Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Die hardebaard-boekklub

Jy’t al gehoor van boek-, laslappie- en kookklubs.Maar in Kaapstad is daar ’n whiskyklub met 23 manslede wat stadig maar seker 101 verskillende whiskies proe. Ilse Zietsman was vir een byeenkoms ’n erelid.

Lede van die Traaiers-whiskyklub aan’t whisky proe. Foto’s: Ilse Zietsman

Boekklubs is ou nuus. Jammer om te sê, maar dis in elk geval meer van ’n vroueding. Op die aande wat San Alleman met haar vriendinne oor boeke – en lewensfilosofieë en hul mans – gesels, is Jan Alleman waarskynlik alleen voor die televisie by die huis.

Toe iemand – ek sal maar die naam weerhou – om ons etenstafel vertel dat ’n groep bekende skrywers en joernaliste – en ander skarminkels – al jare lank as die “Vroueboekklub vir Mans” bymekaarkom, het dit my aan die dink gesit.

Vanaand is daar vyf nuwe whiskies om te proe.

Hoe meer ek daaroor gedink het, hoe meer het ek besef Suid-Afrikaanse Adams kort nie redes om bymekaar te kom nie, soms net motivering. Ons praat nou nie van sport- of dooddrinkklubs nie; daarvan is daar genoeg.

Toe tree sinchronisiteit na vore. ’n Jarelange vriend, Werner Kluyts, noem toevallig dat hy en 22 ander Adams amper twee jaar gelede die Traaiers-whisk(e)yklub begin het. Hy was nog altyd lief vir whisky, maar “ek het nie genoeg pelle gehad wat dit saam met my wou drink nie”, vertel hy. Toe Thea-Rita, sy vrou, vir hom ’n boek getiteld 101 Whiskies to Try Before You Die deur Ian Buxton present gee, is die idee van die whiskyklub gebore.

Werner Kluyts se vrou, Thea-Rita, dek elke keer die tafel keurig en maak haarself dan vrywillig uit die voete.
Die manne van die Traaiers-whisk(e)yklub proe en kuier. foto’s: Ilse Zietsman

Aanvanklik was daar 15 klublede, maar geleidelik het daar ’n paar bygekom. Die Traaiers (hul naam is ontleen aan die titel van hul “whiskyhandboek”) kom een keer per kwartaal bymekaar. Dan proe hulle vier of vyf whiskies – verkieslik verskillende style – wat Buxton aanbeveel.

“Op hierdie manier proe ons almal whiskies wat ons nooit self sou koop of miskien nie eens sou oorweeg nie; ons leer ook dat nie alle whiskies van dieselfde tipe noodwendig dieselfde proe nie. Ons leer ook van mekaar en probeer om iets nuuts te leer oor die maak van whisky. Wat lekker is van Buxton se boek, is dat die whiskies nie noodwendig die beste en duurste is nie, maar daar is goeie rede vir elkeen se teenwoordigheid. Party is uiters lekker, ander het ’n mooi storie en ander weer ’n belangrike geskiedenis. Die whiskies word by elke geleentheid weer afgestof vir die manne wat vorige “vergaderings” gemis het en ons gaan gereeld terug na van die ou whiskies ter verwysing/vergelyking,” verduidelik Werner, die “voorsitter”. Hy voeg by: “Ek is ’n emosionele drinker – ek hou van ’n whisky met ’n stórie.”

Tot op hede het die Traaiers al sowat 60 whiskies geproe; die lande, benewens natuurlik Ierland en Skotland, sluit in Japan, Finland, Amerika, Taiwan, Swede, Kanada, Australië, Nederland en Indië.

As die Jameson-whiskylamp aangeskakel word, is dit tyd vir die Traaiers-whiskydrinkers om te begin opdaag.

Werner nooi my om vir een byeenkoms ’n erelid te wees. Gou leer ek: Net soos wat die Traaiers se beroepe (’n dokter of drie, ’n prokureur, ’n elektriese ingenieur, ’n paar IT-foendi’s en iemand wat kraantjies vir wynbokse vervaardig) verskil, verskil hul smaak in whiskies. So ook die voorspellings as hulle sien wat te proe is.

“Jirre, daai een gaan sleg wees!” gril ’n ou byvoorbaat. Ná ’n slukkie van ’n Skotse whisky is die proenota van ’n ander “die ene moerasgras”.

“Nou is my tong dood ná hierdie sluk,” kla ’n whiskytraaier speels.

Dis egter die uitsondering dat ’n whisky nie redelike algemene byval vind nie.

“Enigiemand oorgeslaan met die nagmaal?” maak die skinker vir die ronde seker. Net een drinker het sy notas oor die aand se keuse wat vooraf gestuur word, saamgebring. Jy kan proe vir pret of jou indrukke getrou neerskryf.

As veral die Skotse name nie uitgespreek kan word nie, kry die bottel ’n bynaam. So ook as die meerderheid van die Traaiers besluit ’n whisky se smaak geval hulle nie. Die “Aardvark” was die slegste whisky waarmee hulle nog lippe natgemaak het. As ’n nuwe lid aansluit, is dit sy ontgroeningsdop.

Op die aand wat hulle my goedgunstiglik toelaat om die klub by te woon (geen vroue word gewoonlik by hierdie “vergaderings” toegelaat nie), ontstaan ’n gemoedelike stryery of een van die whiskies op die lys selfs ’n een uit tien werd is. Dis weliswaar die eerste keer wat dit gebeur.

Toe ek my vroeg genoeg uit die voete maak, hoor ek met die uitstap: “In die ou dae sou ons dalk seëls versamel het!”

En: “Ons hoor daar is ’n breiklub in ’n voorstad hier naby, maar daai manne suip baie.”

“Gesondheid!” groet ek.

Om te weet

Die verskil tussen whisky en whiskey: Die Skotte spel hulle s’n whisky en die Iere whiskey. Whiskey wat in Amerika gemaak word, het ook ’n “e”.

Bestel aanlyn: 101 Whiskies to Try Before You Die deur Ian Buxton

Hou asem op in afwagting: De Vry Distilleerdery (www.devrydistillery.co.za) naby Sasolburg in die Vrystaat is in die proses om ’n enkelmout-sorghumwhisky, met hul eie graan wat hulle vermout, hier op eie bodem te maak.

Begin jou eie klub
  • Besluit op ’n tema wat jou en dié wat jy nooi, sal interesseer.

As jy lief is vir kook: Kosliefhebbers – of diegene wat behendiger in die kombuis wil raak – kan kosdemonstrasies bywoon. Alternatiewelik kan smulpape hul eie charcuterie soos salami’s, parmaham of bier maak. In die Kaap is ’n paar skaapkopgildes wat gereeld saam eet; in die Paarl maak die boereworsgilde hul eie wors, gewoonlik ná ’n jagtog.

As jy nootvas is: Stig jou eie musiekgroep of sluit by een aan. Dís hoe van die lede van The Van Der Mentals bymekaargekom en begin optree het. Jy kan hulle al op Facebook bespreek.

As jy jou kennis wil verbreed: Stig ’n “boeklose boekklub” (om ’n term by ’n Bredasdorpse vroueboekklub te leen) wat elke keer ’n spreker kry wat oor ’n nuwe onderwerp praat: dink aan geskiedenis, motors, sporthelde en voëlkyk. Leer vaardighede soos houtwerk, sweis of basiese motormeganika aan.

Nodig om af te skakel en net te ontspan: Speel poker of ander kaartspel.

  • Maak die datums vir die res van die jaar aan die begin van die jaar vas.
  • Volg die Plus1-beginsel. So leer almal nuwe mense ken wat ná afloop van een bywoning kan besluit of hulle wil aansluit al dan nie.
  • Doen moeite. Betrek jou vrou indien moontlik vir voorbereiding.

  • Meer oor:  Kaapstad  |  Manslede  |  Whiskyklub  |  101 Verskillende  |  Whisky  |  Whiskey
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.