Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Deel van ons erfenis: Broekies wil hul dra

In die hartjie van die Paarl, op Zeederbergplein, staan ’n ry huise met uiteenlopende style broekiekant.
Die gietyster-kantpatrone waarmee huise van die 1800’s versier is, het deel geword  van ons erfenis, skryf Ilse Zietsman.

Vir my is een van die mooiste woorde in Afrikaans broekielace (of broekieslace). Dis weliswaar nie eg Afrikaans soos ander woorde wat sag op die hart en tong val nie – dink maar aan pampoen, komkommer, wispelturig, pantoffels, bollemakiesie, spookasem, babelas, warrelwind, lékker en holderstebolder.

Broekie(s)lace of dan broekiekant soos hy (sy?) in die woordeboek staan, is egter eg Suid-Afrikaans en deel van ons landskap. Van Victoriaanse woonhuis­argitektuur tot Karoo-dorpshuise en van enkel- tot dubbelverdiepinggeboue spog met hierdie stoep-, veranda-, daknok- en balkonversiering van hout of gietyster gemaak.

Dikwels het trap- en balkonrelings traliewerk, lyswerk (fretwork), fyn saagwerk of gesnyde houtpatrone gehad wat die broekiekant aangevul het.

Patroontjies wat op mekaar herhaal, wissel van Gotiese motiewe tot blommetjies, blaartjies en blomsteeltjies en swierige krulletjies en draaitjies. Tradisioneel is broekiekant óf wit óf woudgroen. Soms is swart bespeur.

Dis nét in Afrikaans dat ’n woord soos broekiekant sal posvat om ’n argitektoniese stylontwerp mee te beskryf! ’n Broekie is natuurlik ’n pêntie, maar nie noodwendig ’n wyepypbloemer nie.

Dis nét in Afrikaans dat ’n woord soos broekiekant sal posvat om ’n argitektoniese stylontwerp mee te beskryf!

’n Broekie is natuurlik ’n pêntie, maar nie noodwendig ’n wyepypbloemer nie.

Die “lace” verwys na die ragfyn kantwerk van vrouebroekies van destyds. Ek wil nou nie kant kies nie, maar meer gepas kan die beskrywing sekerlik nie wees nie.

In ’n skip se maag na Suid-Afrika

Daar word vertel dat dié Victoriaanse ysterversiering as ballas in skepe van Brittanje gebruik is. Ballas is ’n lading in die maag van ’n skip om daaraan diepgang te gee of die skip “vas” te laat lê. ’n Mens kan jou indink hoe baie daarvan noodwendig sou gebreek het soos die skip rondrol.

Baie van die Suid-Afrikaanse broekiekant het van die Saracen-smeltery in Glasgow gekom. Dié smeltery het aan W. MacFarlane & Co. Limited behoort; hulle was die bekendste vervaardigers van ornamentele ysterwerk in Skotland.

Dié ysterwerk is op groot skaal vervaardig; juis daarom kon Jan Alleman dit ook bekostig. Katalogusse met prentjies van die verskillende patrone het dit maklik gemaak om ’n bestelling te plaas. Jou keuse is eenvoudig verskeep na die naaste hawe aan jou woonplek.

Klaarblyklik is broekiekant ook plaaslik, veral in die Karoo, vervaardig.

As jy in die Paarl is, sal jy op baie broekiekant, die een so mooi soos die ander, afkom.
Dáár sal jy nog broekiekant sien

Daar is amper nie ’n deel van ons land waar broekiekant nie voorgekom het nie.

Waar jy ook in sakekerns of in ou woonbuurte van dié stede rondry, sal jy steeds die wonderlikste broekiekant raaksien, hoewel sommige reeds erg verweer is. In Kaapstad se Lang- en Loopstraat kan jy jou nog plek-plek verkyk aan die broekiekant.

Helaas, soos huise en sakegeboue verwaarloos het, het baie van die broekiekant ook vergaan. Soms het broekiekant tydens restourasieprojekte in die slag gebly.

Dekades gelede was broekiekant in stede soos Kaapstad, Johannesburg, Durban en Port Elizabeth ’n algemene gesig.

Waar jy ook in sakekerns of in ou woonbuurte van dié stede rondry, sal jy steeds die wonderlikste broekiekant raaksien, hoewel sommige reeds erg verweer is. In Kaapstad se Lang- en Loopstraat kan jy jou nog plek-plek verkyk aan die broekiekant.

In die boek 19th Century Port Elizabeth: A Guide to Restoration deur Danie Theron word spesifiek na besonderse voorbeelde van geboue met interessante broekiekant in Donkin-, Cuyler- en Stanleystraat verwys.

Broekiekant aan die veranda van die bib­lioteek op Philippolis in die Vrystaat.

In Oudtshoorn is baie van die volstruispaleise, sowel as die huise van welvarende handelaars, met broekiekant versier. In die dorp self sowel as die distrik is daar nog plek-plek lieflike voorbeelde daarvan te sien.

Dis ook die moeite werd om Simonstad te besoek nét om die broekiekant op die dorp se “historiese myl” te bekyk.

Dis ook die moeite werd om Simonstad te besoek nét om die broekiekant op die dorp se “historiese myl” te bekyk.

Op 27 Mei 1814 is Simonstad as ’n afsonderlike distrik – voorheen was dit deel van Kaapstad – verklaar. Die argitek John Parker (1866-1921) was grootliks verantwoordelik vir die milde gebruik van broekiekant. Parker het verskeie van die geboue aan die historiese myl ontwerp.

Hy het ’n voorliefde vir balkonne, pilare en relings gehad. Baie van Parker se geboue staan vandag nog.

Nader aan die stadskom is daar ook pragtige broekiekant in Observatory en Woodstock te sien. In die Boland spog die Paarl en Stellenbosch met broekiekant wat ook ’n besoek werd is.

In laasgenoemde se Pleinstraat staan daar sommer ’n hele paar geboue met die soort broekiekant wat jou opgewonde sal maak. By Andringastraat 30 vind mens ’n gerestoureerde drankwinkel met wonderlike patrone wat besigtig móét word as jy jou in dié omgewing bevind.

Op Zeederbergplein, in die hartjie van die Paarl, staan daar ’n ry huise wat met uiteenlopende style broekiekant pronk.

Die plein is genoem na dr. Johannes Rudolph Zeederberg, wat in 1848 as die Paarl se eerste distriksgeneesheer aangestel is; hy het dié pos tot 1881 beklee. Hy het by Zeederbergplein 1 gewoon.

Die huise by Zeederbergplein 2-5 toon hoe argitektoniese stylmiddele oor die jare ontwikkel het. Aanvanklik is broekiekant uit hout gekerf; in later jare is gietyster gebruik.

A.G. Visser se huis neem ’n trotse plek in die hoofstraat van Steytlerville in. Die dak is versier met broekiekant.

In ’n Paarlse brosjure wat “ ’n wandeling deur die historiese hart van die Paarl” toelig, word verduidelik hoe talle Kaaps-Hollandse huise ná 1860 aangepas is. Rietdakke is deur sinkplaat vervang; soms is gewels verwyder en broekiekant was die nuwe modegier vir stoepe, verandas en balkonne.

Die nuut toegevoegde verandas het ook welkome skadu gebied.

As jy mooi kyk, kan jy sien by watter huis op Zeederbergplein die gewel verwyder is om vir ’n veranda plek te maak (dis nr. 4). Zeederbergplein 5 word as een van die mooiste voorbeelde van broekiekant in die land beskou.

Nog ’n uitstaande voorbeeld is die Lord Milner-hotel op Matjiesfontein.

As jy weer die langpad (mag) vat, gaan kyk gerus na die broekiekant bo die veranda van die A.G. Visser-huis op Steytlerville, na amper al die geboue in Matjiesfontein se hoofstraat, die biblioteek op Philippolis, die stoeprelings van Victoria Manor op Cradock (en ’n paar van die huise verder af in die straat), die Swartberg-hotel op Prins Albert en die Lord Carnarvon-hotel en Die Medisynekas op Carnarvon.

Voeg soveel as jy kan by hierdie lys, want as jy eers begin rondkyk, sal jy broekiekant in talle dorpe in Suid-Afrika begin raaksien.

Jy sou kon vra of broekiekant steeds sy beste voetjie kan voorsit. As ’n mens na al die foto’s op Pinterest kyk en dan boonop advertensies vir plastiekbroekiekant (ek skaar my definitief nie aan daardie kant nie!) begin oplet, is die antwoord seker ’n onomwonde ja!

Broekielace hou steeds die blink kant, by wyse van spreke, bo.

Heritage Castings in Kaapstad, wat in handgemaakte Victoriaanse gietwerk spesialiseer (www.heritagefoundry.co.za).

Die plaashuis op dié foto staan in die historiese gehuggie Philadelphia, noord van Kaapstad, en is in 1860 gebou. Van die pragtige Victoriaanse broekiekant dateer uit 1923, toe opknappings aan die huis gedoen is. Dit het verweer. Die nuwe eienaar het ’n jaar gelede begin om die huis te omskep, met behoud van die Victoriaanse stylelemente, wat vereis het dat die broekiekant vervang of gerestoureer word. Dele van die broekiekant wat gered kon word, is gesandstraal en met ’n roeswerende middel behandel om dit splinternuut te laat lyk. Nuwe segmente is gegiet in aluminium deur Heritage Castings in Kaapstad, wat in handgemaakte Victoriaanse gietwerk spesialiseer (www.heritagefoundry.co.za).

Meer oor:  Argitektuur  |  Huise  |  Broekielace
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.