Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Die kuns van handtekeninge jag van beroemdes leef voort
Grahame Thorne Foto: Getty

Die koronavirus knou ook handtekeningjagters by sportwedstryde. Dit herinner hom aan hoe hy handtekeninge van beroemdes bekom het, skryf Herman le Roux.

Joan Harrison
Mannetjies Roux

Die koronavirus het nie net die deelname van sportlui oor die hele wêreld heen gepootjie nie, maar ook die – soms lastige – handtekeningjagters se stokperdjie gekniehalter.

Veral daardie toeskouers wat by internasionale tennistoernooie die moeë spelers se pad na die kleedkamers met minute vertraag. Handtekeningboekies, brosjures, los velle papier, T-hemde en tennisballe word na die spelers uitgesteek om vinnig te teken.

By internasionale krieketwedstryde word die veldwerkers op die grens lastig geval en moet hulle uitreik na ’n hand met pen en papier wat oor die heining gehou word.

Elke handtekeningjagter het ’n interessante storie oor hoe hy of sy ’n besondere handtekening van ’n sportheld bekom het. As sportliefhebber van kleintyd af onthou ek ook hoe en waar ek my versameling ’n hupstoot gegee het.

So byvoorbeeld het ek in 1951 as hoërskoolseun ’n halfkroon in die hand gestop van ’n skoolmaat, Niklaas Janeke, om die Amerikaanse Olimpiese veldatleet, Fortune Gordien, se handtekening te kry. Janeke was die Vrystaatse tussenskoolse naelloopkampioen en hy het aan die dieselfde byeenkoms gaan deelneem waar dié wêreldrekordhouer in werpskyf ook opgetree het.

Johnny Ralph, die Suid-Afrikaanse swaargewigbokskampioen van Bloemfontein, was ’n verkoopverteenwoordiger en die skoolseuns het in Frankfort ure lank voor die Handelshuis vir hom gewag om sy handtekening te kry.

In Johannesburg het ek na ’n sportwinkel in Rissikstraat ge­stap om die handtekening te bekom van my ander boksheld, Laurie Stevens.

In Johannesburg het ek na ’n sportwinkel in Rissikstraat ge­stap om die handtekening te bekom van my ander boksheld, Laurie Stevens.

Ek kry steeds skaam omdat ek as tiener oortree het om die Springbok-swemmer, Joan Harrison (Olimpiese kampioen in 1951), se handtekening te kry. Ons was met vakansie in Durban en sy het daar aan ’n gala deelgeneem.

Tjol Lategan

Ek wou nie toegangsgeld betaal nie en het oor ’n heining geklouter om my kans af te wag om met boekie en pen Harrison te nader.

By ’n krieketwedstryd op Kingsmead het ek ’n forse oud-Springbok in sy groen baadjie gesien en sy handtekening gevra. Hy teken toe “E. Shum, 1912-13”. Ernest (Baby) Shum was ’n voorspeler in Billy Millar se toerspan in Brittanje en Frank­ryk.

Baie sporthelde se handtekening is gesog en die storie is waar dat die voormalige staatspresident John Vorster by ’n gholfbaan versoek is om twee keer te teken, want dit kan vir een van Mannetjies Roux geruil word!

Die All Black-senter Grahame Thorne het in 1970 die handtekening van dr. Chris Barnard in Kaapstad bekom en hy bewaar dit soos goud.

Soos baie tieners het ek ook briewe aan sporthelde geskryf om hul handtekeninge kry. Die legendariese Boy Louw het sy naam vyf keer geteken en geskryf: “Ek hoop dit is genoeg.” Dalk het hy ook gedink dit help my om ander handtekeninge te “koop”.

Interessante menings vind ek in die briewe van ander sporthelde. So byvoorbeeld skryf Amos du Plooy, stut en kaptein van die Oostelike Provinsie, in 1954, ’n jaar voordat hy in 1955 sy verdiende Springbok-kleure verwerf het: “Ek sal met die begeerte om ’n groen baadjie te mag dra, oud word. Ek het darem deur middel van rugby goeie vriende gemaak en die wete dat die wêreld se bestes meer in hul pasoppens is vir my as ek vir hulle, bring ’n innerlike genoegdoening, al dan nie volkome bevrediging nie.”

In my briefie aan Anton Stegmann, Springbok-vleuel van 1906, om sy handtekening te bekom, het ek hom gevra of hy die eerste Springbok was wat oorsee ’n drie gedruk het. Hy het dit bevestig. In die wedstryd teen Oostelike Middellande in Northampton het hy nie minder nie as vier drieë gedruk.

Maar hy skryf onder meer: ”Ek moet eerlik sê die meeste van my drieë was te danke aan die feit dat hulle vir Bob Loubser (die ander vleuel) so bang was en die verdediging op hom toegespits het.

“Spelers moet so speel dat dit oor 20, 30, 40 jaar nog lekker is om daaraan te dink en daaroor te praat.”

Sowat ’n dekade nadat ek hierdie briefwisseling met Stegmann gehad het, het ek toevallig in ’n kompartement saam met hom beland toe ons per trein na Port Elizabeth gereis het. Ek moes vir Die Volksblad verslag doen van die eerste korttoer-toets (die Springbokke teen Skotland) en Stegmann, wat in 1906 vir Paul Roos se Springbokke teen die Skotte gespeel het, was een van die eregaste by ’n dinee en die toets.

(Ds. Stegmann was in die eerste dekade ná die Tweede Wêreldoorlog die redakteur van die kinderblad, Morelig. Toe het ek die eerste keer bewus geword van “Oom Anton.”)

Vir sekere handtekeninge moet ’n mens baie moeite doen of geduldig wag, maar dit kan ook in jou skoot val.
Dudley Nourse

Otto van Niekerk, vleuel van die WP, wat baie ongelukkig was om nie in 1949 ’n Springbok te word nie, se raad aan my as aspirant-sportskrywer, was:” Onthou net wanneer u ’n rugbywedstryd as verslaggewer moet bywoon, u nooit teen ’n speler te kras optree nie. U moet sy foute op ’n baie mooi en eerlike manier in die berig plaas.”

Tjol Lategan, Springbok-senter, het sy handtekening verskaf en daarby geskryf : “Ondersteun rugby, want dit is die mooiste spel wat daar is.”

Vir sekere handtekeninge moet ’n mens baie moeite doen of geduldig wag. Maar dit kan ook maklik in jou skoot val – soos met my in my tweede jaar by Tukkies gebeur het. ’n Koshuismaat, Bobby Pickard (later ’n regter), het sy handtekeningboekie met bekende name aan my geskenk – soos Bennie Osler, Tony Harris, Dudley Nourse, Denis Shore, Eric Sturgess en selfs die WP en Springbokke se gelukbringer in 1949, Gamat (Ederoos Behardien).

Herman le Roux

Soos ’n mens ouer word, geniet dié stokperdjie minder aandag, maar as rugbyskrywer het ek tog die kans benut om in 1965 oorsese rugbylegendes te handtekeninge te bekom. Soos die Wallabies Wild Bill Cerutti en Aub Hodgson en vier van die oudste lewende All Blacks, naamlik (Billy Wallace (1903-08), Alex McDonald (1905-08), George Nicolson (1903-07) en Bunny Abbott (1905-6).

In Dunedin het ek David Trevathan, losskakel van die All Blacks teen die Springbokke in 1937, in ’n hospitaal in Dunedin besoek en die beroemde All Black-heelagter, George Nepia (1924-’30), in ’n hospitaal op Masterton.

Ek is sportmal, maar het darem ook die handtekeninge van ’n paar beroemde sangers: Erna Sack, Jussi Bjórling, Anne Ziegler en Webster Booth – en die ruimtevaarder Mark Shuttleworth!

  • Le Roux was sportredakteur van Die Volksblad en van Beeld.
Meer oor:  Sport  |  Handtekeninge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.