Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
In die werkplek:
Die beste? Voorbereid en eerlik
Om werk te soek en vind is harde werk. Terésa Coetzee vind uit wat’s die deurslaggewende faktore wat die proses makliker kan maak.

Dis belangrik om uit te staan bo die ander in ’n werkonderhoud.

Werk, veral goeie werk, is skaars. Om ’n suksesvolle werkaansoek te bemeester, verg soms spesiale vernuf van die werkgewer én aansoeker. Daar is maniere om jou aansoek ’n voorsprong te gee en te laat uitstaan.

Merke, gereed, CV!
Jou CV is die wegspringblok van ’n waarskynlik lang marathon van werk soek en daarom is dit belangrik dat dit ’n goeie indruk maak. Dis die moeite werd om ’n goeie CV op te stel, selfs al moet jy geld uitgee om dit professioneel te laat doen of te laat proeflees. Moet nooit jok oor jou kwalifikasies of werkervaring nie, maak seker die nommers en e-posadresse van jou verwysings is korrek en skryf ’n kort dekbrief waarin jy jou aansoek motiveer. Moenie spoeg en plak van vorige briewe nie, dis hier waar die drukkersduiwel gewoonlik op sy hardste werk!

Die onderhoud
Andrew Woodburn is die besturende direkteur van Amrop Woodburn Mann, ’n maatskappy wat spesialiseer in die vul van hoëprofielberoepe soos direkteure en uitvoerende bestuurders. Volgens hom is die vermoë om ’n suksesvolle werkonderhoud te bemeester ’n belangrike lewensvaardigheid wat jy kan inoefen.

“Die omgewing waarin ’n werkonderhoud plaasvind is gewoonlik taamlik intimiderend. Bemagtig jouself vooraf met kennis oor die werk waarvoor jy aansoek doen, die maatskappy en sy kultuur. Jy moet weet hoekom is jy hier en hoekom is jy die regte persoon. Onthou, julle is waarskynlik ’n hele klomp mense wat aansoek doen en jy gaan moet uitstaan. Jou sprankelende persoonlikheid alleen gaan nie die deurslag gee nie,” sê Andrew.

Dikwels kom vrae op waarvoor daar eenvoudig nie regte of verkeerde antwoorde is nie, maar werkgewers vra dit om te sien of jy op jou voete kan dink en hoe jou kop werk.

Doen jou huiswerk oor die maatskappy en vind uit met wie jy die onderhoud doen, want jou aanslag gaan verskil as dit die eienaar, bestuurder of die personeelbeampte is. Luister na die vrae wat aan jou gevra word en wees versigtig om nie te langdradig te antwoord nie. Werkgewers soek gewoonlik iemand met die vermoë om hulself duidelik uit te druk.

“Die jonger generasie werksoekers is dikwels oorlaai met selfvertroue wat ’n goeie ding is, maar te veel selfvertroue is ook nie altyd die beste nie. Moenie parmantig en beterweterig wees nie en moenie jok as daar sekere vaardighede is wat jy nie het nie. Wanneer daar oor jou ondervinding gepraat word, kan jy eerder sê jy kan vier uit die vyf vereistes wel doen, maar wees eerlik oor jou tekortkominge,” sê Andrew.

Oefen sekere vrae voor die spieël of selfs op jou selfoonkamera om te kyk hoe jy oorkom om gemaklik met jouself te raak. “Die sleutelfaktore is eerlikheid, spontaneïteit en individualiteit,” sê hy.

Dinge kan maklik verkeerd loop en mens weet gewoonlik as dit gebeur. Dis hier waar dit belangrik is om selfkennis en -beheersing toe te pas. Moenie net die handdoek ingooi nie. Haal diep asem, en gaan terug na die vraag toe.

As jy aansoek vir ’n bevordering doen en meeding met jou kollegas vir dieselfde pos, moet jy versigtig wees om hulle nie af te kraak of te verkleineer om jou eie posisie te verbeter nie. Dis nie verkeerd om vergelykings te tref en jou sterk punte uit te wys nie, maar pak dit versigtig aan.

Onderhoudvoerders sluit dikwels die onderhoud af deur te vra of jy enige vrae het. Vra vrae oor die maatskappy self of oor geleenthede vir groei.

’n Jas wat netjies pas

“Ek trek altyd op my heel beste aan as ek vir onderhoude gaan, toeknoophemp, das en selfs ’n netjiese baadjie. Dis my manier om vir die werkgewer te wys ek neem die onderhoud ernstig op en dat ek regtig die werk wil hê. Ek dink dit stel jou reeds in ’n goeie lig en wys respek,” sê John Kettlewell, besturende direkteur by Respublica.

Psigometriese toetse

Dis gewoonlik die laaste fase en dié toetse is baie wetenskaplik uitgewerk. Dit word vinnig opgemerk as jy die toets probeer fnuik. Wees eerlik en konsekwent in jou antwoorde.

Volgens careerplanet.co.za is daar vrae wat gewoonlik in werkonderhoude gevra word. Hulle gee raad vir antwoorde:

1. Vertel meer oor jouself. Beskryf jouself in '’n werksituasie. Praat oor jou opleiding, vermoëns, prestasies en vorige werksondervinding en hoe dit jou in jou nuwe werk gaan help.

2. Watter vaardighede het jy nodig om hierdie werk te kan doen? Maak ’n lysie van jou vaardighede wat jou bo die ander aansoekers begunstig.

3. Wat is jou swakste eienskappe? Fokus op jou werk en nie jou karakter nie. Probeer om die negatiewe eerder positief te stel: “Ek is soms te streng met myself en baie mededingend.”

4. Wat is jou sterkste eienskappe? Hier is jou kans om te wys waarom jy die geskikste kandidaat is.

5. Hoe hanteer jy konflik by die werk? Noem byvoorbeeld dat jy ’n goeie kommunikeerder is, probleme oplos voor dit hand uitruk en foute kan erken.

6. Hoe jy jou tyd bestuur. Sê jy kan onderskei tussen take wat baie dringend is en nie so dringend nie.

7. Vertel van jou huidige werk. Moet nóóit iets negatief oor ’n vorige of huidige werkgewer sê nie. Vertel liewer wat jy by die maatskappy geleer het en hoe dit jou loopbaan bevorder het.

8. Wat is jou kort- en langtermyndoelwitte?Volgens Career Planet soek maatskappye werknemers wat beplan om by hulle te bly. Jou antwoord moet dit weerspieël. Op kort termyn wil jy dalk daaraan werk om ’n kenner op jou gebied en selfs die beste in die maatskappy te word. Op lang termyn wil jy moontlik groter verantwoordelikhede aanvaar of selfs ’n leiersposisie in die maatskappy beklee.

9. Werk jy beter op jou eie of in ’n span? Dit word gewoonlik van jou verwag om sowel op jou eie as in '’n span saam te werk. Noem dat jy goed in ’n span werk, maar dat jy ook in staat is om onafhanklik te werk. 10. Wat motiveer jou om hard te werk? Sommige mense werk hard omdat hulle '’n verskil in die wêreld wil maak en ander werk hard vir ’n goeie salaris aan die einde van die maand. Dink na oor jou motivering.

11. Wat is jou salarisverwagting? As jy reeds weet wat die salaris is wat aangebied word, hou daarby. Moenie jok oor jou huidige salaris nie.
Meer oor:  Werkaansoek  |  Werk  |  Deurslaggewende Faktore  |  Soek  |  Proses
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.