Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Destyds se hofknapie vergesel Andreé na matriekafskeid
Van toeka tot nou: Andrée Badenhorst (18) van die Hoërskool Zwartkop in Centurion en haar nefie, Leon Labuschagne (20). Foto: Verskaf

’n Lekker metgesel vir jou matriekafskeid krap jy nie agter elke bos uit nie. Daarom het Andrée Badenhorst (18) van die Hoërskool Zwartkop in Centurion besluit om haar heel eerste “metgesel” ooit na haar afskeid te vra.

Badenhorst en haar neef, Leon Labuschagne (20), het immers as kleuters al ewe uitgevat in ’n lang rok en aandpak by ’n troue vir foto’s poseer – so asof hulle mekaar se metgeselle is.

Jare later het dié twee weer ’n funksie saam bygewoon.

Badenhorst sê as sy weer matriekafskeid kon hou, sou sy Labuschagne wéér vra.

“Hy was so ’n lekker date. Hy het my voor die tyd geleer dans,” sê sy.

Sy het hom spesiaal van George af laat kom vir dié geleentheid wat op 20 September by die Voortrekkermonument in Pretoria gehou is.

Labuschagne werk volgens Badenhorst as ’n persoonlike instrukteur by ’n gesondheidsklub in George.

“Hy het tuisonderrig ontvang, so ek het altyd vir hom gesê hy kan eendag saam met my na my matriekafskeid gaan,” sê Badenhorst.

Andrée Badenhorst en haar neef, Leon Labuschagne, was jare gelede al mekaar se “metgeselle” by ’n troue. Foto: Verskaf
Andrée Badenhorst en haar neef, Leon Labuschagne, by Badenhorst se matriekafskeid vanjaar. Foto: Verskaf

Sy dink sy was so vier jaar oud toe sy en Labuschagne die blommemeisie en hofknapie by ’n familielid se troue was.

“Ek het vir my tannie (Lisa Bekker) gesê sy mag nie trou as ek nie ook ’n trourok aan het nie.”

Dis hoe dit gekom het dat dié klein meisie en haar nefie deel geword van die trouverrigtinge, sê sy.

Sy in ’n deftige wit rokkie en hy ewe sjarmant in sy pak met ’n strikdas.

Hulle is na al die jare steeds baie ná aan mekaar, al woon hy in George, sê Badenhorst.

Hoewel die rokke van toeka en nou albei ligte skakerings is, was dit nie haar plan om dieselfde tipe rok as jare gelede te dra nie.

“Ek was nie seker waarvoor ek soek nie, maar toe ek in die winkel instap, het ek van daardie rok gehou.”

Die neef en niggie wou wel jare gelede se foto oormaak.

“Maar ek is nou baie langer (in verhouding met Labuschagne) as toe!” skerts sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.