouers moet ’n vrywaringsvorm invul.

Die Wes-Kaap het van die asemrowendste staproetes. Ons moet net die kinders daar kry.

“Die Wes-Kaap het van die asemrowendste staproetes. Ons moet net die kinders daar kry.”

Voor ons links en meer noord draai waar die pad vurk, neem die groep eers ’n ruskans. Appels en ’n suigstokkie word uitgedeel.

Hierna is dit meestal afdraand en jou bobene moet hul briek ken! Jou knieë word skokbrekers. Dan breek die seuns los met nog ’n Xhosa-liedjie. Ritmies beweeg die mensewurm deur die bome. Nou en dan rus iemand, skep daardie “tweede wind” of neem sommer foto’s.

Lulama sluit by ons aan. Hy klink opgewonde en gesels oor sy idees. “Ons hoop om in die toekoms meer kinders te kan neem, uit Nyanga en veral die plakkerbuurte New Crossroads en KTC. Die enigste uitdaging is die vervoer, die grootste uitgawe. Ek dink daaraan dat baie skole se bussies oor naweke geparkeer staan. As hulle daardie vervoer vir ons kan beskikbaar stel, teen ’n goeie afslag, kan dit baie help.”

Justin en Lulama sê die stap bou karakter, maak dinge in jou los. Jy ontdek nuwe goed in jouself. Leierseienskappe kom na vore, sê hulle.

Wanneer hulle die meerdaagse staptogte gaan aanpak, sal al hierdie dinge ’n impak op die kinders hê. “Hulle sal as nuwe mense uit die woud en berg terugkeer,” sê Justin. Lulama knik sy kop. Hy stem volkome saam. Sy groepie is maar nog stil, maar hy glo vorentoe sal hulle meer uit hul dop kruip.

Die piekniektafel beteken lekker eetgoed! Foto: Edrea du Toit
Die jong klomp sê

Een so ’n skaam stapper is Lilitha Cwayi (16). Sy sê sy hou van die rustigheid en die baie bome. “Ek hou sommer baie van stap!” sê sy skamerig.

Bassie Bikouta (12) is onder die jongste in die groep en het haar verkyk aan die plantegroei en verluister aan die voëls. Sy wil weer kom stap, sê sy met ’n breë glimlag en ogies wat vonkel.

Siyamthanda Bala (19) is meer uitgesproke. Hy is ’n kranige sokkerspeler en sê sportmense moet ook tyd in die natuur deurbring. “Dit maak mens rustig en gee jou vrede in jouself.”

Die laaste paar kilometer is oor die Skelmkop-pad en die Hiddingh-stroom. By die eindpunt sê die Strava-app op my selfoon dat ek net onder die 14 000 treë gegee het!

Nog net tyd vir ’n groepfoto, dan is dit groet.

Nuwe vriendskappe is gesluit en beloftes gemaak – dat ons mekaar binnekort weer gaan sien.

Wat ’n onvergeetlike dag!

Kom stap saam

Nyanga-stapklub se dagboek:
8 November: Vanaf Kommetjie na die wrak van die Kakapo en terug.

13 Desember: Van Constantia-nek na Vlakkenberg-piek en terug.

  • Vir meer inligting, bel Lulama by 060 688 8384 of besoek die Facebook-blad Nyanga Hiking Club.
Meer oor:  Nyanga  |  Natuur  |  Jeug
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.