Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Die Kruger se ander skatte

Die Krugerwildtuin is ’n goudmyn van diere, voëls, insekte en natuurwonders. Maar daar is ook baie geskiedkundige juwele om te ‘delf’, skryf Sam J. Basch.

Die museumhut met sy ou petrolpomp in die Skukuza-ruskamp. Die gaping tussen die muur en dak is intussen toegestop, maar net-net sigbaar. Foto’s: Sam J. Basch

Amper elke besoeker aan die Nasionale Krugerwildtuin bestudeer die besigtigingsborde by elke ruskamp, hek en piekniekplek met groot belangstelling. Jy móét net weet waar leeus, luiperds, buffels, wildehonde, jagluiperds en olifante gister en vandag gesien is. (Renosters word nie meer uitgewys nie – omrede stropery.)

Maar die Groot Vyf is tog nie ál waaroor die wildtuin gaan nie. Daar’s immers ook die Klein Vyf. Die Skaam Vyf. En die Lelike Vyf . . . En voëlkyk. Ouens met duur verkykers dra soms nie eens ’n voëlgids nie. Hulle ken sommer elke gevleuelde by die naam – selfs daardie onuitspreekbare wetenskaplike benamings – én sy roep.

Amper elke besoeker se wildtuin lyk anders.

Toenemend gewild is die staptogte in die bos tussen wilde diere, vergesel van ’n gids met ’n groot geweer. Dís mos Afrika!

Vir ander is daar die luukse van ’n vyfster-lodge. En wildritte saans in ’n oop voertuig met skemerkelkies by ’n watergat as die son water trek.

In die ruskamp waar die hekke vir die nag reeds gesluit is, begin braaivleisvure flikker tussen die tente, woonwaens en 4x4’s van geharde wildtuingangers. Oranje-, rooi- en skadukwashale verf die bos terwyl die donkerte toeneem, ’n onbesoedelde gewelf met die Melkweg ’n waas van blink sterre.

In die nag hoor jy die veraf “Umf-umf” van ’n leeu, of die snork van ’n rooibokram. Teen jou hut se muur skarrel geitjies en maak hulle jag op insekte gelok deur die lig, die donker buite gevul met die getjirp van onnoembaar baie vreemde goggas.

Met sonsopkoms, ná kondensmelkkoffie en beskuit, en genoeg padkos, die verkyker, gidsboeke en ’n kamera byderhand, volg jy die streep voertuie kamp uit – om die Kruger se rykdom te geniet.

Dis die romantiek, die plesier, die opwinding . . .

Vroeër jare se Wildtuin-besoek: Pa se kar in die Pretoriuskop-ruskamp.
Oorblyfsels van die Portugees-gebore João Albasini se handelspos by die Phabeni-hek. Hy het dit in 1845 gebou op grond verkry van Hoofman Magashula. Foto:

Amper g’n wildtuin

Volgens die amptelike geskiedenis is die Nasionale Krugerwildtuin in 1926 geproklameer. Vantevore was daar twee afsonderlike reservate, Sabie en Shingwedzi, wat toe saamgevoeg is in ’n nasionale park.

Maar van die boere was omgekrap. Die geskiedenis wys die Volksraad van President Paul Kruger se Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) het taamlik langtand aan die idee van ’n “wildskraal of reservaat” gebyt en die Sabie-wildreservaat is uiteindelik eers in 1898, net vóór die Anglo-Boereoorlog, goedgekeur – met een stem.

Dinge het eers behoorlik op dreef gekom toe die Skots-gebore James Stevenson-Ham­ilton as wildbewaarder aangestel is. Hy’t as Britse offisier in die oorlog hierheen gekom en gekies om in die land aan te bly – en wat ’n verskil het hy gemaak!

G’n wonder sy bynaam was “Skukuza” nie: “Hy wat skoonvee”. Hy moes die inheemse bevolking, boere, ivoorjagters en smokkelaars uit die Sabie-reservaat boender.

Ongelooflik om te dink: Laeveldboere se klagtes in daardie beginjare dat leeus, luiperds en wildehonde uit die Sabie-reservaat hul vee vang, het die reservaat se veldwagters ywerig aangespoor om dié roofdiere voor die voet dood te skiet. Kolonel Stevenson-Hamilton het toe besef sy plig was om die hele ekostelsel te bewaar; plante, diere, álles.

Die oudste hut in die Pretoriuskop-ruskamp, gebou in 1930, is na die beroemde wildbewaarder Harry Wolhuter vernoem.
Die binnekant van die W.A.C. Campbell-museumhut in Skukuza. Sien die loergaatjie in die deur om te sien of jy dit veilig na buite kan waag.Foto:

Die ou dae in tente

In die vroeë tye het besoekers buite in die opelug kos gemaak en in tente tuisgegaan. Mettertyd het die destydse Parkeraad ron­dawelhutte gebou.

Gaan kyk in die Skukuza-ruskamp, sowat 200 m regs van die winkel staan die W.A.-Campbell-museumhut by ’n outydse petrolpomp. Die hut lyk min of meer soos die oorspronklike Selby-rondawels van 1929. Toentertyd was dit sonder vensters met ’n opening vir ventilasie rondom die muur onder die dak. Dink hoe koud die hut in die winter was – om nie te praat van muskiete in die somer nie! En die nagrus op die riempiebeddens was sekerlik ongemaklik.

Erger nog, voordat jy dit na buite waag, moes jy eers deur die opening in die deur loer om te sien of ’n gevaarlike gedierte nie dalk buite jou hut lê nie; daar was geen heinings nie.

Skukuza was toe nog Sabi Bridge genoem. Sodra jou motor hier met brandstof volgemaak is, kon jy die familie tot by die pont neem om die noordelike oewer te bereik vir jou reis verder boontoe in die wildtuin. Uiteraard bestaan die pont nie meer nie, maar langs ’n bankie met ’n uitsig oor die Sabierivier kan jy vandag nog die yslike staalring sien waaraan die pont se kabels destyds geanker was.

Terwyl jy in die Skukuza-ruskamp is, gaan kyk ook na die hondehelde-akker waar die name van geliefde dierevriende in klip gegraveer is.

As jy in die Shingwedzi-ruskamp oorslaap, kan jy ook gerus die hut waarin jy oornag, mooi bekyk, spesifiek dié met lae nommers in die A-sirkel. Nes die hutte in die Punda Maria-ruskamp is dit nog van die oorspronklikes, gebou rondom 1931. Let op die ysterhoutstutte waarop die grasdak rus. Daar was toentertyd al besef die hout van hierdie boom (Androstachys johnsonii) is teen boorkewers bestand.

Loer onder die oorhang in; selfs die ruwe balke is ooglopend handgekap en met rieme gebind.

Die museumhut met sy ou petrolpomp in die Skukuza-ruskamp. Die gaping tussen die muur en dak is intussen toegestop, maar net-net sigbaar. Foto’s: Sam J. Basch
In die Krugerwildtuin moet jy ook na die klein dierelewe soek, soos hierdie rooi naaldekoker (Trithemis arteriosa) op ’n rivieroewer.
Die wildtuin het meer as die Groot Vyf. Dié bloukop-koggelmander (Acanthocercus atricollis) is tuis in Onder-Sabie-ruskamp.Foto:

Die goud-ekspedisies

Vele van die geskiedkundige feite is egter nie só sigbaar nie; daarvoor moet jy delf en veral fyn oplet. ’n Handige gids is Ron Hopkins se Field Guide to the Historical Sites of Kruger National Park – ook in Afrikaans beskikbaar as Geskiedkundige terreine van die Kruger Nasionale Park – by die wildtuin se winkels beskikbaar. Kaartboeke dui ook hierdie besienswaardighede aan.

Om te “delf” is hier die toepaslike woord. Bo in die noorde van die park is die mynskag van Jan Gerber wat na goud op soek was. Op die S30-roete, die Salitjepad tussen Skukuza en Onder-Sabie, lê die grafte van onbekende prospekteerders – ook goudsoekers. Hulle was daar in die laat-1880’s se Laeveld-goudstormloop toe plekke soos Pelgrimsrus en Barberton tot stand gekom het.

Wat minder bekend is, is dat die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie reeds lank tevore ’n ekspedisie onder leiding van Francois de Cuiper uit Delagoabaai (die huidige Maputo) gestuur het om goud te soek.

In die bewaringskundige dr. Willem Punt se publikasie, Die Eerste Europeane in die Nasionale Krugerwildtuin, 1725, beskryf hy dit as die “avontuurlike tog na die fabelagtige goudland van Monomotapa.”

Punt se boek is op De Cuiper se handgeskrewe dagboek gegrond wat in die Nasionale Argief in Pretoria bewaar word.

Die ekspedisie is op 12 Julie 1725 naby die huidige Gomondwane-watergat langs die H4-2-roete tussen Krokodilbrug en Onder-Sabie deur krygers aangeval en moes na Fort Lijdsaamheid in Delagoabaai terugkeer.

Belangrik egter is dat De Cuiper se noukeurige aantekeninge, naas Louis Trichardt se dagboek, belangrike inligting bevat vir geoloë, etnoloë, entomoloë, plantkundiges en andere wat die ryk fauna en flora van die wildtuin bestudeer.

David Bristow skryf in sy onlangse boek Of Hominins, Hunter-Gatherers and Heroes dat die Krugerwildtuin 336 boomspesies bevat, meer as die Okavango-delta.

Om nie te praat van die wildtuin se groot aantal voëlspesies, insekte, reptiele en wat nog meer nie.

Onder die oorhang van die oorspronklike hutte in die Shingwedzi-ruskamp se dak sien jy nog die ruwe, handgekapte ysterhoutbalkeFoto:
Die wildtuin het meer as die Groot Vyf. Dié bloukop-koggelmander (Acanthocercus atricollis) is tuis in Onder-Sabie-ruskamp.Foto:

Die transportryers

’n Kleinood vir antropoloë is Thulamela, nou ’n erfenisterrein digby die Pafuri-kamp, waar ’n beskawing meer as 1 000 jaar gelede met Arabiere en Chinese handel gedryf het. Volgens Hopkins is bewyse gekry van menslike bewoning 1,5 miljoen jaar gelede.

In die suide sien jy bakens wat die 19de-eeuse roetes van die Voortrekkers en tran­s­portryers tussen Delagoabaai en Lydenburg deur die wildtuin uitwys. Dié is Jock van die Bosveld-wêreld.

Net binne die Phabeni-hek moet jy stilhou by João Albasini se handelspos – nou slegs ’n bouval, maar bekyk die uitstalling. Albasini is in Portugal gebore van ’n Italiaanse pa en Spaanse ma. Hy was groot vriende met die inheemse stamme en die Voortrekkers, veral Trichardt. Albasini en sy vrou, Gertina Petronella Janse van Rensburg, het nege kinders gehad.

Vernuwing

Deesdae geniet jy darem warm water in jou huisie. Dit was nie altyd so nie. In die 1930’s was die Parkeraad se standpunt dat warm water ’n “onnodige luukse” is.

’n Raadslid, Herbert Boshof Papenfus KC, het tóé al voorgestel dat gereelde vlugte tussen Johannesburg en die wildtuin ingestel word. Dit is afgekeur. Sy voorstel van ’n hotel by elke ruskamp is ook afgekeur. Tog is die imposante sandsteen-kloktoring in Skukuza ter ere van hom opgerig.

Vandag kan jou vlug wel ín die Krugerwildtuin land. Jy bly dalk in die nuwe weelderige Skukuza Safari Lodge met sy 128 kamers. Binnekort is daar ’n nóg geriefliker hotel-opsie beskikbaar vir gaste wat luuks wil kuier – die Kruger Shalati-treinhotel op die ou geskiedkundige Sabie-brug.

  • Besoek www.sanparks.org vir meer inligting oor verblyf en tariewe.
  • Bronne: Hopkins, Ron. 2014: Historical Sites of the Kruger National Park; Punt, WHJ. 1975: Die eerste Europeane in die Nasionale Krugerwildtuin 1725; Bristow, David. 2019: Of Hominins, Hunter-Gatherers and Heroes – Searching for 20 Amazing Places in South Africa; Frandsen, Joy. 2018: Nasionale Krugerwildtuin Kaart; Krugerhistory.com.
Meer oor:  Insekte  |  Diere  |  Besoek  |  Reis  |  Voëls
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.