Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Die Karoo met ekstra skop

As jy al ooit gesoek het na ’n plant wat so veeldoelig is soos MacGyver se knipmes, dan sou jou soektog jou waarskynlik by die Agave americana laat eindig het; daardie stekelrige blou-groen langblaar-ding wat jy reg oor die hele Oos-Kaapse Karoo sien groei. Dit kan jou voed en gesond maak, dit het ’n strelende en kalmerende effek, en dit kan beslis ook verander aan jou gemoed. Julienne du Toit het meer gaan uitvind oor hierdie merkwaardige plant en Chris Marais het die foto’s geneem.

Julienne (middel) gesels met Liza en Tim Murray oor die baie verskillende gebruike van dié plant wat uit Sentraal-Amerika kom.

Deesdae kan jy feitlik enigiets denkbaar op ’n Karooplaas vind. Van swart springbokkies tot goue wildebeeste, swartwitpense tot ’n mak volstruis op ’n stoep, of selfs ’n meerkatgesin wat rustig sit en wag vir hulle dop op die rand van ’n plaasdam.

Met die afdraaislag na die plaas Roode Bloem naby Graaff-Reinet is die trop waterbuffels wat gemaklik op die plaaswerf rondloop beslis ’n onbekende gesig. Maar dan moet ’n mens seker ook onthou dat dié Tim Murray se plaas is, en dat jy altyd iets anders van hom moet verwag. Hy is sonder twyfel ’n man wat nie binne die perke van enige “normaal” boer nie.

Dit is veral die geval met Tim se lang verhouding met daardie enorme stekelrige blou-groen plante. Eintlik lyk dié plante ongehoord hier; veral wanneer dit Kerstyd is en die plante blom met lang “pale” wat kompleet soos ’n Kersboompie lyk. Dit wil behoorlik voorkom asof dié plant soos ’n verdwaalde Mariachi-orkes al die pad van Mexiko hier in Afrika aangeland het en toe besluit het dit is fiëstatyd.

Die verhaal van hoe dié plant, die Agave americana wat inheems is aan Sentraal-Amerika, hier aan die onderpunt van Afrika aangeland het, het ’n kinkel of twee.

’n Vindingryke Karoodogter

Een van die stories wat plaaslik hieroor vertel word, is dat ’n jong Rubidge-dogter van die agawe (wat hier rond bekend staan as ’n garingboom) by die Groot Visriviermond op die strand sien lê het. Die plante het waarskynlik deel gevorm van ’n Suid-Amerikaanse skip se kiel. Dit is onduidelik wat presies met die betrokke skip gebeur het en of sy vaart dalk rampspoedig kortgeknip is aan die Oos-Kaapse kus.

Die wit gebou van Agawe Distilleerders staan steeds soos ’n baken naby die pad net buite Graaff-Reinet, maar deesdae dien dit net as ’n stoor.

Dalk was dit die jonge Me. Rubidge se ondernemingsgees wat haar laat oplet het hoe ’n paar bokke daar naby gestaan en kou het aan die plante se blare, en wat haar drie van die jong plantjies laat gryp het. Sy het dit in haar sak gedruk en dit saamgeneem na haar ouers se plaas, Bloemhof, wat net ’n kort entjie daarvandaan was.

As jy ’n bietjie tyd in hierdie klein Sneeuberg-gebied tussen Nieu-Bethesda en Graaff-Reinet deurbring, sal jy gou ontdek hier woon baie Murrays, Rubidges en Southeys. Dat dit drie van die grootste pioniersgesinne van die omgewing was, wat veral naam gemaak het met skaapboerdery, is dus geen verrassing nie. Hulle was ook bekend daarvoor dat hulle so taai was soos ratels, met onblusbare ondernemingsgees en ongekende vindingrykheid. Hierdie klomp het nie van die stoep af opdragte uitgeskreeu vir enige plaaswerkers nie – hulle het sélf hul vee oor die berge gejaag om dit in verre dorpies soos Bedford te gaan verkoop.

Hulle was ook slim genoeg om sommer vroeg-vroeg te besef hoe handig hierdie “nuwe” plante wat op die strand uitgespoel het, kan wees. Die plante is byvoorbeeld gebruik om erosie op kontoerlyne van die grond teen te werk. Hul stamme het ook goeie pale vir omheinings gemaak. Toe die Murrays besluit om volstruisboerdery op die proef te stel, het hulle ontdek dat opgekapte agave-blare dié voëls gesond hou en hul vere laat blink.

Boere se ‘garingboom-skorsie’

In die 1950’s was daar ’n skielike oplewing in die wolbedryf en die Grootfontein Landboukollege het ’n studie gedoen om te kyk presies hoe bruikbaar die plant as veevoer in droogtetye kan wees. Die destydse regering het Karoo-boere, aan die hand van dié studie, beveel om garingbome op ’n deel van hulle plase te plant. Die boere is voorsien van genoeg plante vir ’n 2 km-grenslyn. Die koste hiervoor sou teoreties aansienlik minder wees as om op ’n gereelde grondslag droogtekompensasie aan boere uit te betaal (dit is nou in die “goeie ou dae”, toe daar wel nog landbousubsidies beskikbaar was).

Hy’t skop! Tim Murray spog met ’n bottel Three Agaves, gebrou van die garingboom se blare.

Die spaarsamige boere van die omgewing het vinnig uitgevind dat hulle hul plase om drie kante kon omhein met die plante, in die proses baie kon spaar op gewone omheining, en tegelykertyd die hoeveelheid plante kon aanplant wat die regering voorskryf.

“Die boere het op die ou einde hiervan begin praat as hulle ‘garingboom-skorsie’. Soos al die ander boere, het Roode Bloem ook so ’n skorsie gehad,” vertel Tim.

Die plant het Tim self ook begin fassineer. Die heel gepaste Afrikaanse naam daarvoor is juis as gevolg van die lang, sterk garingagtige vesels in die plant se blare. Tim verduidelik daardie vesels “het die potensiaal om te dien as kos, veevoer en biobrandstof. Rondom die blare is daar ook ’n wasagtige lagie wat verwerk kan word tot ’n bio-afbreekbare alternatief vir verpakkingsmateriaal.”

Weens sy belangstelling in die plant, het Tim verder navorsing gedoen en vinnig besef presies hoe kosbaar die agawe eintlik maar nog altyd was. Die gebruik daarvan in die Maya en Asteek se kulture was egter die deurslaggewendste. Hierdie wyse ou kultuurgroepe het allerhande goed met die plante gebou, maar hulle het dit ook as skoonheidsmiddels gebruik, musiekinstrumente daaruit gekerf, die botsels daarvan gediepbraai en geëet, en ja, dit is ook gebruik as die basis van ’n welbekende en heel berugte sterk drank.

Selfs hier in die Karoo het dit toe ook so gebeur dat die agawe se geskiedenis gelei het tot die helder en vurige trippel-gedistilleerde konkoksie wat bekend is vir sy baie harde skop.

Voordat Agawe Distilleerders in 2008 toegemaak het, was die tequila wat buite Graaff-Reinet gemaak is baie populêr.

In die laat 1990’s het Gawie Venter besef dat die plante, wat toe al redelik algemeen in die Karoo gegroei het, deel is van ’n baie kleiner lid van die Agave-plantfamilie wat in Mexiko gebruik word om tequila mee te maak.

Hy het beleggers vir sy plan gekry en ’n opvallende enorme wit gebou net daar, ’n kort entjie suid van Roode Bloem en in die middel van die garingboomvlaktes, opgerig vir die distilleerdery.

Tim Murray was natuurlik van die begin af een van die boere wat Gawie en die nuwe Agawe Distilleerders voorsien het van die reuseplante, wat vandag nog in netjiese rye op Tim se plaas geplant is. Dit was vir vyf jaar lank ’n ongewone maar baie winsgewende gewas.

Ek en Chris het in 2008, toe ons nog nuut in die Karoo was, ’n draai gemaak by Agawe Distilleerders, en ons kan nog goed onthou hoe opgewonde ons was oor die teenwoordigheid van ’n fabriek vir so ’n eksotiese drankie hier op ons voorstoep. Daardie tyd het die distilleerders al meer as 400 liter van hulle sterk Karoo-drank aan ’n Australiese maatskappy verkoop, wat dit op hulle beurt met bier gemeng en as ’n mengeldrankie in die Outback verkoop het.

Daar was ’n hele klomp uitvoermoontlikhede wat saam met die nuwe smaak van hierdie “drankie met skop uit die Karoo” vir Suid-Afrika gewink het.

Ongelukkig het Agawe Distilleerders se fortuin uiteindelik opgeëindig in ’n boedel. Toe die maatskappy sy deure finaal gesluit het, het Tim en vroulief Liza na ander maniere begin soek om die plant, wat toe steeds half wild op hulle plaas gegroei het, te gebruik.

’n Ongewone verskynsel vir enige Karoo-plaas: mak waterbuffels wat kom groet!

Agave-piekels by jou skeutjie

’n Grootskaalse eksperimentasie het begin en die plaaskombuis op Roode Bloem het ontaard in ’n amperse sentrale toetssentrum. Tim se ma, Bebe Murray, is ook by die nuwe eksperimentele projek betrek en saam het hulle ’n heerlike dillepiekel-resep vir die agave-botsels ontwikkel.

Die familie produseer tans in die omgewing van 100 kratte vol van agave-piekel in ’n enkele jaar, en dit verkoop vinniger as soetkoek by die plaaslike winkels en markte.

Kort voor lank het die Murrays besluit dat hulle nie by piekels gaan stop nie, en het hulle inisiatiewe uitgebrei na die medisinale en kosmetiese velde. Tim en ’n paar van sy vennote het in 2016 ’n anti-jeukmiddel geskep wat van die agawe se blare gemaak word. Hulle het vanjaar ’n hele paar nuwe produkte by die reeks gevoeg: deodorant, voetsproei, die reeds bekende Pyn Verdwyn-masseerolie wat nou ook met kannabis gemeng word, asook ’n anti-jeuksproei en ’n insek-weermiddel (beide vir troeteldiere).

Die alkohol wat uit die plant gemaak is, het egter vlak in die Suid-Afrikaners se koppe gebly. Daardie helder, sterk witblits wat van dié reusagtige plant gemaak word, was die rede waarom die klein plaaslike brouerye en distilleerders wat oral begin opskiet het Tim nie in vrede gelaat het nie.

Wat ’n heerlike ingelegde lekkerny – botsels van die agawe-plant wat so welig in die Karoo groei.
Afgekapte agawe-piñas voordat hulle tot drank verwerk word. Elkeen weeg tussen 80 en 150 kg.
Liza en Tim Murray staan tussen die reusagtige en veelsydige plante met die lang blou-groen blare.
Die binnekant van die ou Agawe Distilleerders se gebou toe hulle nog in produksie was.
Dis my werf! Tim se lenige foksterriër, Molly, klouter die piñas sonder veel moeite uit.

Hy het uiteindelik toegegee en ’n vennootskap gesluit met Northside Distilleries naby Ventersdorp. Die eerste bottels van Three Agaves-drank is in Desember 2018 by Our Yard en Maria’s Roastery op Graaff-Reinet verkoop.

Ná ’n dekade word die agawe-plant weer vir distillasie gebruik en ’n hoëgehaltedrank het weer die lig gesien – een wat heerlik is om op sy eie af te sluk of wat as ’n mengeldrankie saam met sodawater of tonikum geniet kan word – of wat omgetower kan word in ’n mojito of margarita met ’n egte Karoo-flair.

Three Agaves word gemaak van die plante wat Tim self pluk; tien ton daarvan op ’n slag; en daar is beperkte produksie en verspreiding daarvan op en om Graaff-Reinet.

“Ek was verbaas toe ek besef dat ek wrintiewaar die verskil kon proe tussen die alkohol wat met die agawe-plante gemaak word wat naby die soetdoringbome in die rooi sanderige grond groei, en dié wat in kalsium-ryke kleigrond groei. Die omgewing waar die plant groei, maak beslis ’n groot verskil in die smaak van die drank.”

Ek was verbaas toe ek besef dat ek wrintiewaar die verskil kon proe tussen die alkohol wat met die agawe-plante gemaak word wat naby die soetdoringbome in die rooi sanderige grond groei, en dié wat in kalsium-ryke kleigrond groei.

Deesdae maak Tim nie net sy eie handelsmerk van agawe-drank op kleinskaal nie, maar hy voorsien ook vir Adi Badenhorst op Malmesbury van die piñas (blaarstingels) vir sy agawemeskal, The Fourth Rabbit, en vir Sarah Kennan wat al bekend is vir haar Leonista.

Wanneer dit tyd is om te groet op Roode Bloem, kan ons nie anders om vir Tim net een laaste vraag te stel wat ons nou al heeltyd kwel nie: wat is die storie met die waterbuffels?

“Dit is my volgende projekkie.” Hy lag te lekker voordat hy verder praat. “Buffelsmelkkaas!”

Só ’n kaas, hoewel vreemd, sal sekerlik heerlik afgaan saam met ’n stukkie van die agawe-piekels en ’n skeutjie Three Agaves. Die perfekte afsluiting vir ’n warm dag in die mooie Karoo!

As die dors roep . . .

  • Die beste plek om jou hande op ’n bottel Three Agaves te kry, is by Our Yard in Somersetstraat, Graaff-Reinet. 
  • Die velsorgprodukte is beskikbaar by die Farm Fare Tuisnywerheid en nog ’n paar ander plekke. 
  • Jy kan met die Murrays in verbinding tree per e-pos op rbd@intekom.co.za of volg die skakels op www.threeagaves.karooheart.co.za.
Meer oor:  Karoo  |  Oos-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.